KragDag ook ‘n Musiekdag
Son en wind – die moontlikhede van alternatiewe selfstandige energie verkrygbaar deur hierdie twee natuurbronne is legio!
Net so ook die verskeidenheid van musiek genres wat ons met KragDag-etensuurkonserte bied. Ons gee graag ‘n bietjie inligting oor twee van die groepe wat gaan optree.
Gunther en Reinhard is twee musikale broers en tuisskolers van Centurion, onderskeidelik 15 en 13 jaar oud. Die Jürgens-familie se tuisskoolreis het reeds in 2013 begin.
Op driejarige ouderdom sien Gunther vir André Rieu viool speel. Net daar verander twee houtlepels in Gunther se eerste viool en strykstok. Op vierjarige ouderdom begin hy met vioolles by Betsie Meyer. In 2015 maak hy kennis met Hendi Krog wat saam met Denise Sutton die UP4Strings-ensemblegroepe lei. Vir 3 jaar neem Gunther vioolles by Hendi. In 2019, op 15 jarige ouderdom, begin hy met vioolopleiding by Denise Sutton.
Reinhard het op 6 jarige ouderdom begin viool speel en neem vir 3 jaar vioolles. In 2015 ontdek hy sy liefde vir kitaar en begin met kitaarles by Creare Training Centre. In 2017 verskuif hy sy fokus na klassieke kitaar toe hy met klassieke kitaar opleiding by Michael Kriek begin.
Die twee broers maak deel uit van die Sounds-@-Home-tuisskoolorkes in 2016.
Die Kunste Fabriek Orkes bied geleentheid aan beide Gunther en Reinhard om hul musiektalent uit te leef en hul sluit by dié orkes aan in 2018. Sosialisering en ander vaardighede word hier aangeleer en ontwikkel deur saam met ander musikante musiek te maak.
Die voordeel van tuisskool vir hulle is dat die passie vir musiek uitgeleef kan word en dat vele geleenthede gebied word om ander talente te ontwikkel. Gimnastiek hou hulle albei fiks en hulle het beide al ‘n paar toekennings ontvang vir drama- en musiekdeelname by onderskeie kunswedstryde.
Gunther en Reinhard geniet dit om saam musiek te maak en tree vir die eerste keer saam op by Kragdag 2018 waarna hulle na verskeie geleenthede genooi word om te speel.
Alhoewel hulle musiekopleiding klassiek is van aard is, is hulle ook lief om tydlose ligte treffers saam te speel. Hierdie is beslis iets waarna julle op KragDag 2019 kan uitsien!
Die naam SingFonix is afgelei van die bekende musiekterm “simfonie”. Die term “simfonie” verwys na ‘n komposisie vir musiekinstrumente terwyl “SingFonix” op musiek dui waarvan die klank (“Fonix”) gesing word (“Sing”).
Gemengde kleiner kore (bv. kamerkore) en klein gemengde sanggroepe is redelik algemeen in die vermaaklikheidswêreld. ‘n Genre wat egter skaarser is en wat ‘n besondere plek in die sangvermaak-omgewing vervul, is ‘n klein stemensemble wat slegs uit mansstemme bestaan.
SingFonix wat sy ontstaan aan die begin van 2017 gehad het is só ‘n sang-ensemble .
SingFonix bied ‘n verskeidenheid van koormusiek te wete gewyde musiek, ligte klassieke musiek, kontemporêre musiek en volksmusiek vanuit Suid-Afrika, sowel as vanoor die hele wêreld.
Hoewel die 12 lede van SingFonix ook by ander sanggroepe betrokke is, is die gemene deler wat hulle saambring hul behoefte om hul Godgegewe sangstemme tot voordeel van elke toehoorder aan te wend. Die musikale boodskap is dié van liefde, geloof, nostalgie en genot.
SingFonix tree graag op by sangfeeste, koorfeeste, konserte, eredienste, ander kerklike geleenthede, aftree-oorde, ouetehuise, ensomeer. Uitreik- en gemeenskapsdiens is vir die groep baie belangrik.
SingFonix staan onder leiding van Dr Riekie van Aswegen, ‘n bekwame en ervare koorafrigter wat al by verskeie bekende kore betrokke was.
In 2018 het SingFonix aan die internasionale World Choir Games se Open Competition deelgeneem, en ‘n Goue Diploma in die Ensemblekategorie verwerf – daarbenewens is hulle ook as kategoriewenners aangewys.
Alhoewel SingFonix in Pretoria gebaseer is, reis hulle met hul musiekboodskap graag na ander stede en dorpe. Geen formele fooi vir optredes word gehef nie, maar enige bydrae word verwelkom om hul kostes te dek en om hulle in staat te stel om met die diens wat hulle lewer voort te gaan.
Besoek gerus hul Facebook-blad vir meer inligting, klankgrepe ensovoorts.
Kontak hulle gerus vir verdere navrae, inligting en besprekings by:
Voorsitter: Cornél Schoombee (Tel: 0828085647 / Epos: singfonix@gmail.com).