Hoe SEB ek my boerdery? (Paneelbespreking)
Terwyl Dawie Roodt waarsku dat die 2024 staatsbegroting dui op toenemende vernietiging – van sleg na slegter – in die komende vyf jaar, meen Piet le Roux dat plattelandse gemeenskappe nie net kan oorleef nie, maar ook floreer. Staatsverval bied ‘n historiese geleentheid: om in die volgende dekade die staat se rol in die ekonomie te herdefinieer, van onder af. Dan vestig ons die strukturele voorwaardes vir ‘n florerende ekonomie, maak nie saak wie die regering is nie. Le Roux waarsku egter teen ‘n Derde “golf” Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat besig is om besighede te belemmer en uiteindelik te verbied om sake te doen tensy hulle hulself eers aan SEB-monitering en BEE-teikens onderwerp. Uitvoerplase is reeds deur SEB-kriteria getref. Laat verlede jaar, is SEB-kriteria gestel vir tariefvoordele vir sekere produkte wat na die EU en die VK uitgevoer kan word. Terwyl SAAI, TLU SA en Sakeliga groot stof daaroor opgeskop het, het Agri-SA, Wine SA, Hortgro en Agbiz gesê dat dit niks nuuts is nie, en weinig impak op die bedryf sal hê. Nou wil boere weet: Hoe SEB ek my boerdery?
Bennie van Zyl (TLU), Theo de Jager (SAAI), Lennox Plaatjies (PALS) en Jannie Strydom (Agri Wes-Kaap) het hierdie temas in die kopskuifateljee gepak. Almal het saamgestem dat die regering se benadering verkeerd is en dat daar alternatiewe vir die staat se ideologies gedrewe transformasie-agenda is.
Bennie van Zyl meen dat ekonomiese bemagtiging nie vanuit ‘n ideologiese oogpunt benader kan word nie.
Volgens van Zyl dreig die ideologie agter SEB om boerdery-instellings heeltemal te vernietig. Indien hierdie ideologie uitgevoer word, sal Suid-Afrika se landboubedryf binnekort in die toestand van die meerderheid van staatsinstellings wees – bankrot en vervalle. Van Zyl meen SEB-ideologie hoort nie in landbou nie. Eerder bloot ekonomiese bemagtiging. “TLU wil sien dat mense billike geleenthede gegun word om die ekonomie te laat groei. Die ekonomie groei nie uit ideologie nie.” het hy gesê.
Jannie Strydom het van Zyl se woorde beaam: “Ons stem saam dat landbou maklik op die doodloopstraat van staatsinstellings kan beland. Ons ondersteun volhoubare transformasie, maar dit moet in die regte manier benader word.”
Theo de Jager het die morele dilemma rondom SEB beklemtoon, veral wanneer familieboerderye ter sprake is: “Dit is nie regverdigbaar dat ‘n wit boer hierdie blokke om sy bene het, maar ‘n swart of bruin boer, is vry daarvan nie. Dit is nie reg om hierdie aan jongmense te doen nie. Dit is belangrik vir almal in ons land vir swart boerdery om winsgewend te wees, maar nie ten koste van ‘n ander boer nie. Daardie benadering is heeltemal verkeerd.”
Lennox Plaatjies het verduidelik dat sy organisasie al sedert 2015 saam met wit en swart boere aan ‘n raamwerk vir transformasie werk. “Daar is baie jong swart en bruin boere wat vermoë het om suksesvol te wees. Beide inklusiwiteit en meriete is belangrik. Bekwame jong boere is noodsaaklik om hierdie tipe hervorming ekonomies lewensvatbaar te maak.”
Kyk die gesprek HIER op Facebook.