Ses dissiplines van strategiese denke

Michael D. Watkins, die outeur van The First 90 Days waarvan meer as ’n miljoen kopieë wêreldwyd verkoop het, se jongste boek is getiteld The Six Disciplines of Strategic Thinking: Leading your Organization into the Future. Dit beslaan 180 bladsye en word uitgegee deur Ebury Edge, ’n druknaam van Penguin Random House United Kingdom.

Hierdie essensiële gids uit professor Watkins se pen help entrepreneurs en sakelui om hulle besighede strategies die toekoms in te lei. Dis goeie nuus vir KragDag-lesers, want enigiemand kan leer om ’n strategiese denker te wees en beter besluite te neem wat uitstekende resultate lewer. Ook in hierdie uiters turbulente tye waarin ons leef.

Die ses dissiplines van strategiese denke word gelys as patroonherkenning, sisteemanalise, verstandelike behendigheid, gestruktureerde probleemoplossing, visie en politieke vaardigheid. Elke hoofstuk sluit af met ’n opsomming, kontrolelys en voorgestelde leesstof. Die slothoofstuk wys hoe mens daarop kan fokus om beter te word deur middel van ervaring en breinoefeninge (147).

I summarized the strategic-thinking capacity (STC) of business leaders using the following equation: STC = Endowment = Experience = Exercise. Your endowment is built by your genetics and upbringing. Experience is your involvement in situations that develop your strategic-thinking ability, ideally ones where you can demonstrate your abilities to more senior leaders. Exercise is the mental work you do to build your strategic-thinking muscles. By definition, there’s nothing to be done concerning your endowment as a strategic thinker. The key, then, is to focus on how to get better, regardless of your strategic point. Doing so means gaining experience and exercising your brain.

Doen ervaring en blootstelling op en hou die volgende in gedagte (148-9): Diegene wat ’n invloed uitoefen op jou loopbaantrajek moet weet dat jy die potensiaal en vermoë het om uit te styg. Wys dat jy die groter prentjie sien en neigings identifiseer. Wees voorbereid, doen jou huiswerk en wys hoe jy tot slotsomme kom. Kommunikeer bondig en logies. Gebruik woorde soos “strategiese doelwitte”, “kernoorsake” en “mededingende reaksies”. Vra vrae en bedink moontlike scenario’s alvorens dit uitspeel.

Hier is slegs een voorbeeld van hoe jy elk van die ses strategiese dissiplines kan ontwikkel:

Patroonherkenning: Skakel met eksperts en vra hoe hulle belangrike patrone herken en uitken tussen al die “geraas”.

Sisteemanalise: Leer hoe onderliggende konsepte toegepas word deur daaroor na te lees, werkswinkels by te woon en kursusse te volg.

Verstandelike behendigheid: Sien die groter prentjie maar ook die fynere details en bedink die langtermyn moontlikhede en gevolge. Skaak kan jou hiermee help.

Gestruktureerde probleemoplossing: Leer verstaan die verskillende stappe in enige proses sowel as die gereedskap en tegnieke wat gebruik word en die slaggate en uitdagings wat vermy moet word.

Visie: Sorg dat jy die onderliggende beginsels verstaan, ’n idee kan ontwikkel en dit dan stapsgewys en eenvoudig kan kommunikeer.

Politieke vaardigheid: Kyk na jou organisasie of dié se eksterne omgewing deur ’n politieke lens en bepaal wie die mag het en hoekom. Wie beïnvloed wie en hoekom.

Strategiese denke is belangrik om jou en jou besigheid te posisioneer vir optimale groei en sukses en mededingendheid te verseker in ’n uitdagende en ewigveranderende omgewing. Dit is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word.

Skaf gerus ’n kopie van Michale D. Watkins se The Six Disciplines of Strategic Thinking: Leading your Organization into the Future aan by deelnemende boekwinkels of bestel dit hier.

 

Kompetisie

Een gelukkige leser kan ’n kopie van hierdie boek wen. Om in aanmerking te kom vir die prys, moet jy in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2024.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

8 Comments

  • Ek het eerste-hands gesien hoe ‘n maatskappy agteruitgaan a.g.v. ‘n CEO wat geen strategiese denkwyses getoon het nie. Ek besef dus dat dit van kardinale belang is om dissiplines soos bespreek in die boek onder die knie te kry. Alhoewel al die dissiplines belangrik is, staan sisteemanalise, gestruktureerde probleemoplossing en ‘n gedetailleerde visie vir my uit. Hierdie eienskappe is vir my baie belangrik om enige besigheid, klein of groot te kan stuur in die regte rigting. As iemand wat ‘n leiersposisie in my huidige maatskappy beklee, sal dit vir my baie kan beteken om die boek deur te werk en die genoemde dissiplines toe te pas, met die einddoel om my maatskappy te sien floreer.

  • Hi ek het strategies denke nodig vir my volgende 12 jaar ek is nou 78 jr.
    Veral om dit e deel met mymede 70 jariges. baie dankie.

  • Ek sou graag myself wou verryk met hierdie insiggewende boek.

  • Ek wil graag die boek wen omdat ek dink die slothoofstuk wat wys hoe mens daarop kan fokus om beter te word deur middel van ervaring en breinoefeninge my kan help. En die boek sal ‘n goeie manier wees om te kan terug verwys om gereeld jou geheue te verfris. Soos Jim Rohn gesê het: Don’t wish it was easier. Wish you were better.

  • Ek sal graag die boek wil wen oor die slothoofstuk wys hoe mens daarop kan fokus om beter te word deur middel van ervaring en breinoefeninge – die fisiese boek kan dan geduring my geheue verfris.

  • Ek is ‘n jong boer en dink die boekie kan handig te pas kom om die uitbreiding en vooruitgang van hierdie besigheid. Landbou is gedurig onder druk van wetgewing, stygende insetkostes en laer winste.

    • Geluk, Jac. Jy wen ‘n kopie van The Six Disciplines of Strategic Thinking. Dit kan slegs na ’n adres in Suid-Afrika versend word. Ek kontak jou binnekort per e-pos.

  • ek dink om krities te dink is n vaardigheid wat ontwikkel moet word

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui