Leer gebaretaal as ’n gesin
Ons vier vanjaar op 23 September Internasionale Gebaretaaldag.
Die VN se Algemene Vergadering het dié dag opsygesit om bewustheid te kweek van die belangrikheid van gebaretaal in die volle verwesenliking van die menseregte van mense wat doof is.[1] Dit bied die ideale geleentheid vir gesinne om gebaretaal aan te leer en sodoende hulle solidariteit en ondersteuning aan gehoorgestremdes te bewys.
Die voorstel vir só ’n dag het in 1951 by die Wêreldfederasie van die Dowe ontstaan en word sedert 2018 as deel van die Internasionale Week van die Dowe gevier. Hierdie federasie omsluit 135 nasionale verenigings van dowe persone wêreldwyd en verteenwoordig ongeveer 70 miljoen dowe persone se menseregte.
Daar is meer as 4 miljoen dowe en hardhorende persone in Suid-Afrika.[2] Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, het ’n grondwetwysiging vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie wysiging (die “Agtiende Wysigingsontwerp van die Grondwet 2022”) wil artikel 6 van die Grondwet wysig om voorsiening te maak dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) wetlik erken word as die twaalfde amptelike taal.[3]
Wikipedia beskryf gebaretaal as “’n taal wat handkommunikasie en lyftaal gebruik om betekenis oor te dra, in teenstelling met akoesties-oorgedraagde klankpatrone. Dit kan gelyktydig handvorm, oriëntasie en beweging van die hande, arms of lyf en gesigsuitdrukking kombineer om ’n spreker se gedagtes vloeiend weer te gee.”[4]
KragDag-lesers kan Internasionale Gebaretaaldag sowel as die Internasionale Week van die Dowe vier deurdat gesinne onderneem om saam-saam gebaretaal aan te leer, of dan ten minste vir eers net sekere belangrike gebare wat algemeen gebruik word om te kommunikeer. Daar is heelwat inligting oor vingertaal en gebaretaal op die internet beskikbaar. Gaan loer gerus hier na ’n eerste les om Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan te leer. Daar is ook ’n kursus op Udemy oor die aanleer van SAGT vir beginners.
Ek het as kind by ’n dowe persoon geleer hoe om die alfabet in vingertaal te sein en kan dit vandag ná baie jare steeds vlot doen. Daag jou gesinslede uit om saam met jou SAGT aan te leer en wys só dat julle dowe en hardhorende persone se regte onderskryf. Nie net help skep ons bewustheid oor die manier waarop dowe persone kommunikeer nie, maar ons leer ons kinders om uit te reik na ander op betekenisvolle maniere. Kinders sal dit tien teen een geweldig baie geniet om gebaretaal aan te leer, want hulle mag dalk voel dat hulle ’n geheime kodetaal kan praat. Dit is ook goed dat kinders leer om nie die feit dat hulle kan hoor as vanselfsprekend te neem nie.
Ouers kan op Internasionale Gebaretaaldag met hulle kinders gesels oor gehoorveiligheid. Raai kinders aan om byvoorbeeld nie na harde musiek of klanke te luister nie. Pa kan dalk ’n voorbeeld stel en dalk pluisies in die ore dra wanneer hy weer ’n gat in die muur moet boor. Dalk is dit sommer die ideale geleentheid om die hele gesin te neem vir gehoortoetse. Gesels gerus met jou oudioloog of oorspesialis. Gaan loer ook hier na waar jy ’n gratis twee minuut lange gehoortoets aanlyn kan doen.
[1] https://www.un.org/en/observances/sign-languages-day
[2] http://www.sanda.org.za/
[3] https://www.pretoriafm.co.za/proses-vir-sa-gebaretaal-as-12de-amptelike-taal-in-staatskoerant-gepubliseer/
[4] https://af.wikipedia.org/wiki/Gebaretaal