Die ontstaan van ‘Ndebele Stoves’

Dit was in 1957 dat Mnr Bob Wolf vanaf Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer het. In 1964 het hy ‘n kleinhoewe in Bronkhorstspruit gekoop wat hy gereeld oor naweke besoek het. Op daardie stadium was Mnr Wolf die Nasionale Direkteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Epilepsieliga (SANEL) in Springs. Die rustigheid van die platteland het hom egter getrek en hy het  toe al reeds besigheidsmoontlikhede in Bronkhorstspruit gesien.

 Gedurende 1984 het hy ‘n winkel wat tweedehandse ware verkoop het in Bronkhorstspruit geopen en gebruikte items soos hardeware, meubels, elektriese toestelle, toerusting, boeke en, soos die spreekwoord lui – van ‘n naald tot ‘n koevoet, begin koop en verkoop. Hierdie onderneming, wat hy ‘Die Hooimied’ genoem het, was op die hoek van Cathie- en Kerkstraat geleë.

In 1985 het Mnr Wolf permanent na Bronkhorstspruit verhuis en in 1989 het sy seun, Herman ook tot die besigheid toegetree. Op daardie stadium het hulle alreeds ‘n paar ou koolstowe verkoop en die publiek se belangstelling in hierdie stowe het Herman se gedagtes geprikkel. Hy het na maniere begin soek om meer van hierdie stowe in die hande te kry. So het hy van sy werknemers ‘n kommissie betaal om ou koolstowe te soek. Vandag het hy verskillende spanne landswyd wat ou stowe soek, opkoop en dan na Bronkhorstspruit vervoer.

‘n Ander besigheid is in 1992 begin met die naam van ‘Ndebele Stoves”. Hierdie onderneming is in die lewe geroep met die uitsluitlike doel om koolstowe op te spoor en op te knap. ‘Die Hooimied’ is na ‘Ndebele Meubels’ herdoop waarna Bob die ou, klein geboutjie by Kerkstraat 24 gekoop het.

Ndebele Meubels is in twee gedeeltes verdeel naamlik die bestaande tweedehandse winkel-gedeelte en ‘n nuwe gedeelte wat gefokus het op houtprodukte, en die vervaardiging van houtartikels soos hondehokke, houtbrûe, heinings en hutte.

So het Ndebele Meubels gegroei, van twee personeellede in 1984 tot twaalf in 2005. Herman se besigheid, Ndebele Stoves het ‘n eie unieke projek geword, vandag waarskynlik enig in sy soort in die wêreld.  Hy het in 1991 ‘n kleinhoewe buite die dorp gekoop waarheen al die ou koolstowe vervoer is om uitmekaar gehaal en daarna opgeknap te word. Daar het toe ‘n probleem ontstaan deurdat daar ‘n tekort aan onderdele was en hy moes ‘n innoverende plan maak, want hierdie stowe is nie meer vervaardig nie. So het hy in 1996 met ‘n eie gietery begin wat hom in staat gestel het om nie net ‘n groot verskeidenheid onderdele te vervaardig nie, maar ook ‘n aantal koolstowe van nuuts af. Daarvoor moes hy sy eie gietvorms ontwerp en bou. ‘n Groot verskeidenheid bybehore en bykomstighede vir die koolstowe het ook gevolg.

Net soos met antieke meubels, het koolstowe ook gesogte versamelstukke geword. Hulle word in huise en lapas gebruik vir verhitting, waterverwarming en ook vir kookdoeleindes. Die ‘ambiance’ en atmosfeer wat hierdie stowe skep, onderwyl bykosse gemaak word en heerlike vars brood in die oond gebak word dra, by tot ‘n outydse nostalgie. Geen wonder dat koolstowe weer hoogmode word nie.

Koolstowe en onderdele word deesdae landswyd versprei en bestellings word selfs van oorsee ontvang. Bostaande inligting is verkry vanuit die boek:  ‘100 Years from Erasmus to Bronkhorstspruit’ deur die skrywers Neels & Rita Pohl

Vir die van julle wat wonder wat na 1996 gebeur het …

Herman en sy twee seuns Bob en Morris doen hulle bes om hierdie unieke familiebesigheid uit te bou. Bob senior en sy vrou Loutjie is afgetree en woon in die Wes-Kaap. Ndebele Stoves het ook vele ander stowe ontwerp, genoeg om ‘n hele nuwe reeks stowe te begin soos gesien kan word op die Ndebele Stoves webblad. Daar is ook nou ‘n hele aantal handelaars landswyd wat ‘Ndebele Stoves’ se koolstowe verkoop. Ndebele Meubels word nou ‘Ndebele Appliances & Coal Stoves’ genoem. Al hulle stowe word in hulle winkel (steeds by Kerkstraat 24, Bronkhorstspruit) aan die publiek ten toon gestel om te koop.

Vertaal deur Deon Vosloo

 

5.00 avg. rating (97% score) - 4 votes

One Comment

  • Sal graag n katalogus wil hê met produkte en pryse.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui