Dag- en jaarbeplanners vir 2024

Met 2024 net om die draai, is dit beslis ’n goeie idee om jaar- en dagbeplanners as Kersgeskenke vir jou geliefdes te gee. Hierdie bedagsame presente sal die ontvangers help om boek te hou van daaglikse aktiwiteite, afsprake en prioriteite. Dis nou sowaar blyke van waardering wat die hele jaar sal hou. Mens wil mos graag dagboek hou van jou doen en late asook lysies, aantekeninge en notas maak van en oor jou planne en werksaamhede. Bo alles is fisieke dag- en jaarbeplanners baie meer persoonlik as hulle elektroniese eweknieë en ná afloop van die jaar kan mens dit bêre as ’n kosbare memento van jou lewensjaar.

Ek het na ’n paar dag- en jaarbeplanners vir 2024 gaan kyk en deel dit graag hier met KragDag-lesers. Diegene wat graag hulle eie ding doen en ’n onafhanklike leefstyl nastreef, het beslis dag- en jaarbeplanners nodig om behoorlik tred te hou van hulle daaglikse aktiwiteite, want kophou en behoorlike beplanning is noodsaaklik.

Ek beveel die onderstaande dag- en jaarberplanners heelhartig aan.

Professionele jaarbeplanners

CUM Boeke publiseer hierdie A4-grootte 2024 professionele jaarbeplanners met omslae van kunsleer. Die jaarbeplanners beslaan ’n bladsy per dag vir afsprake, gerieflik verdeel in halfuur sessies. As bonus het dit ook ’n Bybellees-plan indien jy die Bybel in ’n jaar wil deurlees.

Hier volg ’n paar ekstra kenmerke van hierdie omvattende jaarbeplanners soos deur die uitgewer verskaf: ’n 12-maande-dagbeplanner (Jan. 2024 tot Des. 2024); ’n Bybelvers vir elke dag; onderaan elke dubbelbladsy is ’n mini-2024-jaarkalender; ’n maandbeplanner en begrotingsbladsy; ’n lys openbare vakansiedae, internasionale skakelkodes en ’n omrekeningstabel; ’n jaarbeplanner vir 2024 en 2025; plek vir notas, adresse en telefoonnommers en persoonlike inligting; teksverse vir spesifieke behoeftes, en beplanningsbladsye vir Januarie 2025.

Gaan loer hier en hier hoe hierdie jaarbeplanners binne-in lyk.

Dagbeplanners

Ek het ook die onderstaande twee 2024 dagbeplanners onder oë gehad wat CUM Boeke uitgee en wat dus geskik is vir die Christen-gebruiker. Ek hou daarvan dat albei hierdie dagbeplanners van kunsleer kan toerits, so enige los papiere of items wat jy binne-in wil bêre sal nie uitval nie.

Die stylvolle tweekleurdagbeplanner vir vroue, Sy genade is genoeg (2 Kor 12:9), word deur CUM Boeke uitgegee en beskik oor ’n weekbeplanner van Augustus 2023 tot Januarie 2025. Dit spog ook oor die volgende kenmerke soos deur die uitgewer verskaf: plek vir weeklikse gebedslysies, prioriteite en notas; plek vir persoonlike inligting en kontaknommers; ’n beplanner vir elke maand, asook plek om doelwitte, verjaarsdae en belangrike datums neer te skryf; kalenders vir 2024 en 2025; lys openbare vakansiedae, Standaardafmetings en omrekeningstabelle; internasionale skakelkodes en tydsones; teksvers en aanhaling vir elke week; teksverse vir spesifieke behoeftes; kunsleer-omslag met rits; 244 tweekleur bladsye, en ’n merklint.

Gaan loer gerus hier hoe die dagbeplanner binne-in lyk.

Die 2024 Angus Buchan-dagbeplanner word ook deur CUM Boeke gepubliseer en sal byval vind by diegene wat graag hulle dag met God begin en sy leiding soek. Die 12-maande dagbeplanner sentreer rondom Spreuke 3:6: Hy wys jou die regte pad. Jy kan jou eie tye vir afsprake invul op die bladsy per dag. Die dagbeplanner beskik ook oor die volgende kenmerke soos deur die uitgewer verskaf: bemoedigende teksverse en inspirerende aanhalings deur Angus Buchan; genoeg plek vir notas, adresse, telefoonnommers, persoonlike inligting en doelwitte vir die jaar; ’n lys openbare vakansiedae, omrekeningstabelle, en internasionale skakelkodes en tydsones; ’n jaarbeplanner vir 2024 en 2025; ’n maandbladsy vir elke maand om verjaarsdae, herdenkings of sperdatums aan te teken; 100 inspirerende beloftes uit die Woord, en eenkleur-drukwerk.

Gaan loer gerus hier hoe die dagbeplanner binne-in lyk.

Dan het ek ook die volgende twee dagbeplanners onder oë gehad wat Struik Christian Media uitgee. Heel eerste is daar die hardeband Christen-leefstyl dagbeplanner vir die vrou 2024. Dit is ook die dagbeplanner wat ek in 2024 sal gebruik, want dit bied oorgenoeg skryfspasie en is vol inspirerende aanhalings, wyshede en oordenkings. Dit spog ook met die volgende kenmerke soos deur die uitgewer uitgewys: stylvolle volkleur-insetsels met pragtige fotografie; inspirasie vir elke maand; openbare vakansiedae en skoolkwartale vir Suid-Afrika, Namibië en Botswana; jaarbeplanners en kalenders vir 2024 en 2025; maandkalenders; ’n bladsy per dag met plek vir afsprake en prioriteite; ekstra bladsye vir persoonlike notas en adresse, en ’n merklint.

Gaan loer gerus hier hoe die dagbeplanner binne-in lyk.

Laaste maar nie die minste nie, is daar die hardeband 2024 Nina Smit-dagbeplanner vir die vrou. Wyle Nina Smit het natuurlik geen bekendstelling nodig nie, aangesien sy welbekend was vir haar inspirerende dagstukkies. Haar maandstukkies en daaglikse aanhalings is vol wyshede en laat mens diep nadink oor jou verhouding met God. Die dagbeplanner sluit die volgende kenmerke in soos deur die uitgewer verskaf: openbare vakansiedae en skoolkwartale; jaarbeplanners en kalenders vir 2024 en 2025; maandkalenders met plek om persoonlike doelwitte neer te skryf; ‘n bladsy per dag met spasie vir afsprake, doenlysies en notas, en bladsye vir persoonlike notas en adresse.

Gaan loer gerus hier hoe die dagbeplanner binne-in lyk.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ’n beplanner wen. Die pryse kan eers ná die eerste week in Januarie versend word en slegs na ’n Suid-Afrikaanse adres.

Vertel hier onder in die kommentaarveld waarom jy graag ’n beplanner sal wil wen en wie weet, dalk is jy ’n gelukkige wenner.

Sluitingsdatum 29 Maart 2024.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

11 Comments

  • Ek dink die jaar beplanner kan ons help om ‘n suksesvolle jaar te kan beplan en ook om teweet wanneer elke mark en ekspo gebeur sodat ons 2024 ons beste jaar ooit te kan maak en dankie vir die geleentheid om iets soos ‘n jaar beplanner te kan wen in samewerking met Kragdag en Nina Smit. Dankie weereens vir die geleentheid.

  • Ek is 71jaar en werk steeds. Ek het n dagbeplanner nou meer nodig as ooit! Moet neerskryf wat werk, dogter en haar familie in Australie, alle aktiwiteite in aftree oord en my familie van my verwag!
    Wie het gese aftreetyd is still
    en geen dagbeplanner is nodig??

  • ’n Dagbeplanner is vir my ’n tweede geheue wat my help om my “doen-en-late” elke dag suksesvol en met nougesetheid afgehandel te kry om aan my roeping as mens soos dit in die Bybel staan;

    Kolossense 3 : 23 – 24.

    23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
    24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.

  • So ‘n Dagbeplanner is net wat ek nodig het om my maande in 2024 te beplan, en van boek te hou. Veral met Nina Smit se inspirasie-gedagtes wat ‘n mens moed en krag gee vir elke dag!

  • Ek wil graag n dagbeplanner wen, want my dag kan ni sonder die Here begin ni, my dagstukkie kan my help om my deur die dag te bring om na te dink oor my dag versie.

  • Om te beplan en ‘n “te doen lys” te hê is soms langdradig of oorweldigend. ‘n Beplanner te wen sal die dof in die taak in kleur verander en mens sommer opgewonde maak oor mens se lysies en dinge. Dis mooi en lekker om mooi dinge te kan gebruik. So ‘n beplanner sal net shanana wees. ‘n Voorreg.

  • Ek wou al lankal ‘n dagbeplanner aanskaf omdat ek gereeld iets neerpen op los papiertjies, net om weer daarna te soek…

  • Ek is mal oor dagboeke, beplanning & organisering. Ek het heelwat dagboeke wat ek oor jare verpersoonlik het. Dis vir my altyd lekker wanneer ‘n dagboek prakties is maar ook uniek van my spreek – dis ietsie van myself oorgedra.

    Ek sal so ‘n bederfie werlik waardeer wn gebruik.

  • Ek is n afgetrede onderwyseres wat as vrywilliger help by n plaasskool wat onder die Departement van Onderwys val. Die dame wat as die hoof van ons vrywilligers dien, is by soveel projekte betrokke dat ek graag vir haar die boek wil gee.

  • Dankie vir die voorreg om miskien as een van die wenners van jul dagbeplanners gekies te mag word. Ek is byna 67 jaar oud en die kop onthou nie altyd so lekker nie. In die dagbeplanner kan ek alles neerskryf en sodoende alles “onthou”.

  • Ek absoluut lief Nina se boeke en beplanners, so baie om te onthou, my onthou, onthou nie meer nie, dankie vir die geleentheid om in te skryf

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui