
Selfonderhoudend op ‘n Oos-Kaapse plasie – deel 1
Ek het onlangs die voorreg gehad om met ‘n grondeienaar se vrou te gesels. Hans Tredoux* het pas ‘n plasie in die Oos-Kaap naby Jeffreysbaai aangeskaf. Dit is so ‘n paar kilometer binneland in vanaf die Gamtoosriviermond. Sy vrou, Elanie*, was so gaaf om ‘n paar vrae te beantwoord.
Is dit nie tans ‘n riskante tydperk in ons land om in grond te belê nie? 
Dis is seker so, maar ons kies om nie na negatiewe (en veral polities-gedrewe) retoriek te luister nie, maar om voluit te leef, ‘n daadwerklike verskil te maak en ‘n voorbeeld te stel. ‘n Mens kan nie in vrees lewe vir wat moonlik kan gebeur nie. Ons glo dat jy dit aan jouself, jou geliefdes en gemeenskap verskuldig is om jou hand aan die spreekwoordelike ploeg te slaan en aan te gaan met so ‘n normaal as moontlike lewe. Dan is ons ook baie veiligheidsbewus en doen die nodige om ons veiligheid te verseker.
Waarom het julle in hierdie spesifieke plasie (skaars meer as ‘n dosyn hektaar groot) belê?
Ons wil graag ‘n totale selfonderhoudende, selfvoorsienende leefstyl omarm waar ons geheel en al onafhanklik is van die nasionale krag- en waternetwerke en ook ons eie voedsel organies kan verbou. Hierdie grootte plasie is meer as genoeg vir ons behoeftes en het ook ons prysgewys ons sak gepas. Ons werk alleen en sal nie ‘n groter en meer intensiewe boerdery kan behartig nie. Verder is die klimaat ook ideaal vir wat ons beplan om hier te groei.
Gaan julle kommersieel boer of nie?
Ons hoofprioriteit is om in ons eie behoeftes te voorsien en selfstandig en onafhanklik te funksioneer. Ons beplan om ‘n wye verskeidenheid vrugte, groente, kruie en speserye te kweek en ook hoenders en ganse aan te hou vir eiers en proteïne. Later sal ons kyk na ‘n melkkoei of twee sodat ons ons eie kaas, jogurt en ander suiwelprodukte kan maak. Ons sal ook mettertyd in ‘n paar ander plaasdiere belê. Vir nou is ons fokus om soveel as moontlik vrugtebome en groente in die grond te kry. Die idee is om ‘n eetbare woud tot stand te bring en soveel as moontlik kos te verbou om vars te eet en of te vries of droog. Wanneer ons ‘n oorskot voedsel begin afhaal, sal ons ook met naburige gemeenskappe deel. Ons wil graag op die ou einde in ‘n posisie wees waar ons so min geld as moontlik nodig sal hê om in ons liggaamlike behoeftes te voorsien. Ons wil gesond leef en eet.
‘n Mens kan tog sekerlik nie heeltemal sonder geld gaan nie, of hoe?
Ek is bevoorreg dat ek aanlyn werk en so ‘n inkomste kan verdien. Hier is gelukkig goeie selfoonopvangs en dus stabiele internet op die plasie. Ons het ons uitgawes tot op die been gesny. Dit is bevrydend om te besef met hoe min ‘n mens kan klaarkom. En glo my, ons doen onsself geensins tekort nie. Ons het net geleer om af te skaal en nee te sê vir dinge wat ons lewens onnodig kompliseer. Ons omarm eenvoud en ‘n minimalistiese lewenstyl. Dit hou ons skuldvry en ons vergader nie ‘n klomp onnodige bagasie om saam met ons te sleep nie. Op hierdie stadium gaan ek nog een maal per maand in dorp toe om die nodige kruideniers aan te vul, maar soos ons begin om groente en vrugte af te haal, hoef ek al minder inkopies te doen.
Het julle enige raad of wenke vir mense wat graag julle voorbeeld wil volg?
Kom eerder vroeër as later so selfonderhoudend as moontlik. Dit verg beplanning, opofferinge en harde werk, maar die belonings is weergaloos. Vir ons voel dit of ons vir die eerste keer diep kan asemhaal en leef. Ons geniet dit om so na aan die grond te leef. Dit is terapeuties en verskaf aan ons oneindige vreugde, vrede en selfvergenoegdheid. Ons is liggaamlik, geestelik en emosioneel gesond. Ook is ons elke dag dankbaar vir wat ons het en dat ons voluit kan lewe.
*Skuilname
