
Boekoorsig: Dink jouself gelukkig
‘n Splinternuwe uitgawe van dr. Pieter van Jaarsveld se topverkopboek getiteld Dink jouself gelukkig het pas by Lux Verbi verskyn. Dink jouself gelukkig het reeds in 2015 verskyn en daar het duisende eksemplare verkoop. Die boek is ses keer herdruk en uitverkoop alvorens dit nuut herskryf is. Die kernwaarhede van die oorspronklike boek is behou, maar hierdie nuwe weergawe is meer prakties ingestel. “Ek volg ‘n totaal nuwe benadering tot geluk en sluit nuwe vaardighede en tegnieke in. Ek glo hierdie weergawe sal makliker lees en makliker deel van jou lewe kan word,” reken die skrywer.
Dink jouself gelukkig beslaan 304 bladsye en sewe hoofstukke getiteld “Herbedraad hoe jy dink, en floreer”; “Leef positief”; “Praat positief met jouself”; “Wees dankbaar”; “Oor hoop en hulpeloosheid”; “Bou positiewe verhoudings”; en “Die volle arsenaal van geluk”. Daar is ook ‘n interessante Voorwoord, Inleiding en Slotgedagtes. Belangrike begrippe, navorsing, tegnieke en vaardighede word herhaal om lesers te help om die geheelbeeld te sien. Daar word aanbeveel dat lesers aantekeninge maak soos hulle deur die boek werk.
Ek het Dink jouself gelukkig in besonder geniet omdat die inhoud leservriendelik en kompak is en die lewensvaardighede aan die hand van voorbeelde en insiggewende vertellinge uitgelig word. Van Jaarsveld skryf op bladsy 9: “Hierdie boek gaan nie oor positiewe denke nie. Ek wil eerder vir jou wys hoe om jou gedagtes op te dateer deur jou brein te herbedraad. Ek wil jou neem op ‘n ontdekkingsreis van wat dit beteken om werklik gelukkig te wees, wat die hoogste vervulling van die menslike potensiaal is.” Hy verwys dan na drie geskiedkundige gebeurtenisse wat as inspirasie dien vir die lewensverrykende lesse en vaardighede wat ons op ons pad na geluk aanleer. Hy kyk onder meer na die lewe van Edith Eger, ‘n Auschwitz-oorlewende, en die trauma waardeur sy is. Ook na die bekende verhaal van Dawid en Goliat in die Bybel, en die gebeure in Akumal in Meksiko toe topnavorsers daar vergader het om te besin oor wat hulle kan doen om mense te help om ‘n gelukkiger lewe te hê.
Daar is indringende vrae wat lesers laat nadink. Jy kan byvoorbeeld jou huidige stresvlak of hoe optimisties jy is aan die hand van eenvoudige vraelyste toets. So kan jy ook jou huweliksverhouding evalueer. Ook raak jy meer bewus van jou gedagtes se bydrae tot jou eiewaarde asook die invloed van moontlike selfvervullende profesieë in jou lewe. Die mynvelde van toksiese positiwiteit word onder meer bespreek en daar word gekyk na die impak van negatiewe gedagtes en selfspraak, negatiewe nuusberigte en die oormatige gebruik van sosialemediakanale. Dink jouself gelukkig gaan egter nie net oor jou eie ingesteldheid en geluk nie. Dit verskaf doenbare wenke en raad oor hoe om ander by te staan, daar te wees vir hulle en ‘n verskil te maak. Jy leer ook om op die simptome en waarskuwingstekens van stres te let en word toegerus met tegnieke om dit te beheer.
My gunstelinghoofstuk is die een oor dankbaarheid. “As dankbaarheid ‘n daaglikse gewoonte word, verminder dit afguns, wrokke, gierigheid en bitterheid in jou lewe. Dit help ook om jou stres te beheer, jou veerkragtig ná ‘n traumatiese ervaring te verhoog, jou vinniger van ‘n siekte te laat herstel en verbeter jou algehele gesondheid. Dankbaarheid het ook ‘n positiewe invloed op jou verhoudings, verhoog jou gevoel van deernis, help jou om te vergewe en lief te hê, en bring jou nader aan God. … Dankbaarheid is ook die sleutel tot geluk. Dit verleng jou lewe regtig met nege jaar! En dink net aan al die goedvoelhormone wat dankbaarheid in jou liggaam help vrystel. Onthou, dankbaarheid is ‘n keuse en ‘n leefwyse wat groot belonings bring. Wanneer jy op al jou seëninge fokus, wanneer jy letterlik jou seëninge tel, kan dit jou gemoedstoestand verbeter, selfs wanneer die lewe moeilik is” (156).
Ek beveel Dink jouself gelukkig heelhartig aan. Dit is verrykende en insiggewende leesstof.
Meer oor die outeur:
Dr. Pieter van Jaarsveld is ‘n internasionaal-gerekende kenner en konsultant vir leierskapontwikkeling in die sakewêreld. Hy is gereeld ‘n gas op radio- en televisieprogramme en het verskeie topverkoperboeke geskryf. Vir sy doktorsgraad het sy tesis oor die selfdunk en eiewaarde van mense gehandel.
Kompetisie
Drie gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n eksemplaar van Dink jouself gelukkig wen. Die boekpryse kan slegs na adresse in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2025. (Let wel: Indien jy nie binne sewe werksdae reageer op die e-pos wat jou in kennis stel dat jy ‘n boek gewen het en jou afleweringsadres en foonnommer verstrek nie, verbeur jy die prys en sal ‘n ander wenner gekies word.)

Ek is op Kragdag 9 Augustus 20 dae van 80 jaar af. Verjaar op 1 September 2025. Springlewendig en bied nog programme aan wat kerkgangers help om met ander oor Jesus te praat. My Boek wat ‘n jaar gelede verskyn het, is ‘n handleiding is vir die program. Tilet van die Boek is, Deel Jesus met Vreugde. Saai die Evangelie. Dit het reeds die 1400 oplaag beryk. So ek dink en doen myself gelukkig. Die boek kan verder help. dankie Koos.
Baie geluk, Koos. Jy wen ‘n kopie van Dink jouself gelukkig. Ons sal jou per e-pos kontak.
Wat ‘n wonderlike hulpbron om jouself te help ‘n beter lewensuitkyk te laat ontwikkel…
Ek is seker my sussie sal dié boek baie waardevol vind. Sy sukkel op die oomblik baie met haar gesondheid. Sy ly aan fibromyalgia en slaapapnee. Dus wil ek graag dié boek vir haar gee vir haar verjaardag, want ek is seker dit sal haar help om haar kondisies beter te hantteer.
Baie dankie indien ek wel die boek wen!
Baie geluk, Mari. Jy wen ‘n kopie van Dink jouself gelukkig. Ons sal jou per e-pos kontak.
Ek graag wen wil my denke ver nuwe en ander inspreer om ook potief te dink.
Glo dat dit sal help om weer poitief in die lewe te kan wees
Baie geluk, Delena. Jy wen ‘n kopie van Dink jouself gelukkig. Ons sal jou per e-pos kontak.