
Veiligheid oor Kerstyd
Dis daardie tyd van die jaar wanneer talle mense wat ‘n hardwerkende jaar agter die rug het, graag wil afsaal en so bietjie ontspan voor die nuwe jaar in alleryl begin. Hoewel nie almal van ons so gelukkig is om met vakansie te kan gaan nie, voel baie van ons tog asof ons die las op ons skouers vir ’n wyle kan afhaal en ons skoene in die gerief van ons eie huis kan uitskop.
Maar wees bedag daarop dat elke skelm, kroek, dief, rower en tsotsi oor hierdie tyd hulle tande slyp vir wat joune is. Anders as jy rus hulle nie oor die Kersseisoen nie, maar vryf hulle hande ywerig teenmekaar by die gedagte dat jy tien teen een minder waaksaam as gewoonlik gaan wees en dus ’n maklike teiken sal uitmaak.
Hulle weet goed dat mense dié tyd van die jaar geld op duur geskenke spandeer. Ook dat daardie geskenke alte gerieflik op een plek (onder die Kersboom) gehou word. En natuurlik weet hulle presies in watter vertrek van Kersfeesvierders se huise die Kersboom staangemaak is, want jy spog immers met die kleurvolle liggies sodat die hele straat saam met jou in ’n feestelike stemming kan verkeer. Natuurlik sluip hulle ook in winkelsentrums rond en weet dus wat jy koop. As dit iets is wat hulle graag wil hê, kan hulle jou bloot huis toe volg. Dis nou indien hulle jou nie van die pad af dwing en op jou inkopies beslag lê nie. Of dalk wag hulle totdat jy ewe houtgerus saam met kuiergaste om die braaivleisvuur en swembad ontspan voordat hulle toeslaan, want hulle skrik lankal nie meer vir getalle nie. Hierdie opportunistiese kriminele het net één doel voor oë en dit is om ten alle koste te vat wat hulle wil hê.
Moenie vergeet om oor hierdie Kerstyd jou en jou geliefdes se veiligheid as prioriteit te sien nie. Ontspan gerus en geniet die samesyn en feestelikhede, maar gebruik jou gesonde verstand. Wees te alle tye waaksaam en oplettend. Wees weerbaar en bedag daarop dat ons in ’n uiters gewelddadige land bly en dat daar diegene is wat ’n lewe maak uit misdadigheid. Moenie dit vir hulle maklik maak om jou as ’n potensiële slagoffer te eien nie.
Hier volg net ’n paar wenke oor hoe jy jou veiligheid tuis oor Kerstyd kan opskerp:
- Móét jy winkels toe gaan om inkopies te doen? Koop aanlyn en laat lewer dit af.
- Hou jou kredietkaart te alle tye in sig en wees uiters versigtig wanneer jy onttrekkings by OTM’s moet doen.
- Is dit nodig om ál jou kaarte in jou beursie saam te dra? Hou net die kaarte wat jy op jou inkopietog of uitstappie sal nodig kry byderhand.
- Moenie waardevolle items oop en bloot in jou voertuig laat lê nie.
- Moenie lang gesprekke op jou foon in jou voertuig of in die winkels hê nie. Dit trek jou aandag af van jou onmiddellike omgewing.
- Moenie jou inkopies adverteer deur hulle verpakking saam met die vuilis uit te sit nie.
- Kan skelms by jou huis insien? Maak jou gordyne of blinders toe voordat jy saans ligte aansit.
- Weet wie jou bure is en kyk uit vir mekaar.
- Het jou buurt of straat ’n WhatsApp-groep? Rapporteer enige verdagte persone of voertuie daarop en of skakel die polisie.
- Maak seker dat jou huisalarm, veiligheidkameras, paniekknoppies en sensorligte werk.
- Weet hoe om jou kluis blitsvinnig oop te maak as dit moet.
Wees te alle tye veilig en paraat en geniet die Kersseisoen saam met jou geliefdes.