Selfvoorsienend: Só doen die Niemands dit
Tuisteskepper Clari Niemand en haar man, Barend, (albei in hul vyftigs) is naweekboere op ’n plaas naby Dullstroom in Mpumalanga. Deur die week woon hulle in ’n gerieflike, opgeknapte ou huis in Clubview, Centurion, wat hulle reeds in die 90s gekoop het. Hulle het drie kinders waarvan die jongste vanjaar in matriek is. Barend besit sy eie toetstegnologiebesigheid in Gauteng.
Die Niemands waardeer die voorreg om hulle eie grond te besit. Dit is vir hulle belangrik om die meeste te maak van beide hul plaastuin en groot voorstedelike erf met plantruimte, boorgat, besproeiingstelsel en sonpanele. Hulle woning in die stad het ’n boorgat en daar is besproeiingsisteme – desjare kon huiseienaars mos na hartelus water gebruik, want daar was nie sprake van waterskaarste en ’n energiekrisis nie. Daarby het hulle ook ’n solarsisteem laat aanbring om selfvoorsienend te wees wat elektrisiteitsverbruik aanbetref. Deeglik bewus van die ekonomiese en ekologiese faktore wat voedselsekuriteit wêreldwyd bedreig, waardeer hulle die bronne tot hul beskikking en begin hul meer selfvoorsienend raak wat kos aanbetref.
Clari het iewers gelees dat mens nie selfvoorsienend in álles hoef te wees nie, maar wel in iéts behoort te wees. Hulle reis om selfvoorsienend wees, het dus geleidelik begin en is ’n aaneenlopende proses. Sy moedig KragDag-lesers aan om aanvanklik klein aanpassings te maak en daarop voort te bou. “Koop ’n bakkie slaaiplantjies en plant hulle tussen jou rose. Lei hulle (saam met die rose) elke dag nat met jou stortwater. Wanneer jy oor ’n week of drie daardie duur pak blaarslaai net daar op die winkelrak los omdat jy jou eie kraakvars blaarslaai in jou tuin kan pluk, het jou reis begin. Dis nie net lekker om te weet waar jou kos vandaan kom nie, maar jy het ook meer beheer oor die hoeveelheid plastiekafval wat jy nalaat.” Sy is fanaties antiplastiek en poog om so min moontlik nieherwinbare verpakkingsmateriaal te gebruik.
Clari noem dat nood hulle leer planne maak het. “Ons draai al die jare nog elke sent om. Ek weet hoe om kosbegrotings te rek sodat ons ook in die werkers (op ’n stadium vier families sonder wie se hulp ons naweekboerdery onmoontlik sou wees) se basiese kosbehoeftes kan help voorsien.” Hulle plant tans groente en vrugte hoofsaaklik vir eie gebruik, maar verkoop wel soms surplusprodukte suksesvol in die stad. “WhatsApp-groepe wat plaas-tot-tafel kosnetwerke is, is vir ons goud werd.” Op die plaas moes hulle die groentetuin behoorlik omhein, met net toespan en die grond reg voorberei voor hul geplant het. “In die stad het ek glad nie ’n afgemerkte groentetuin nie, maar plant oral groente, kruie en blomme deurmekaar in die beddings om die huis. Dit is ’n geleidelike, organiese ontwikkeling, maar ek prioritiseer al meer watter dele van die grasperk ek kan vervang om meer kos te groei.”
Hulle slag twee keer per jaar bees en verkoop die gesonde, organiese vleis teen helfte van die winkelprys aan familie en vriende. Clari het leer kaas maak en hou plaashoenders aan vir eiers en vleis. Sy het ook in die stad vier Potch-koekoekhenne, wat genoeg eiers lê vir die gesin en terselfdertyd waardevolle goggajagters in die tuin is. “Ek het ook nou al amper my ritme gekry met suurdeegplantjie-broodbak, waarvoor my man met sy effense koringintoleransie baie minder sensitief is as gewone brood. Ons is omtrent 60% selfvoorsienend. Barend hou ook byekorwe op die plaas aan sodat ons ons eie heuning kan hê. Ons ondersteun ook graag ander selfdoen-voedselverskaffers sodat ons minder by supermarkte hoef te koop.”
Die Niemands eet soveel as moontlik seisoenaal en plaaslik. “As iets soos avokados buite seisoen is en ingevoer word, is dit nie op ons spyskaart nie. Ons eet wat die tuin vir ons gee of wat ons teen ’n goeie prys kan aanskaf. Ek moes leer hoe om produkte wat in oorvloed is te preserveer vir gebruik op ’n later stadium. Die beste kombuistoestel waarin ek ooit belê het, is ’n Milex drukkoker wat ’n inmaakfunksie het. Daarmee kan ek klein, hanteerbare hoeveelhede op ’n slag maklik en goedkoop preserveer. ’n Goeie voorbeeld is kekerertjies oftewel chickpeas. Ons gesin gaan deur blikkies daarvan soos deur tjoklits, en die blikkies kos nou al sowat R25 elk. Vir R25 koop ek ’n 500 g sakkie droë kekerertjies en week dit vir ’n paar uur in water, dan spoel ek dit af, kook dit vir 30 minute en skep dit ná afkoeling in vyf botteltjies saam met die water waarin dit gekook is. Ek plaas in elke botteltjie ook ’n halwe teelepel sout, ’n teelepel wit asyn en ’n lourierblaar (as ek so voel). Dan laat ek die Milex die werk doen vir 75 minute. Siedaar: vyf maal die ingelegte kekerertjies vir die prys van een blikkie!”
Een van die uitdagings wat die Niemands ondervind, is die feit dat hulle nie permanent by enige van hul twee huise bly nie. Dinge val dan maar soms deur die krake. “Ek het byvoorbeeld Desember al die saailinge wat ek reeds in November op die plaas in bakkies aan die gang gekry het, verloor omdat ek dit nie betyds kon uitplant in my stadstuin nie. (Ons kon vir drie weke nie op die plaas uitkom nie.) Soms loop ons ook die piek oestyd van die vrugtebome op die plaas mis weens ons verantwoordelikhede in die stad.” Hulle leer egter deur elke ervaring en probeer om volgende keer beter te beplan. Verder lees hulle graag op oor hoe ander mense selfvoorsienend raak, kyk YouTube-video’s en behoort aan Facebook-groepe waar mense raad en wenke deel oor hoe om meer selfstandig en onafhanklik van die sisteem te word.
Die Niemands is dit eens. “Elke oes, hoe gering ook al, is ’n suksesverhaal. Mens put ongelooflike bevrediging daaruit as jy laatmiddag jou eie groente gaan pluk in die tuin om aandete te maak. Dis so lekker om te kan sê: “Alles op hierdie bord, die suurdeegbrood, die vleis, die kaas en die groente en vrugte het ons sélf voorsien.” Hulle moedig KragDag-lesers aan om al meer selfvoorsienend te raak. Begin vandag nog.