Boekoorsig: Wees veilig aanlyn

Deesdae leef ons in ‘n wêreld waar feitlik elke aspek van ons lewens aanlyn gebeur. Van ons werk aanlyn, doen besigheid aanlyn, studeer aanlyn, sosialiseer aanlyn, lees nuus aanlyn, luister radio aanlyn, kyk flieks aanlyn, luister musiek aanlyn, vry aanlyn … die lys gaan aan en aan. Ons lees selfs die Bybel aanlyn en woon kerkdienste aanlyn by! Min van ons kan sonder die internet klaarkom – al loer ons net na die weervoorspelling of teken aanlyn aan om toegang tot ons kudde se groeistatistieke te verkry …

Ons leef in ‘n snelveranderende digitale wêreld. Geweldige groot spronge tegnologiese vordering word gemaak en nuwe slimfoontoepassings word konstant vrygestel. Dit voel of ‘n mens heeltyd verwoed moet probeer byhou met al die nuutskeppinge of jy raak agter. En om agter te raak in ‘n wêreld waar feitlik alles op digitale platforms gebeur, beteken deesdae baie maklik dat jy ook uit voeling raak met die arbeidsmark en -tendense, jou vriende en familie, nuusgebeure, ensovoorts.

Hoewel die internet vir baie van ons ‘n onontbeerlike hulpmiddel in ons daaglikse lewe is, is daar ook ‘n baie donker (en meestal ongereguleerde) kant. Daar is vele risiko’s vir gebruikers, soos onder meer elektroniese identiteitsdiefstal, sosiale manipulering (bv. kuberboeliery), kubermisdaad en skadelike programmatuur (virusse). Volwassenes trap dikwels in die slaggate van die kuberruim omdat hulle onnadenkend en onverantwoordelik daarmee omgaan. Dis egter ysigwekkend om te besef dat kinders ook blootgestel is aan al die gevare. Dit is elke ouer se plig om te sorg dat sy of haar kind so weerbaar as moontlik is en dat daar streng reëls geld wanneer dit by internetgebruik kom.

Ek is baie opgewonde omdat Penguin Books pas ‘n broodnodige publikasie getiteld How Not to Mess Up Online vrygestel het. Dit is ‘n uiters nuttige gids vir tieners en hulle ouers om die digitale mynveld veilig te navigeer.

Die uitgewersbrief lui: “How Not to Mess Up Online is the book every teen and parent needs in a world where the internet doesn’t come with training wheels. From AI and deepfakes to sextortion and screenshot scandals, today’s digital dangers move fast – and the law’s still catching up. … Packed with real South African case studies, chaotic cautionary tales and clear legal advice, this guide covers everything from sexting and cyberbullying to scams, plagiarism, privacy and AI-generated nonsense. It’s not about scaring you off the internet – it’s about showing you how to use it without it using you.”

Die skrywers, Emma Sadleir en Rorke Wilson, is ‘n dinamiese duo wat ‘n passie het om veral kinders veilig aanlyn te hou. Emma is ‘n leier op die gebied van sosiale media wetgewing. Sy is ook die stigter van Digital Law Company. Rorke, a Gen-Z, is ‘n medeprofessor by DLC en het ‘n LLB (Hons) verwerf aan Edinburgh University. Hulle skryf op die agterblad: “Together, we break down the legal, emotional and reputational risks of being online – without preaching or sugarcoating it.” En op bladsy 2: “What we are going to do, is to help you form a healthy relationship with your devices and become aware of all the ways an online life can go wrong.”

How Not to Mess Up Online is 188 bladsye lank en beslaan 12 hoofstukke, naamlik: Back to Basics; Context, Tone and Audience – IJBOL; The Platforms; Cyberbullying; Your Health; Sexting; Oh No, Another Opinion On AI; The Deep Web; Lots of Laws; Gaming Speed Run; Shh … Don’t Tell; Your Digital Footprint. Die boek is op ‘n tienervriendelike manier geskryf maar draai nie doekies om nie. Ek as volwassene het reeds al in die eerste bladsye van die boek geleer dat die internet nooit vergeet nie. “It is impossible to completely wipe the digital traces of something from the internet; even if you’re a total tech whizz, there are so many back-ups and so much potential for screenshot that you can never be sure that something is totally gone” (12).

Ek beveel How Not to Mess Up Online heelhartig aan. Dit sal gebruikers toerus om ‘n veiliger aanlyn lewe te geniet en vangstrikke te systap. Geen huishouding behoort sonder hierdie boek te wees nie. Lees ‘n uittreksel hier. Skaf jou kopie by ‘n toonaangewende boekwinkel aan of bestel dit hier.

Kompetisie

Twee KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van How Not to Mess Up Online wen. Skryf hier onder in die kommentaarveld hoekom jy graag ‘n kopie wil wen en dalk is jy ‘n gelukkige wenner. Die wenboeke kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gekoerier word. Sluitingsdatum: 30 November 2025.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

3 Comments

  • Met kinders wat grootword in ‘n wêreld waar alles aanlyn gebeur, is ek gedurig bekommerd oor hulle veiligheid en privaatheid. Ek wil graag hierdie boek wen om myself toe te rus met die kennis om my gesin te beskerm teen die gevare van die kuberruim.

  • Ek sal baie graag hierdie boek wil wen en vir my broerskind gee wat so homself kan beskerm, die kinders is so “trusting” dat dit my bloed laat ys as ek dink hoe “vulnerable” hulle is vir die cyber skelms 🙁 En dan kan hy sy tegnologies gestremde tannie ook help om veilig te probeer bly! 😉

  • Goeie dag

    Ek werk vir ‘n Universiteit en ons moet heeldag spesiale aandag skenk aan ons taalgebruik en kommentaar wat ons op sosial media plaas. As dit vir my as volwassene so groot uitdaging is om uit die sop te bly, kan ek net dink in hoeveel strikke tieners kan beland. Ek sal baie graag goeie raad aan hulle wil gee en die boek sal my beslis bemagtig om dit te kan doen.

    Vriendelike groete
    Sr Marizelle

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui