
Boekoorsig: Dek die tafel
Hierdie kosbare resepteboek het pas by Lig in Duisternis Uitgewers verskyn. Dit is honderd vier en dertig bladsye lank, is propvol heerlike koesterresepte én daar is plek vir jou eie notas. Dek die tafel: bring tydlose resepte byeen word in die voorwoord beskryf as “‘n viering van ons koserfenis, kulturele rykdom en die kosbare herinneringe wat deur generasies oorgedra word”. Op Lig in Duisternis se Facebook-bladsy word die resepteboek voorgehou as “ʼn eerbetoon aan die kos-erfenis van Ons Tuis se bejaardes. Nie net kry jy ʼn versameling van staatmakerresepte nie, maar vir slegs R250 help jy ook om ons bejaardes te versorg.” Wanneer jy dus in hierdie publikasie belê, doen jy nie net ‘n goeie daad nie, maar jy kry ook ‘n wonderlike versameling resepte. Voorwaar ‘n wen-wen-kombinasie as jy my vra.
Ek lees op bladsy 2 dat Ons Tuis bekostigbare en gehalteverblyf bied vir persone ouer as vyf en vyftig jaar. Die eerste Ons Tuis-projek is reeds in 1929 deur mev. Machteld Postmus van Pretoria tot stand gebring. In 1942 het die Hervormde Kerk die bestuur oorgeneem. Tans bestaan Ons Tuis uit agt aftreeoorde wat oor drie provinsies versprei is. “Die verblyfopsies wissel van selfsorgeenhede, insluitend enkel- en dubbelkamers en woonstelkomplekse, tot gespesialiseerde sorg vir persone wat aan Alzheimer se siekte of demensie ly.” Kundiges maak seker dat elke persoon vinnig en maklik inskakel. Die meeste van die Ons Tuis-inwoners is aktief betrokke by hul onderskeie gemeenskappe.
Die Ons Tuis-span verantwoordelik vir die resepteboek, skryf: “Dek die tafel sou nie moontlik gewees het sonder die passievolle betrokkenheid van ons bejaarde inwoners, Ons Tuis se toegewyde personeel, die kreatiewe vennootskappe met Lig in Duisternis Uitgewers, Edge Communications en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nie. Ons is innig dankbaar vir die ondersteuning en samewerking wat hierdie droom ‘n werklikheid maak. Met u ondersteuning, of dit nou deur befondsing of deelname is, dra u by tot die geboorte van hierdie waardevolle resepteboek. Saam verseker ons dat die geure, tradisies en verhale van ons bejaardes nie verlore gaan nie, maar met trots in die huise en harte van die volgende geslag voortleef. Mag hierdie resepteboek nie net ‘n hulpmiddel in die kombuis wees nie, maar ook ‘n bron van inspirasie en herinnering aan die kosbare geskenke van ons verlede.”
Dek die tafel, wat opgesom word as trooskos, onthoukos en erfeniskos, beslaan die volgende afdelings: koekies, koeke, terte, nagereg, soethappies, brode, visgeregte, hoender, groente, soutdisse, beskuit, en slaaie. Pragtige volkleurfoto’s, nie net van die onderskeie geregte nie maar ook van die bydraers, maak van hierdie boek ‘n versamelstuk. So dikwels wanneer ‘n bejaarde sterf, wens die agtergeblewenes dat hulle die tyd geneem het om Ouma of Oupa se trefferresepte neer te skryf. Hierdie resepteboek gee ‘n mens toegang tot gunstelingdisse en -fyngebak wat andersins verlore sou wees.
Ek lys hier drie resepte onder elke afdeling: Koekies (Skurwe Abrahams, Kondensmelkkoekies en Tweekoppie-Crunchiekoekies); Koeke (Eenkoppiesjokoladekoek, Maaskaaskoek en Suurroomkaneelkoek); Terte (Dadel-merinquetert, Pynappelyskastert en Suurlemoentert); Nagereg (Tienminuutpoeding, Koue poeding en Verpleegsterpoeding); Soethappies (Soetlekkers, Dadelvingers en Karringmelkskons); Brode (Tradisionele brosbrood, Volkoringbrood en Glutenvrye mikrogolf-mieliebrood); Visgeregte (Tunakasserol, Sardienbobotie en Kammakreef); Hoender (Mangohoender, Pastoriehoender en Mayonnaise-hoenderpastei); Groente (Kerrieboontjies, Groenmieliekoekies en Patats waaroor skoonma wonder); Ander soutdisse (Tjipskoekies, Korslose spektert en Korslose souttert); Beskuit (Karringmelkbeskuit, Growwe soetmelkbeskuit en Vingerbeskuit); Slaaie (Agurkieslaai, Kerrieslaai en Noedelslaai).
Ek dink die maklikste én heerlikste resep is dié van Jane van Zyl (81) van Ons Tuis Piet Potgieter. Die resep vir soetlekkers benodig slegs drie bestanddele, naamlik jogurt, kondensmelk en tennisbeskuitjies en word binne vier minute in die mikrogolf gemaak. Dit lewer agt tot tien porsies.
Skaf jou kopie van Dek die tafel hier aan. Kontak 012 325 1857 of info@otmt.org vir meer inligting. Lees ook hier meer oor Ons Tuis.
