Selfonderhoudend op ‘n Oos-Kaapse plasie – deel 2

Ek het onlangs vertel dat ek die voorreg gehad het om met ‘n nuwe grondeienaar, Hans Tredoux*, se vrou, Elanie*, te gesels. Hulle het vroeër vanjaar ‘n plasie in die Oos-Kaap aangeskaf en is van plan om so gou moontlik selfonderhoudend te wees. Hans het ingestem om ook ‘n paar vrae te antwoord.

Julle wil graag permakultuur-metodes aanwend. Vertel bietjie meer hieroor.

Mike Feingold word in ‘n artikel aangehaal waar hy permakultuur beskryf: “Met permakultuur probeer jy die natuur naboots deur nisse vir soveel as moontlike elemente te skep. Jy doen dit deur wisselwerkinge aan te moedig en deur middel van sinvolle ontwerp hoogs produktiewe ekostelsels te skep wat ryk is aan diversiteit en lewe.”

Vir my doeleindes beteken permakultuur die optimale benutting van beskikbare spasie deur volhoubare en natuurlike ekologiese sisteme te vestig. Ek plant dus ‘n eetbare woud of voedseltuin met die regte kombinasie bome en plante om optimale onderlinge wisselwerking te handhaaf. My vrugtebome staan dus byvoorbeeld nie in netjiese rye wat aan ‘n boord herinner nie. Ek plant hulle rond en bont en deurmekaar. En dan, pleks daarvan om ‘n aparte groentetuin te hê waar beet en spinasie en wat ook al in rye staan, plant ek hulle onder die bome. Wanneer ek dan die groente natlei, kry die bome ook water, en omgekeerd. Ek plant byvoorbeeld passievrugte teenaan ‘n boom se stam, sodat dit in die boom kan opklim. Dan gebruik ek ook organiese grondbedekkings oral, wat weer help om vog in die grond te hou. Ek plant ook in lae. Daar is die bome wat hoog groei om soveel moontlik son te kry. Ek vul die spasies onder hulle met middelslag bome of plante aan, en daaronder kom weer plante wat hou van skadu of nie-direkte sonlig. ‘n Komposhoop is beslis onontbeerlik en al ons kombuisafval gaan soontoe. Ons mors niks op die plaas nie. Alles word natuurlik herwin en weer gebruik.

Waarom is dit vir julle so belangrik om ‘n voedseltuin te vestig? Kos is tog geredelik beskikbaar, dan nie?

Tuiniers regoor die wêreld is besig om terug te keer na die ou manier van dinge doen, voordat kosproduksie ‘n geldmaakstorie geword het. Kyk maar net op YouTube hoeveel entoesiaste, jonk én oud, organiese voedseltuine in hulle dorpserwe en op groter stukke grond vestig.

Ek lees onlangs in ‘n artikel die volgende, waarmee ek saamstem: “Permakultuur steun op dissiplines en stelsels soos organiese boerdery, voedselwoude, geïntegreerde boerdery en volhoubaarheid. … Dit kom daarop neer om ‘n landskap te ontwerp wat die patrone en verhoudings in die natuur naboots en wat ruim kos, vesel en energie verskaf; met die mens se plek daarin verseker. Dit word onderlê deur drie beginsels: omgee vir die aarde, omgee vir mense en regverdige verdeling.”

Vir my en my gesin is voedselsekuriteit baie belangrik. Net omdat daar tans voldoende kosvoorraad in ons winkels beskikbaar is, beteken nie dit sal altyd so wees nie. Ons het reeds gesien hoe vinnig kosvoorraad van die winkelrakke verdwyn tydens krisissituasies. Ek groei eerder ons eie voldoende kosvoorraad en weet ook waar dit vandaan kom. Hier word geen gifstowwe op die plasie toegelaat nie. Ons is ook besig om ons kennis op te knap oor die medisinale gebruike van plante – wat ‘n interessante studieveld! Dit is bevrydend om te besef dat jy jou eie apteek in jou agterplaas kan groei.

Het jy enige wenke of raad vir mense wat ook hulle eie voedseltuin wil vestig?

Moenie wag nie. Doen dit net. Jy kan dit op kleinskaal op jou woonstelbalkon of die vensterbank in jou kombuis doen, of jy kan dit in jou dorpserf doen. Vir my is grasperke ‘n mors van spasie. Plant eerder eetbare plante en blomme pleks van gras, wat geen ander funksie het as om groen te lyk en jou geld uit die sak te jaag nie. So lok jy ook skoenlappers en bye en ander bestuiwers na jou tuin. Boonop eet jy gesond en kry jy oefening en vitamien D in. Voorwaar ‘n wen-wen-situasie.

*Skuilname

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui