Vergenoegdheid: Tyd om af te skaal?
Ek het onlangs ’n meme op Daily Inspirational Quotes op Facebook gesien wat my diep laat nadink het. Die Engelse bewoording lui: “The most beautiful things in life are not materialistic things. They’re people and places, memories and pictures. They’re feelings and moments, tight hugs, smiles and laughter.” Ek weet nie wie die skrywer is nie, maar dat dit ’n wyse person is, is gewis.
Die hedendaagse mens is so geneig om die materiële na te jaag. Ons heg ons waarde aan hoeveel geld en besittings ons het. Hoe blinker iemand se motor en hoe groter sy huis hoe meer suksesvol is hy, reken ons. En dan jaag ons hierdie illusie na, min wetend dat hulle wat in die einste blink motors ry en in die groot huise bly, ook maar nooit voel hulle het nou alles wat hulle harte begeer nie. Daar is immers altyd ’n blinker voertuig en ’n groter huis as joune.
Onvergenoegdheid is een van die redes waarom so baie mense vrot van die skuld is en van salaristjek na salaristjek moet leef. Ons wil altyd meer en beter en nuwer hê. Die gras lyk altyd groener aan die ander kant van die draad. Die mededinging is straf en meedoënloos. Dis selfone en lugtyd en rekenaars en brandstof en vakansies en skoolgeld.
Ons yskaste en koskaste en klerekaste is vol goed wat ons nie kan bekostig nie, maar onsself oortuig het ons móét hê.
’n Persoon merk ’n ruk gelede op hy is so moeg van al die “dooie goed” wat hy so vergader het. Alles ’n voortdurende gejaag na wind. Hy werk homself byna keduks om hierdie blink en beter en nuwe goed te betaal. Hy het, ten spyte van sy oordaad besittings, geen rus of duurte nie en moet sorg dat hy die pas volhou. Sy vrou en kinders het dieselfde
mentaliteit as wat hy tot op hierdie stadium gehad het. Hulle wil ook hê wat ander het en verkieslik meer en nuwer en beter, dankie. Hy is nie in tel by sy vriende en kollegas indien hy nie sy hand diep in sy beursie druk en betaal nie. En wie wil nou suinig of arm lyk?
Hy het besluit om halt te roep nadat sy pa onlangs oorlede is. Dié is sonder sy kredietkaart, blink motor en groot huis in sy kis neergelê, gestroop van alle aardse dinge. Hy was dood en kon niks van sy rykdom saam met hom in die graf neem nie. En al sou hy sy kis vol goud en diamante kon pak, sou dit vir hom van geen nut wees nie. Dis nou nie asof
hy daarmee vir hom ’n plek in die hemel kon koop nie. Sy pa het nooit vir homself gevra wanneer is genoeg genoeg nie. Hy is oorlede omdat hy onvergenoegd was en homself so gedryf het om blinker en beter en nuwe goed te kan koop dat hy vergeet het om sy gesondheid op te pas. En op die ou einde kon selfs die duur mediese fonds en uitstekende gesondheidsorg nie eens die skade aan sy hart omkeer nie.
Sy pa is dood sonder dat hy die dinge in die lewe wat wérklik ewigheidswaarde het, gekoester het. Dinge soos liefde, empatie, opregte belangstelling en kwaliteit saamweestye met sy vrou en kinders en agterkleinkinders. Sy nalatenskap is materiële goed wat sy erfgename mettertyd gaan verkwis, maar hy laat niks aan sy geliefdes na wat hulle emosioneel of geestelik ryker kon maak nie. Hy was eintlik maar vir hulle ’n vreemdeling. Die werkesel wat in hulle aardse behoeftes voorsien het, maar nooit tyd gehad het vir hartsgesprekke nie.
Die seun het uit sy pa se tragiese voorbeeld en afsterwe geleer. Hy het besluit om af te skaal, minder te maak en eenvoud na te streef sodat hy meer tyd kan hê om by dít uit te kom wat régtig saak maak – sy vrou en kinders se harte. Groot was sy skok toe hy leer dat sy oudste seun sukkel om op te hou om na pornografie op sy foon te kyk en dit selfs al oorweeg het om ’n einde aan sy lewe te maak omdat hy so vuil en skuldig voel. Sy enigste dogter het haarself in die geheim gesny in ’n poging om verligting van haar emosionele pyn te kry nadat haar maats haar begin kuberboelie het. Sy vrou was op die punt om hom te verlaat vir ’n ander man.
Hy is gelukkig. Hy kon hierdie dinge betyds agterkom en begin verantwoordelikheid neem vir sy gesin se emosionele en geestelike welstand. Net deur meer beskikbaar te wees, vir homself meer tyd te gun om sy vrou en kinders te raak te sien, te koester en waardeer, loop hulle as gesin nou saam op ’n herstelpad en daar is hoop. Dit beteken wel hulle moet met minder blink en nuut en beter klaarkom. Maar hulle het mekaar, en dis al wat saak maak.
Is dit tyd dat jý ook afskaal voordat dit te laat is?
Wanneer is genoeg uiteindelik genoeg?