Waterveiligheid die vakansie
So saam met die goeie reëns wat die afgelope ruk oor dele van ons land geval het, het berigte van verdrinkings ook ingestroom. Dieselfde gebeur vakansietye wanneer mense lafenis soek in die see, riviere, kanale en damme en dan in die moeilikheid raak in die water.
Ouers behoort met hulle kinders ’n gesprek oor waterveiligheid te hê nog voordat daar met vakansie gegaan word. Natuurlik moet ouers ook ’n voorbeeld stel deur waterveiligheidreëls te respekteer en toe te pas. Dit is ook ’n goeie idee om ’n basiese kursus in noodhulp te volg en te leer hoe om ’n drenkeling se lewe te red.
Moet in geen omstandighede kinders sonder toesig alleen laat naby water nie. Nie eens vir ’n oomblik nie. Ook nie eens as hulle kan swem of goedgekeurde dryfmiddels dra nie. Eintlik behoort niémand alleen te gaan swem nie, want mens kan om verskeie redes in die moeilikheid beland al is jy hóé ’n sterk swemmer. As jy al ooit ’n kramp in die water gekry het, sal jy verstaan.
Dis ’n goeie idee om kinders so jonk as moontlik in te skryf vir swem- en selfreddingklasse sodat hulle kan leer om op hulle rûe te draai en te dryf in ’n noodsituasie. Onthou, ongelukke gebeur in ’n oogwink! Los jou foon en boek en fokus op jou kinders in die water. Drenkelinge roep nie noodwendig om hulp nie, want hulle is te dalk desperaat besig om asem te probeer kry.
Hier volg slegs ’n paar wenke om waterslim te wees:
Waterveiligheid om die huis
- Moenie enige houers met vloeistof in oop los nie.
- Dromme wat geutwater opvang moet bo toe wees.
- Die swembad moet volgens wet omhein en die hek gesluit wees.
- Trek ’n veiligheidsnet of –seil wat aan veiligheidstandaarde voldoen oor die swembad en installeer ’n swembadalarm.
- Sorg dat die visdammetjie, voëlbadjie en fonteintjie veilig is en daar nie ander oop poele water of slote is nie.
Waterveiligheid om ’n swembad
Leer jou kind:
- Ek hardloop nie om die rand van ’n swembad nie.
- Ek stamp niemand in die water nie.
- Ek druk niemand se kop onder water nie.
- Ek eet of kou nie iets wanneer ek in die water is nie.
Waterveiligheid by die see
Leer jou kind:
- Ek dra ’n reddingsbaadjie wanneer ek op rotse klouter, want ’n brander kan my afstamp.
- Ek dra ’n reddingsbaadjie wanneer ek op ’n boot of waterponie ry.
- Ek hou die lewensredders se vlaggies dop en bly binne die afgemerkte swemarea.
- Ek gehoorsaam die lewensredders se bevele en luister as die fluitjie blaas.
- Ek hou diegene wat met lyfborde en branderplanke in die water baljaar dop sodat ek nie per ongeluk getref word nie
Waterveiligheid by riviere en damme
- Ek duik nie in die water in voordat ek weet dis absoluut veilig nie.
- Ek dra ’n reddingsbaadjie selfs al ry ek net op ’n roeibootjie.
- Ek weet dat daar strome, boomstompe of waterplante onder die oppervlak kan wees wat ek nie kan sien nie.
Leer kinders ook hoe om te sein dat hulle in die moeilikheid is en hulp nodig het.
Laai gerus hier ’n gids oor waterveiligheid af.