Die Bela-wet: Onderwyskaping in praktyk – hier is hoe dit openbare, privaat- en tuisonderwys raak
Die Bela-wet beoog om ingrypende veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet te maak. Dit raak verskeie gesinsdinamieke, insluitend diegene met kinders in publieke skole, tuisonderwys, kothuisskole en aanlynskole. Die Bela-wet beoog die sentralisering van onderwys, wat in praktyk ouers se beheer oor waar en hoe hulle kinders opgevoed moet word, kaap. Die onafhanklikheid van onderwys is op die spel.
Sentralisering
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit het in Februarie vanjaar by ‘n Bela-beraad wat deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangebied is, gesê die Bela-wet is nog ‘n manier om staatsentralisering te bevorder. “Die Bela-wet oortree ‘n belangrike grondwetlike beginsel – die staat eien vir homself bevoegdhede en funksies toe wat nie ingevolge die Grondwet aan hom opdgedra is nie.”
Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas het Hermann beaam. “Ons keer terug na ‘n staatsmodel waar skole maar net die begin van totale beheer is. Daar sal dalk ‘n tyd kom waar die staat sal besluit waar ons bly, met wie mens mag trou, waar jy mag werk en as jy dit nie doen nie, sal die staat jou verbied om jou eie besluit uit te oefen.
Impak op tuisonderwys
Dit is nie net openbare skole wat in die spervuur is nie. Wikus Breetzke van MOS-Wêreldwyd Aanlyn-Tuisskool en Bouwe van der Eems van Pestalozzi Trust, het in Maart in die KragDag-kopskuifateljee van die Wes-Kaap KragDag-ekspo saamgestem dat die hoofdoel van die Bela-wet wat tuisonderwys betref, is om dit onbekostigbaar te maak en ouers te dwing om hul kinders in openbare skole te plaas. “Die BELA-wet laat Departementshoofde toe om terreinbesoeke te doen voordat tuisonderwysfasiliteite geregistreer word. Dit stel die minister van basiese onderwys in staat om die registrasie en administrasie van tuisonderwys te reguleer,” het van der Eems verduidelik.
Kyk die gesprek HIER op Facebook.
Impak op openbare skole
Benewens die impak op tuisonderwys is openbare skole, en spesifiek enkelmedium Afrikaanse skole in die spervuur. Beheerliggame sal voortaan nie meer die taal- en toelatingsbeleid van ‘n skool mag bepaal nie. Hierdie beleide moet aan die departement voorgelê word, wat dan die mag het om Afrikaanse enkelmediumskole uit te fasseer om die taalvoorkeure van die “breër gemeenskap” in ag te neem.
Volgens advokaat Albert Lamey word die Bela-wet as instrument gebruik om spesifiek in die taalbeleid van Afrikaanse enkelmediumskole in te meng. “Dit sou naïef wees om dit te ontken. Die wysiging deur die Bela-wetsontwerp versteur die vennoogskapbeginsel waarop die Skolewet berus. Die Bela-wetsontwerp leen hom tot meer donimering en oorheersing deur die provinsiale staat in weerwil van die Konstitusionele Hof se vroeëre waarkuwing daarteen.”