Skatryk
Tafelberg publiseer Johan Fourie, ’n internasionaal-gerekende professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en ook rubriekskrywer vir Rapport, se splinternuwe boek getiteld Skatryk: Waarom ons beter leef as ons voorsate. Fourie vertel die storie van welvaartskepping en doen dit op ’n wyse wat toeganklik is vir die breë publiek. Die lokteks het dit dat hy in sy unieke, vermaaklike styl vol onverwagse feite verduidelik waarom die bouers van ’n samelewing – eerder as dié wat afbreek – uiteindelik seëvier. “Dit is ’n boeiende reis deur die geskiedenis wat ons wys hoe welvaart geskep en uitgebou word. Hoekom floreer een groep, maar ’n ander bly ’n sukkelbestaan voer? Hoekom is ons ryker as ons voorsate?” ’n Vroeër weergawe van dié boek is in Engels gepubliseer onder die titel Our long walk to economic freedom.
Skatryk beslaan 254 bladsye en daar is 35 hoofstukke. Dit is onderhoudend vanuit ’n Suid-Afrikaanse en Afrika-perspektief geskryf en gee die leser ’n blik op die ekonomiese geskiedenis sowel as die toekoms. Hy vra insiggewende vrae en die boek is deurspek met interessante feite. Hier is voorbeelde van die vrae: Hoekom het Indiërs ’n bruidskat en Afrikane lobola?; Hoekom het die Chinese keiser ’n kameelperd present gekry?; Wie vang skoenlappers in die Kongo?; Hoekom het Stalin nie van Amerikaanse flieks gehou nie?; Hoe lyk die volmaakte soldaat?; Hoe het Einstein Eskom help bou?; Hoekom speel die Japannese rugby? Wat het Lego met skeepsvaart te doen?; Wat borrel in Ysland? Waarom het The Economist die kat aan die stert beet?; Sal Madiba se lang tog na vryheid ooit tot ’n einde kom?
Fourie reken dat ons nie weet of die wêreld vorentoe meer welvarend gaan word of dat groei dalk sal stagneer en die lewenstandaarde sal afneem nie. “Die verskil tussen die optimistiese en pessimistiese scenario sal daarvan afhang of ons die ekonomiese vryhede wat baie Afrikane steeds nie het nie, sal kan verseker. Dít sal weer afhang van die beleid wat ons toepas, die politici wat ons verkies en, uiteindelik, die stories van voorspoed- en welvaartskepping wat ons vir onsself en ons kinders vertel” (15).
Fourie skryf in die inleiding dat mag en ideologie deesdae aangebied word as die enigste instrumente waardeur die verlede verstaan kan word. Hy reken dat hoewel daar meer as genoeg rede is om die “objektiwiteit” van koloniale bronne te betwyfel, dit nie net afgemaak kan word nie. “Die enigste manier waarop ons kan uitvind wat gebeur het, en hoekom dit gebeur het, is om ’n hipotese te stel, bronmateriaal in te samel – soms met vernuwende (statistiese) metodes – en te toets. Hierdie boek is gebaseer op navorsing wat so ’n empiriese benadering gebruik.” … “As ons glo almal ding mee in ’n nul-somspel, dat ek net suksesvol kan wees as ek jou onderwerp en verdruk, sal ons welvarende mense verfoei, want die implikasie is dat hulle net kan wees waar hulle is omdat hulle ander uitgebuit het. As ons aan die ander kant glo dat samewerking en interaksie nodig is vir sukses, dat ons net suksesvol kan wees omdat ons op ander staatmaak en hulle vertrou, sal ons verstaan dat enige rykdom méér rykdom skep” (13). Hy noem as voorbeelde Bill Gates, Jeff Bezos en Elon Musk wie se maatskappye bygedra het tot die verbetering van ons lewenstandaard.
Fourie kom tot die slotsom dat die mensdom vandag talryker en welvarender as ooit is ten spyte daarvan dat daar dinge is wat ons verkeerd gedoen het en moet vermy. Hy hoop dat Skatryk ’n nuwe generasie denkers sal inspireer om die oorsprong van voorspoed te probeer verstaan sodat ’n beter wêreld gebou kan word.
Skatryk is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels en aanlyn. Jy kan dit ook hier bestel.
Lees gerus ook Naomi Meyer se onderhoud met prof. Johan Fourie hier.
Kompetisie
Een gelukkige KragDag-leser kan ’n kopie van Skatryk wen met die komplimente van die uitgewer. Lewer kommentaar hier onder en vertel waardom jy graag die boek sal wil wen. Sluitingsdatum 9 Julie 2023.
Baie interressante onderwerp. Sal baie graag wil lees hoe die welvaart en vooruitstrewe verbeter.
Dankie Louise vir jou insiggewende rubriek oor hierdie boek.
Ek sal Skatryk graag wil lees om te verstaan waarom ons voorgeslag soveel meer op finansiële gebied gesukkel het as wat ons beleef.
Baie geluk, Rina, jy wen ’n kopie van Skatryk met die komplimente van die uitgewer sowel as KragDag. Ek sal jou aanstons kontak om jou afleweringsadres te bekom.
Die boek klink interessant, en kan jou kennis verbreed.