Laat kinderspeletjies herleef

’n Vinnige internetsoektog het my finaal oortuig van hoe sleg te veel skermtyd vir kinders is. Ek is dus ’n vurige voorstander daarvan dat die jongspan se skermtyd tot die minimum beperk word. Ouers behoort meer bedag daarop te wees dat hulle kroos voldoende vars lug en oefening inkry en nie hulle vrye tyd doelloos voor die TV, rekenaar of met ’n selfoon in die hand verwyl nie. Hoewel ek niks teen die verantwoordelike gebruik van tegnologie het nie, voel ek wel dat kinders heeltemal te veel tyd voor digitale toestellle deurbring. Hulle kan eerder ouderdomsgepaste, sinvolle aktiwiteite doen of in persoon sosiaal met hulle ouers en maats verkeer.

Een manier om hierdie weg-van-die-skerms-af-tyd te benut is om ou kinderspeletjies te laat herleef. Nie net skep dit lewenslange herinneringe nie, maar ’n kosbare tradisie word voortgesit wat andersins verlore sal gaan. Dink maar terug aan jou eie jeugherinneringe. Jy sal tien teen een onthou hoe lekker jy buite saam met maats gespeel het, of dalk onthou jy hoe ’n oupa of ouma altyd vertel het van al die interessante speletjies wat hulle as kind gespeel het. Ek wil die spreekwoord, “The family that prays together, stays together”, vir die doeleinde van hierdie skrywe aanpas na “The family that plays together, stays together”. Gesinne wat saam tyd spandeer, bou hegte verhoudings.

Ek was baie opgewonde om ene dr. Jacques du Plessis se webwerf te ontdek. Volgens die inligting vervat op die webwerf, gee dr. Du Plessis klas by die Universiteit van Wisconsin in Milwaukee. Verskeie Amerikaanse universiteite gebruik glo sy handboeke waarin hy studente leer om Afrikaans te praat. Dit is egter die artikel waarin hy tradisionele speletjies alfabeties lys en beskryf wat my aandag getrek het. Al die ou bekende gunstelinge is daar: appel aanstuur; blikaspaai; beskuit eet en fluit; middelmannetjie; name, vanne, diere, dorpe; Wolf, wolf hoe laat is dit? bok in die hok; dryfsand; ensovoorts. Natuurlik is daar speletjies soos kennetjie, bok-bok span styf en aftrekperd wat gevaarlik is en beslis vermy moet word. Dit is nogtans interessant om die spelreëls te lees en te besef hoe onverskrokke ons voorouers was om dit selfs op die skoolterrein te speel.

Kry sommer hierdie naweek nog jou gesinslede bymekaar en beplan ’n ronde boeresports in die buitelug. Julle sal oefening inkry, lag tot julle lê en sommer heerlik spanbou – drie vlieë met een klap. Begin dalk met driebeenresies of driebeenspring en volg dit op met vroteier, eiergooi, eier-in-die-lepel-resies, toutrek of aartappelresies. Miskien is julle meer avontuurlustig en verkies julle om skattejag te hou, wegkruipertjie te speel of donkerkamertjie te speel. Die meer besadiges onder ons kan ek sien met my kleine ogies, klip-papier-skêr of telefoontjie speel. Dit beloof om groot pret te wees.

Hierdie tipe speletjies bevorder nie net gesonde gesinsverhoudinge en liggaamlike gesondheid nie, maar kinders leer ook om krities te dink, probleme op te los, op ’n aanvaarbare wyse kompeterend te wees en in spanverband te funksioneer. Speel vir ’n slag saam met jou kinders en skep so ’n wonderlike tradisie van kosbare saamweestye weg van die skerms af.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui