
Vakansieleesstof vir kinders

Die lang Desembervakansie is voor die deur. Pak gerus leesstof in die kinders se koffers indien jou gesin gelukkig is om te kan uitsien na ’n luilekker wegbreek. Vir dié van ons wat maar met Jan Tuisbly se karretjie moet aanpiekel, wag daar ook stapels leesplesier. Hier onder gee ek elf voorstelle vir kinder- en jeugboeke wat ’n boekwurmgesin gerus maar kan aanskaf. Lekker lees!
Boeke vir voorskolers
Hierdie opvoedkundige verf-en-leer-boeke sal kinders ure lank vermaak. Verf en leer 123 en Verf en leer kleure (Human & Rousseau) is geskryf deur Elizabeth Golding, geïllustreer deur Carlo Beranek en vertaal deur Ruchelle Lombard. Op elke bladsy is versteekte prente wat kinders moet soek en tel of die kleure leer ken. Hulle verf dan met water (die kwassies kom saam met die boeke) oor die wit agtergrond en kleur verskyn asof uit die niet. Ná ’n paar minute verdwyn die kleur weer. Kinders kan die prente dus herhaaldelik gebruik en hulle in die pret verlustig sonder om te mors.
Boeke vir laerskoolkinders
Die beste raaiselboek deur Heidri Mittendorf en illustreerder Tumi K. Steyn (LUCA) bevat speletjies wat die kroos se brein sal laat bollemakiesie slaan. Die aktiwiteitsboek is vol prettige uitdagings soos blokraaispeletjies, syferspeletjies en raaisels.

50 Beste Bybelbreinblokkies deur Heidri Mittendorf en illustreerder Elanie Bieldt (LAPA) beslaan meer as vier dosyn blokkiesraaisels, woordsoeke en –speletjies. Nie net sal dit kinders se taalvermoëns ’n hupstoot gee nie, maar dit skerp ook hulle Bybelkennis op.
Lekkerlag-pretboek deur De Wet Hugo en illustreerder Tumi K. Steyn (Human & Rousseau) is tjokkenblok vol grappe, kopkrappers, feite, rympies en speletjies. Dit is interessant en ook skreeusnaaks. Die kinders sal reeds in die motor vir mekaar vrae soos die volgende vra: Waar gaan tree ou muise af? Wie is die armste bankrower van alle tye? Op watter vraag kan jy nooit “ja” antwoord nie?
Die Kinders van die gode-reeks deur Antoinette Venter en illustreerder Theodore Key (Protea Boekhuis) is gelaai met aksie, skaterlaghumor en fantasie. Die geheim van die bloedsteen speel af in Antieke Rome toe ’n seun van Benoni teen ’n skrikwekkende draak te staan kom om Pompeij van algehele verwoesting te red. Die profesie van die bloedpêrel speel af in legendariese Atlantis toe ’n meisie van Jeffreysbaai ’n seemonster trotseer om die eiland van ondergang te red.
Boeke vir hoërskoolkinders
Toe als groen was deur An-Mari do Carmo (LUCA) is gebaseer op ware gebeure. Ná jare van breinspoeling, manipulasie en streng reëls besluit Marné om uit die kloue van die Sending te ontsnap en na haar tannie op Klerksdorp te vlug. Sal sy daarin slaag om ’n doodnormale meisie in ’n gewone skool te wees?

Dit het alles begin by ’n hond deur Annelie Ferreira is die waardige wenner van LAPA se jeugromankompetisie. Hierdie moderne storie meng realiteit en fantasie en handel oor vier tieners wat elkeen swaar aan ’n geheim dra. Maar dan raak hulle lewens onverwags verstrengel.
Absoluut Einstein deur Christien Neser (Tafelberg) volg op die gewilde Amper Einstein. Die unieke storie werp die kollig op diegene met spesiale behoeftes. Die adjunk-hoof sonder Dylicia uit om ’n nuwe seun te help inskakel. Micha is hoogfunksionerend outisties en superslim. Hy neem Kuns en Robotika soos sy. Net jammer die Einsteins van die wêreld wen nie pryse as boyfriend van die jaar nie.
Die vlerke van naaldekokers deur Cecilia Steyn (Human & Rousseau) handel oor Kylie wie se lewe uitmekaargeruk is deur ’n ongeluk. Haar jonger sussie sterf en Kylie verloor haar linkerhand. Haar eksentrieke oupa, ’n skrywer, en sy assistent, ’n student, nooi haar op hul reis na Kaapstad. Sy besluit om saam te gaan, al is dit net om die items op haar oorlede sus se emmerskoplysie af te merk. Sal Kylie weer haarself vind en heelword?
Ons gaan hierdie vakansie lekker visvang langs die dam. Boekpak 2 sal ek baie graag wil wen om my besig te hou deur die vakansie
Ons Theunissens gaan die vakansie op die plaas in die Karoo bly, hier waar ons tans woonagtig is,met die droogte wat weer kop uitsteek, voer ons weer. Maar ons gaan dit lekker maak, koekies bak vir ons plaaskinders en dit saam met hulle versier. Vroeg opstaan en laat middag op die berg braai en kyk hoe die son oor die karoo sak. Ons gaan soveel memories maak, dit gaan DIE beste vakansie wees!
Boek pakkie nr 2 is hoog op die lys
Hallo Adriana. Baie geluk! Aangesien Boekpakkie 2 en 3 reeds gewen is, wen jy Boekpakkie nommer 1. Ek kontak jou binnekort per e-pos. Groete.
Hierdie vakansie bly ons by die huis, want daar is baie diere wat gevoer moet word. Ek hou van lees, maar kan nie boeke by biblioteek uitneem nie, want dit stelsel is afgelope paar weke al af. Ek sal baie van pakkie 2 hou.
Hierdie Kersfees is ons DV almal saam in ons seehuisie: ek en my man en ons 3 getroude dogters met hulle gesinne. Ons het 7 kleinkinders! Daar gaan gespeel, gesels, geswem visgevang en gebraai word en ja: Ouma gaan elke aand vir die kinders stories vertel en lees! Boekpakkie 2 sal baie help
Boekpakkie 2 groot asseblief.
Hallo Hannes. Baie geluk! Jy wen Boekpakkie nommer 2. Ek sal jou binnekort per e-pos kontak om reëlings te tref. Groete.
Ons bly met Jan Tuisbly se karretjie en kuier met familie. Later gaan kamp ons waar daar nie sein is nie, ‘n perfekte tyd om Boekpakkie 3 te lees.
Boekpakkie 3 asb.
Ons ry hierdie vakansie met Jan Tuisbly se karretjie en kuier met familie. Later gaan kamp ons waar daar nie sein is nie, die perfekte plek om Boekpakkie 3 te lees.
Boekpakkie 3 asb.
Hallo Marieta. Baie geluk! Jy wen Boekpakkie nommer 3. Ek reël dat jou prys aan jou gestuur word.