Plant ’n moringaboom

Die moringaboom oftewel peperwortelboom is ’n snelgroeiende, supergesonde wonderboom wat in elke tuin hoort. Plaaslik groei dit glo veral goed in Limpopo, Vrystaat, Mpumulanga, Kwazulu-Natal en Gauteng.[1] Ons het ook ’n hele paar moringabome in ons tuin in die OosKaap. Daar is die Moringa oleifera wat inheems is aan die westelike Himalayas en Indië maar ook natuurlik in kusgebiede van Oos-Afrika voorkom. Dan is daar ook die Moringa stenopetala wat inheems is aan Afrika. Die boom word in Engels ook die Drumstick Tree genoem.

Enigiemand wat graag meer selfvoorsienend wil wees, moet dit oorweeg om ’n moringaboom of drie aan te plant of van saad af te groei. Waarom sal jy ten duurste moringaprodukte (poeier, tablette, olie, sap, ens.) wil aankoop, wanneer jy hierdie immergroen boom self kan aanplant of van saad af groei? Elke deel van die plant is bruikbaar. Oudjoernalis Jurie van der Walt skryf in sy artikel getiteld “Boereblog: ’n Hele supermark aan dié stam” in die Landbou Weekblad (16 April 2020) dat Afrikane die moringa die “huisvrou se beste vriend” noem. Dit is veeldoelig en beskik oor baie medisinale eienskappe.

Ek lees in An illustrated guide to medicinal plants of East Africa (Struik Nature, 2022) dat mens die wortels, blare, blomme, vrugte (peule), bas, saadolie en gom van dié boom kan gebruik vir mens en dier. Moringas kan, net soos die nederige spekboom, ’n groot rol speel om hongersnood te verlig en wanvoeding te help voorkom. Eet die blare net so (dis heerlik!), versap dit of droog en verpoeier dit om in skommels of oor en in jou kos te geniet as voedingsaanvuller. Jy kan ook die bas en peule droog en verpoeier of aftreksels maak van die blare, blomme, wortels en bas. Die sade in die peule bevat olie wat vir verskeie kwale gebruik word en ook gesog is in seep-, haar- en parfuumprodukte.

Tradisioneel word verskillende dele van die moringaboom gebruik vir onder meer impotensie, artritis, diabetes, hoëbloeddruk, brongitis, maagpyn, velinfeksies, inflamasie, koors, melaatsheid, diarree, infertiliteit, malaria en asma. Van der Walt skryf in bogenoemde blog: “Afgesien van die boom se eetbare dele, is daar ook ander gebruike wat die lewe in Afrika se platteland geriefliker maak, soos lampolie, smeermiddel, vuurmaakhout, papier, vloeibare brandstof, medisyne vir die vel, watersuiwerig en skadu teen die hitte.”

Moringa word as ’n supervoedsel beskou. Dit is ryk aan aminosure (goeie nuus vir vegetariërs wat nie proteïene deur vleis inkry nie), minerale (veral kalsium, yster en magnesium) en vitamiene (veral Vit. A, C & B6 en Riboflavin). Dit is ook laag in vet.[2] Dit bevat 10 keer meer Vit A (betakaroteen) as wortels. Poeier van die blare bevat 28 mg yster in vergelyking met bief wat slegs 2 mg bevat. Sogende moeders sal ook bly wees om te verneem dat die blare borsmelkproduksie aanmoedig.[3]

Dit is duidelik dat geen huishouding sonder hierdie wonderboom kan klaarkom nie. Plant nog vandag een of meer in jou tuin sodat jy en jou geliefdes kan deel in die gesondheidsvoordele.

Gaan lees gerus hier hoe ’n passievolle vroueboer genaamd Maboang Matlou van Bosplaas in Noordwes sedert 2016 met moringa woeker.

[1] https://www.wikiwand.com/af/Moringaboom

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Moringa_oleifera (Webskakel besoek 27 Jan. 2023).

[3] https://southafrica.co.za/moringa-miracle-medicine.html

Grafika: Pixabay

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Ja Moringa bome is baie mooi ons het al n paar hier in pretoria geplant en hulle groei baie mooi
    Maar die muisvoels vreet vir hom tot op die grond

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui