Om swaarkry met lekkerkry klaar te kry
Die Junior Entrepreneurskompetisie by KragDag
‘n Maklike toekoms vir jongmense lyk, met die huidige stand van sake in die politiek en die ekonomie, nie belowend nie. Selfstandigheid, inisiatief en oplossings vir verskillende lewensterreine, waarvan een entrepreneurskap is, is egter ’n sentrale fokus by KragDag en daarom moedig ons graag ’n ingesteldheid van “swaarkry met lekkerkry klaar te kry” by jongmense aan. Van daar die KRAGkidz Junior Entrepreneurskompetisie wat jaarliks by KragDag gehou word.
Die kompetisie is vir alle jongmense onder 21 jaar en motiveer hulle om met hul eie besigheidsidee vorendag te kom en deur te voer. Die kompetisiehoogtepunt is die jaarlikse KragDag Ekspo waar die deelnemers hul besighede moet uitstal en bedryf en waar hulle beoordeel word. Elke probeerslag bring die deelnemer nader aan sukses en met sukses is die bedoeling veel meer as die moontlike wen van die kompetisie – al is daar groot pryse op die spel. Die werklike sukses waarvoor gemik word, is ‘n funksionerende besigheid wat reg deur die jaar inkomste vir die junior entrepreneur kan bewerk. Deelname aan die kompetisie gee die jongmense ‘n hupstoot om die wiele te laat begin rol vir ’n suksesvolle en selfstandige onderneming en so hul eie toekoms te begin bou.
Die kompetisie word aangebied deur KragDag en Fergus Ferguson, ’n uitnemende besigheidsafrigter van Fergusmor – Action Coach, met die ondersteuning van Pretoria FM en Helpende Hand. Die beoordelaars is uitgesoekte suksesvolle besigheidsmanne en -vroue wat motivering en raad vir die junior entrepreneurs kan gee. Die kompetisie pryse sluit in: Kontant pryse (R10 000 vir eerste prys), gratis besigheidsopleiding persoonlik aangebied deur Fergus Ferguson en Entrepreneurs Wizard se kort kursusse geborg deur Helpende Hand.
Deelnemers kompeteer in twee verskillende kategorieë: Voete Natmaak is vir die jongspan – deelnemers onder 13 jaar en Doelgerig is vir die ernstige entrepreneurs – deelnemers bo 13 jaar. Jong entrepreneurs wat nie aan die kompetisie wil deelneem nie, maar nogtans hulle produkte wil verkoop, kan as ’n vir die Vir die Pret entrepreneur aan die ekspo deelneem. Inskrywings kos R115 en die sluitingsdatum is 12 Julie 2019.
Verlede jaar se wenners was:
- Darian Grobler (12) wat met bye boer en heuning verkoop.
- Michelle van der Vyfer het haar eie tuisnywerheid besigheid, Valtaki Varsgebak. Haar gebak verskaf reg deur die jaar aan mense smaakgenot.
- Cloete (18 jaar oud) wat met sy skaapskeer demonstrasies by die KragDag ekspo mense gefassineer het en met sy besigheid, Vlymskerp Skaapskeerdienste, skeer wyd en syd skape vir boere.
- Phillip de Beer vervaardig op vindingryke wyse uit herwinde materiaal goedkoop en effektiewe vuuraanstekers.
Vir meer inligting of om in te skryf besoek https://www.kragdag.co.za/webtuiste/stal-uit/junior-entrepreneur of skakel met KragDag by navrae@kragdag.co.za of 087 231 1644.