Boekresensie: Mynie speel met vuur
Penguin publiseer Mynie speel met vuur deur Mynie Steffens.
Ek hou graag Mynie Steffens se braaiproe-kookboek getiteld Mynie speel met vuur aan KragDag-lesers voor. Suid-Afrikaners het mos geen verskoning nodig om te braai nie, en vir ’n paar gelukkige siele is braai sinoniem met naweke. Braai is so deel van ons kultuur as rugby op Loftus. Braaigroentjies én braaikenners sal hierdie splinternuwe braaiboek baie geniet.
Mynie dra Mynie speel met vuur, ’n grootformaat sagtebandboek van 176 bladsye op aan “al die honde wat ek ooit liefgehad het”. Sy het op tienjarige ouderdom kos op die vuur begin gaarmaak en braai sedertdien nog al die pad. “Ek soek altyd enige moontlike verskoning om ’n indrukwekkende, dag lange braai te reël.” Sy het in 2017 ’n gewilde kosprogram, Speel met vuur, op Via aangebied waar sy op verskillende plekke in die land buitengewone kossoorte op die vuur gaargemaak het. Sy was al gasvrou vir internasionale en plaaslike braaiproe-geleenthede en doen ook privaat spyseniering vir private braaigeleenthede. Tans bied sy ’n Airbnb braai-ervaring aan waar sy vir internasionale gaste ’n braaispyskaart met proehappies saamstel. Só ontmoet sy baie interessante mense wat ook ’n liefde vir braai koester. “Die resultaat is hierdie kookboek van braaiproe-spyskaarte – die beste braaivermaak ooit. Mynie nooi jou om pret te hê elke keer as jy braai, met alles van spyskaarttemas en smaaklike disse (dikwels onkonvensionele) resepte tot gepaste musiekspeellyste en prettige feite!”, aldus die agterblad.
Mynie speel met vuur beslaan elf hoofstukke. Die titels is: Om te kan braai; Braaigroentjies; Braaitieners; Net Vis, Geen Vlees; Braaimeesters; Olof Bergh-braai; Stokkiesdraai; Sosiale Vlinders; Van Hippies tot Hipsters; Groente, met Kaas, ja; en Raar, Maar Gaar. Daar is ook insiggewende “Het jy geweet?”-insetsels by die 70 vindingryke spyskaarte.
“Elke hoofstuk bevat ’n proe-spyskaart wat uit sewe gange bestaan. Die porsies is genoeg vir ses mense (tensy anders aangedui) as proe-proe porsies. […] En om die spyskaart af te rond, het ek toegewyde speellyste ingesluit om seker te maak jou gehoorsintuig word nie afgeskeep nie.” Mynie gee dan ook aan die begin van elke spyskaart wenke oor voorbereiding om dinge so eenvoudig moontlik te hou. Sy beveel ook aan dat braaiers plaaslike produsente wat organies boer, ondersteun, en ook volhoubare visprodukte gebruik. In “Om te kan braai” skryf sy: “Ek het oor die algemeen nie veel erg aan tradisie nie, en ek hou nie van sommige tradisionele maniere om kos op ’n braai gaar te maak nie; daar is niks erger nie as om jou pad deur ’n groot bord oorgaar, taai, opgewarmde vleis te beur.” Sy gee dan wenke oor hout, houtskool en brikette en hoe om ’n vuur te pak.
Die treffende volkleurfoto’s deur Henk Hattingh komplimenteer die resepte en mens wil-wil jou verbeel jy ruik die heerlike braaigeregte. Daar is onder meer wors met tuisgemaakte blatjang, garnaal-sosaties, forel met heuning-en-sojasous, mossels sonder fieterjasies, gevulde koningklip, geskroeide steak met kruiebotter, riboog-steak met murg- en brandewynsous, lamkebabs, blomkool met Chinese 5-speserypoeier, gebraaide turksvyblad, visvingers in netvet, gestopte hoendernekvelletjies, en selfs koek-in-’n-koppie! Dit is dus nie net vleiseters wat kan braai nie, maar ook vegetariërs en soettande.
Ek is baie bly oor my eksemplaar van Mynie speel met vuur. Dit hoort beslis op elke braai-entoesias se boekrak. Skaf gerus jou kopie hier aan. Dit is ook in Engels beskikbaar as Mynie plays with fire.
U kan, met die komplimente van Mynie en Penguin, hier die resepte vir braaibroodjies, gaarnaal-sosaties en soetrissies met kekerertjievulsel aflaai.