Swaard of septer?
Wanneer oor burgerlike ongehoorsaamheid gepraat word na die soveelste insident van politieke magsmisbruik, word daar keer op keer verwys na Romeine 13: ”Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is…” Slegs die blote verwysing na hierdie teksgedeelte bring die gesprek vinnig tot ‘n einde. Sommiges is tevrede dat daar nou duidelikheid oor die saak is, terwyl ander weer voel dat so ‘n antwoord nie werklik frustrasies aanspreek nie.
Toenemend word gewonder presies wie die “magte” is van wie Romeine 13 praat. Die tradisionele siening is dat “magte” verwys na die wettige regering. Met wettige regering word bedoel die strukture wat aangestel word volgens ‘n proses wat in die wet voorgeskryf word. Die mees algemene proses in gebruik is demokrasie, maar in die verlede was ‘n monargie meer algemeen. Daar is egter ook ‘n siening waarvolgens die magte verwys na ‘n struktuur wat die monopolie op geweld het en instaat is om sy wil af te dwing. Hierdie strukture is dikwels die polisie, maar in sommige gebiede kan dit tradisionele leiers of selfs bendes wees.
Om Bybelse terme te gebruik kan die wettige regering beskryf word as die een wat die septer vashou, terwyl die geweldsmonopolie beskryf kan word as die een wat die swaard dra.
Meestal is die een wat die septer het ook die een wat die swaard dra, want ‘n lojale en bekwame polisiemag en weermag kan die wil van die wettige regering afdwing. As die een wat die septer dra egter korrup is en toelaat dat die polisiemag en weermag in chaos verval, dan dra die een wat die septer het nie meer die swaard nie.
In so ‘n situasie kan die wettige regering nie meer sy wil oral op sy grondgebied afdwing nie. Wanneer dít die geval is, sien jy die volgende hoofopskrifte in die media: ”Eskom has withdrawn services in Harare, Khayelitsha, with immediate effect after workers were asked to pay a protection fee of R20 000 by alleged gangsters.“ In hierdie situasie reik die een wat die septer het se swaard nie meer tot in Harare, Khayelitsha nie, maar die rampokkers dra die swaard daar, en kollekteer selfs belasting.
Tydens die grendelstaat het die verskillende sienings oor die magte van Romeine 13 in kerke sigbaar geword. Diegene wat geglo het dat ons gehoorsaam moet wees aan die wat die septer hou, het getrou maskers gedra totdat die grendelstaat formeel opgehef is. Diegene wat geglo dat ons gehoorsaam moet wees aan die wat die swaard dra, het weer tot die gevolgtrekking gekom dat die maskermandaat onsin is wat die wettige regering nie in staat is om dit af te dwing nie. Hule het gevolglik hulle maskers tuis gelos.
Die sigbare verskille oor Romeine 13 het spanning in kerke gebring. Uit vrees egter vir onmin en skeuring is daar selde oor die saak gepraat. Met die formele opheffing van die grendelstaat het die sigbare verskille verdwyn en het almal ‘n sug van verligting geslaak. Die onsigbare verskille bly egter steeds.
As daar in die verlede ‘n gesprek ontstaan het oor burgerlike ongehoorsaamheid is so ‘n gesprek dikwels vinnig kortgeknip deur bloot die teksgedeelte van Romeine 13 te noem. Soos ‘n towerspreuk het die woorde “Romeine 13” almal tot swye gebring.
Nadat die grendelstaat die verskille vir ‘n tyd lank sigbaar gemaak het, werk die Romeine 13 towerspreuk egter nie meer so lekker nie. Dis nie meer duidelik tot watter mate ons die lang arm van die gereg met die swaard moet gehoorsaam, as die arm te kort geword het, en nie meer reik tot in plekke soos Harare, Khayelitsha nie.
Ons leef in ‘n tyd waar die een wat die septer hou se swaard al hoe minder werk, byvoorbeeld waar die buurtwag binne minute arriveer terwyl die polisie se telefoon net lui. Toenemend neem ander strukture die swaard op om lewens en eiendom te beskerm. Hierdie nuwe situasie vereis ‘n herbesinning oor die magte waaraan ons ons moet onderwerp. Die toenemend swaardlose draer van die CODESA-septer of nuwe burgerlike strukture wat die swaard opneem sonder dat ‘n septer aan hulle oorhandig is?