Spring oor ’n muur
Ek is in die bevoorregte posisie dat ’n naby familielid ’n finansiële adviseur is en dat ek haar altyd kan nader wanneer ek wonder of ek my geldsake na behore bestuur. Haar raad is altyd prakties, nugter en in my beste belang. Ek besef terdeë hoe belangrik dit is om kundige finansiële advies in te win, veral in vandag se tyd waarin dit wil voorkom asof mens konstant met slegte nuus gebombardeer word wanneer jy die TV of radio aanskakel.
Met die Covid-19-pandemie wat soos ’n verwoestende tsoenami feitlik alles in sy pad platgevee het, het baie mense hulle meteens in ’n benarde finansiële posisie begin vind. Selfs diegene wat redelik onbesorg was oor hulle finansiële toekoms omdat hulle goeie salarisse verdien het en die lewe vir hulle rooskleurig daar uitgesien het, het intussen die kraantjies baie styf begin toegedraai en probeer om op allerhande kreatiewe maniere geld te spaar.
Duisende mense het wêreldwyd hulle werk verloor, en veral hier in Suid-Afrika met ons geweldige hoë werkloosheidsyfer, is dit vir seker nie ’n uitgemaakte saak dat nuwe werksgeleenthede op die horison wink nie. Meeste van ons besef dat ons ons eie geleenthede en werk sal moet skep ten einde te oorleef. Gelukkig is ons Suid-Afrikaners mos van nature uithouers en aanhouers en laat ons ons nie maklik onderkry nie. Ons is planmakers en ons máák dinge gebeur. Van skouer aan die wiel sit, kan niemand ons iets vertel nie.
Met die aanvang van die Covid-19-pandemie, het ek letterlik oornag die oorgrote deel van my inkomste as vryskutwerker verloor. Mettertyd, soos my kliënte weer hulle voete begin vind het, en almal van ons besef het dat die lewe buig of bars moet aangaan, het die een vryskutprojek na die ander weer aan my deur kom klop. Ek moes egter heeltyd vernuwend dink en my dienste as vryskutskrywer, -tekspraktisyn en -manuskripontwikkelaar te alle ure beskikbaar stel en sorg dat ek die ekstra myl loop vir my kliënte. Ek het vir byna twee jaar lank nog nie een naweek kon afneem nie. Vakansiedae en verloftyd bestaan nie in my woordeskat nie.
Dit is nie ’n maklike pas om vol te hou nie, maar ek verdien ’n inkomste en kan my verpligtinge nakom. Ek het alle onnodige uitgawes tot op die been gesny en kom klaar met baie dinge wat ek eens gedink het ek nooit sonder sou kon klaarkom nie, en glo my, dit is baie bevrydend. Daarby bly ek uit die dorp uit so ver as moontlik, want wat die oog nie sien nie, pla die hart mos nie. Manlief het intussen ons tuin ook in ’n groente- en vrugteparadys omskep, en ek hoef nie meer vars produkte ten duurste aan te koop nie.
My storie is dié van baie KragDag-lesers s’n. Deur baie harde werk, strome seën en genade en hulp van Bo en die ondersteuning van ons geliefdes, druk ons net eenvoudig deur en skep ’n hoopvolle toekoms. Daarom wil ek vandag vir elke KragDag-uitstaller wat op die pas afgelope KragDag-ekspo hulle produkte en dienste uitgestal het, ’n klop op die skouer gee. Elkeen van julle maak die beste van julle omstandighede. In die proses lig julle ook ander op en stel julle ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ander.
Daar is ’n plekkie in die son vir elke entrepreneur in hierdie land. Ons moet mekaar voortdurend moed inpraat en herinner daaraan terwyl ons dinge self laat gebeur. Die Woord sê nie verniet die volgende nie: “ … met my God spring ek oor ‘n muur” (Psalms 18:30a, AFR53). Laat ons dus spring!