Siembamba: Ek lees sing-sing self-boekpak
’n Rukkie gelede het ek ’n artikel geskryf getiteld “Laat kinderspeletjies herleef” wat hier te lees is. Ek beklemtoon hierin dat ouers daarteen moet waak dat hulle kinders te veel tyd agter digitale skerms deurbring. Dis beslis baie meer gesond dat hulle ouderdomsgepaste, sinvolle aktiwiteite doen of sosiaal met hulle ouers en maats verkeer. Gesinne kan hierdie weg-van-die-skerms-af-tyd gebruik om ou kinderspeletjies te laat herleef, want dit skep lewenslange herinneringe en sit ’n kosbare tradisie voort.
Maar gepraat van tradisies … LAPA Uitgewers het pas die oulikste boekpak gepubliseer wat deur Wendy Maartens saamgestel is. Die titel van die boekpak is Siembamba: Ek lees sing-sing self. Daar is vyf boeke van 24 bladsye elk in so ’n pak. Elke boek is kleurvol geïllustreer deur Alzette Prins. Die boekpakke is ’n allemintige bederf en bevat die volgende titels: Siembamba: Volksliedjies en immergroen rympies, Siembamba: Tergrympies en tongknopers, Siembamba: Lekker lawwe sêgoed en rympies, Siembamba: Gebedjies en slaapliedjies en –rympies en Siembamba: Effens langer gediggies en alfabetrympies.
Hoe wonderlik is dit nie dat hierdie omvangryke versameling Afrikaanse rympies (bekendes en minder bekendes) weer aan ’n nuwe geslag kinders voorgehou word! Maartens skryf in die uitgewersbrief: “Ek het hierdie boeke saamgestel vir elkeen wat met hierdie verse grootgeword het, sodat dit binne een boekpak teen die hart gehou kan word. Nêrens, maar nêrens op ons winkelrakke is ’n boek met hierdie kosbaarhede nie. Dit hoort saam in een skatkis.” Die boeke is geskik vir oud en jonk om te koester en geniet, maar kinders vanaf vyf tot agt jaar sal dit besonder waardeer.
Ek gee een rympie as voorbeeld uit elke boek:
Uit Siembamba: Volksliedjies en immergroen rympies
Vader Jakob
Vader Jakob, Vader Jakob,
Slaap jy nog? Slaap jy nog?
Hoor hoe lui die kerkklok,
hoor hoe lui die kerkklok:
Tongelong! Tongelong!
Uit Siembamba: Tergrympies en tongknopers
Jan Tiek, Jan Tak
Jan Tiek, Jan Tak,
Jan Hawersak,
Jan Vinger-in-die-mond,
Jan Suikerklont.
Uit Siembamba: Lekker lawwe sêgoed en rympies
Jantjie Fiskaal
Jantjie Fiskaal
sit op ’n paal,
sy hoed is stukkend
en sy kop is kaal!
Uit Siembamba: Gebedjies en slaapliedjies en –rympies
Slaap, kindjie, slaap
Slaap, kindjie, slaap
daar buite loop ’n skaap
met vier witte voetjies,
die melk die loop so soetjies,
die skapie is bont
maar die melk is gesond.
Die melk die loop rond
in kindjie se mond.
Uit Siembamba: Effens langer gediggies en alfabetrympies
Jakkals nooi vir Gansie
Jakkals nooi vir Gansie:
“Kom eet vanaand by my,
Daar’s heerlike ou kossies,
en uintjies uit die vlei.”
“Nee dankie,” sê die gansie,
“al staan jy op jou kop.
As ek by jou kom kuier
eet jy my sekerlik op!”
Mens sou graag vir elke kind of kleinkind so ’n boekpak wou gee om eendag weer aan hulle kroos na te laat. Dink net hoeveel ure se pret grootouers, ouers en kinders saam kan hê wanneer hulle hul in hierdie boeke verlustig. Ek hoor sommer hoe Ouma en Oupa hulle onthou ver uit toeka se dae gaan haal toe hulle van hierdie rympies aan moedersknie geleer het.
Skaf gerus ’n Siembamba: Ek lees sing-sing self-boekpak aan. Dit kos R290,00 by deelnemende boekwinkels. Jy kan die ook hier aanlyn bestel.
Kompetisie
Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ’n Siembamba: Ek lees sing-sing self-boekpak met die komplimente van die uitgewers wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die prys, is om hier onder kommentaar te lewer en te vertel waarom jy graag ’n boekpak sal wil wen. Sperdatum 31 Julie 2023
Ek sou graag n boekpak wou wen vir my dogter wat in Miami woon. Sy het n seuntjie van 3 en sy praat met hom Afrikaans en sing liedjies soos Vader Jakop en Bobbejaan klim die Berg. Ek kan my voorstel hoe hulle twee die boekpak sal geniet.
Hoop julle kies my 😀😊
As nuwe oupa en ouma van enigste kleinkind is dit verblydend om ook van hierdie produk te hoor. Of dit nou mamma en pappa is of ouma en oupa, vir seker moet dit gebruik word vir vermaak en leer in Afrikaans. Dat dit, die bekendheid, vir die ouers en grootouers nostalgies sal herinner aan hul kleintyd dae is nie altemit nie! Dit verdien inderdaad ‘n plek tussen die ander kinderboeke op die rak.
Dit is nou ‘n wonderlike en kosbare skat. Baie dankie aan almal wat aan die boeke gewerk het, julle het ‘n fantastiese ding vir afrikaans gedoen en dit maklik gemaak om van een geslag na die volgende geslag die afrikaanse kultuur behoue te laat bly. Mag daar vele van die boeke verkoop word!
Geluk, Charlene, jy wen ’n Siembamba: Ek lees sing-sing self-boekpak met die komplimente van die uitgewers. Ek sal jou kontak om te reël dat jy jou prys ontvang.
DIt is vir my belangrik dat my kleinkinders nie moet vergeet van die versies waarmee ons as kinders groot geword het nie,so dit gaan my soveel genot gee om saam met hulle hierdie boekies te beleef. Ek hou duimvas !
Wat n uitstekende plan om te laat herleef dit wat ons as kinders beleef het. Ons het die vreemde siembaba liedjie saamgesing en 10 uur met stukkies lemoen of gesnyde appel voor die radio gewag vir die stories. Op en af gespring en saam geskree as daar gevaar of vreugde was.Ek kan net dink hoe Hanani (10 maande oud) kan leer en geniet wat vir ons ook kosbaar was. Sy is my eerste kleinkind en lig in my lewe. Ek sal graag Vrydae met haar stories wil deel as sy by my bly. Ek en my kinders het nie tv nie en glo ook in baie lees en buite dinge doen. Sy kruip reeds in die huis rond en weet waar haar boekrak is. Sy druk nie meer boekies in haar mond nie en blaai deur elkeen as sy hier kom. Ek staan met haar in my arms en sing voor die spieel dat sy verwoed kan skop enlag dat haar tandjies wys.
Geluk, Mariaan, jy wen ’n Siembamba: Ek lees sing-sing self-boekpak met die komplimente van die uitgewers. Ek sal jou kontak om te reël dat jy jou prys ontvang.
Hierdie is net waarna ek gesoek het. Ons het so 2+ jaar skielik ‘n klein mensie op ‘n semi permanente basis in ons lewe gekry. Sy het Mei maand 3 geword en ek probeer al die ou liedjies onthou en vir haar leer. Sy sing juis nou al lekker Vader Jacob saam.
Met 5 kleinkinders wat wissel van 1 jaar tot 5 jaar ,sal die boeke vir my as ouma soveel genot en plesier saam my kleinkinders verskaf.
Hulle is versot op stories en rympies.
En kan al heelwat uit hul kop opsê.
Ek sal graag so boeke pakket wil wen.