Die Amerikaanse naelperd
Hierdie stewige, betroubare perde is ideaal om stadige roetes te ry, maar vinnig genoeg om reining en western games te wen.
Agtergrond
Die naam “American Quarter Horse” (Afrikaans: “naelperd”) is ‘n geregistreerde handelsmerk wat net gebruik kan word vir suiwer, geregistreerde naelperde. Daar is nie so iets soos ‘n “gedeeltelik geteelde naelperd” of ‘n “ongeregistreerde naelperd” nie. Geleë in Amarillo, Texas, het die “American Quarter Horse Association” (AQHA) al meer as 5 miljoen perde geregistreer met meer as 350,000 lede wêreldwyd. Beleid, wette, skou- en telingsreëls, asook volledige konformasie-kriteria, kan afgelaai word vanaf AQHA se webwerf. Suid-Afrikaners kan by AQHA aansluit en aan plaaslike sowel as internasionale skoue deelneem. Die Amerikaanse naelperd is ook op die lys van perderasse wat deur SA Stoetboek geregistreer is.
Geskiedenis
Naelperdbloedlyne gaan terug na Noord-Afrika deur hul Spaanse voorsate wat saam met Cortez na Amerika geneem en gebruik is tydens sy verowering van Mexiko. Inheemse Chickasaw Indiane (inheemse Amerikaners) het met hierdie vinnige, geharde Spaanse Barb- of Berberperde geteel. Die perde so vroeg as 1611 met ingevoerde Engelse volbloedperde gekruis. Hul nageslag is gebruik vir perde-wedrenne en het bekend geword as die “American Quarter Running Horse“. In 1752 is ‘n kleinseun van die Godolphin Arabierperd, genaamd Janus, ingevoer en geneties ingevoeg by wat later die vinnigste renped in die wêreld geword het. Tydens moderne perdewedrenne is al ‘n spoed van 88 km/h vir naelperde gemeet!
Behalwe vir perdewedrenne, is hierdie ras ook gebruik deur Cowboys om die Amerikaanse weste te tem ten einde beesboerdery daar te ontwikkel. Die beesbedryf het ná die einde van die Amerikaanse burgeroorlog met erns begin ontwikkel. Beeseienaars en Cowboys het groot waardering vir die naelperd gehad. Aanvanklik is beeste wat wild geword het in die bosveld van Suid-Texas bymekaar gemaak in troppe, wat noordwaards aangejaag is tot by die spoorlyn in Kansas. Die naelperd was die enigste perd wat die werk kon doen wanneer die wilde beestroppe in doringveld met vangtoue gevang en daarna op die Chisholm-roete aangejaag moes word. Terselfdertyd is daar dan met dieselfde perde wedrenne in die stowwerige strate van Kansas beesdorpe soos Dodge City en Abilene gehou.
Die taai stewige naelperde met hulle ongelooflike spoed was ook baie veelsydig. Vanuit Texas was ‘n bekende hings genaamd Steeldust afkomstig. Van sy nakomelinge is tydens die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika as kavallerieperde uitgevoer. Die naam “American Quarter Horse” is geskep deur ‘n Engelsman: William Anson. Hy het meer as 20 000 perde vir die Britse regering in Texas gekoop en hulle na Suid Afrika uitgevoer. Die nageslag van hierdie perde wat die oorlog oorleef het, se bydrae van tipiese Amerikaanse naelperd-kleure soos “sorrel”, “palomino” en “line-backed dun“, kan vandag nog in ons boerperde gevind word.
In 1973 het ons bekende gholfspeler, Gary Player, die eerste geregistreerde naelperde na Suid-Afrika ingevoer. Lynn Muller, wat destyds ‘n bekende skouspringruiter was, het gehelp om hierdie perde af te rig, wat baie suksesvol in Engelse ryklasse en in gymkhana was. Sy het ook deelgeneem in ope skouspring-klasse met die naelperd merrie, Fritterbit, wat ‘n vol-suster van Big Chet was. Lynn Muller het later die dissipline van western-rykuns in Suid-Afrika begin en was betrokke by Suid-Afrika se aansluiting by die AQHA. Later het sy die eerste internasionale FEI reining-skou gefasilliteer, wat in 2011 in Parys gehou is. Arabesque Arabier- en Naelperd Stoet het sedert 1990 met Lynn Muller saamgewerk. Cheryl McCrindle het die ingevoerde QH merrie Ms Whizzen Jac gery om die eerste Suid-Afrikaanse Reiningkampioenskap in 2011 te wen. Cheryl het reeds haar SA kleure in 2010 gekry tydens die Wêreld Perdesport Spele (WEG) in Kentucky, omdat sy die merrie Ses Smart Star besit het. Hierdie ongelooflike naelperd-merrie, gery deur Shane Borland, was die eerste Suid-Afrikaanse inskrywing in die FEI-sport van reining, by die WEG.
Sarah Jane McCrindle-Vermeulen, Cheryl se dogter, stel ook in naelperde belang en het besluit om die uitdaging te aanvaar om ‘n internasionale beoordelaar van naelperde te word. Sy het toe al reeds haar eksamens voltooi om ‘n gekwalifiseerde afrigter en ry-instrukteur in Suid-Afrika te wees. Sarah-Jane is tans die enigste internasionale AQHA-beoordelaar in Afrika.
Waarom is die naelperd wêreldwyd so gewild?
Die Amerikaanse naelperd is bekend vir hul betroubaarheid en veelsydigheid onder die saal en dat hulle ‘n koelkop het. Hulle is gesog vir lang afstande, maar is ook vinnig genoeg om jou uit die moeilikheid te kry as jy ‘n verwoede buffel op ‘n wildsrit ontmoet. As gevolg van hul spoed, presteer hulle by perdesport (mounted games) in Suid Afrika en is die vinnigste renperde in die wêreld. Die internasionaal erkende sport van reining word teen hoë spoed gehardloop, met deelnemers wat in ‘n stofwolk tol en gly. As jy ‘n stadiger, meer tegniese styl van perdry verkies, probeer die western trail-, pleasure- of horsemanship-klasse. Naelperde presteer ook in western- asook cowboy-dresseerklasse. Jy kan hulle met Engelse saals ry en met hulle in polo of skouspring kompeteer. Die SA Ruiterkuns-skole Vereeniging (SANESA), bied ook western-klasse aan, waar skoolkinders provinsiale en nasionale kleure in perdry kan verwerf.
Western-perdry beteken nie net om ‘n western-saal en -toom op ‘n perd te sit nie. Dit is heeltemal ‘n ander rystyl – waar die perd in balans met die ruiter beweeg. Omdat die leisels los is, kan die ruiter dit nie as ‘n lewenslyn gebruik nie. Die ruiter moet hom- of haarself in die middel van die saal balanseer en uiteindelik met net een hand ry, soos die outydse boere gedoen het – sit-sit-so! Naelperde is nader aan die grond as ander rasse soos byvoorbeeld die Engelse Volbloed of die Duitse Warmbloed – amper soos ‘n 4×4-voertuig. Hulle is dus meer natuurlik gebalanseer as ander rasse wanneer hulle in klein sirkels of oor ruwe terrein gery word.
Nog ‘n voordeel van die naelperd is dat AQHA-lede geregistreede ryperde of teelperde kan huur of koop. Maak seker dat jy belê in ‘n geregistreerde perd wat negatief getoets het vir die 5-paneel genetiese toets en dat jy in besit is van ‘n internasionaal erkende stamboom-sertifikaat wat registrasie vir ‘n leeftyd bewys.
Arabesque Arabier- en Naelperd Stoet
Arabesque Stoet is in 1972 deur Cheryl McCrindle begin, toe sy haar eerste perd, ‘n geregistreerde Arabiese teelmerrie: Vidiko Karika van Oom Vic Voorendyk gekoop het. Karika se kleindogter, Arabesque Karushka, wat Crabbet geteel is, bly steeds in die stoet. Iewers in 1980 het Cheryl aan ‘n kliniek deur Jack Maritz, die vooraanstaande Arabierteler, deelgeneem; waar sy die western-rystyl en beoordeling geleer het. Sy het toe begin om haar perde op die western-manier te leer en oefen. Sarah Jane McCrindle, Cheryls se dogter, het op daardie stadium skouspring, in the kinder-afdeling gedoen. Die Anglo-Arabier reun, El Moya Talisman, ‘n Junior Graad B skouspringperd, is vir haar gekoop, maar het ‘n neiging gehad om by die skoue op loop sit. Nadat hy op die western-manier opgelei is, het Talisman alles in die skouspring arena gewen. Hy het ook een van die eerste perde geword wat suksesvol aan reining in Suid-Afrika deelgeneem het, aangesien hy op ‘n gallop die leibeen kon verander, die sogenaamde “flying changes”. Sarah-Jane het toe besluit dat sy ‘n regte naelperd wou besit en Bronco Captain Cape het die hoofteelhings op Arabesque Stoet geword. Vandag gebruik Arabesque Stoet van die beste ingevoerde naelperd-bloedlyne in Suid-Afrika. Hulle het ook goedopgeleide perde wat gery kan word deur diegene wat wil uitvind hoeveel pret is dit is om te leer om soos ‘n regte cowgirl of cowboy te ry!
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Die foto bo die artikel wys hoe die berperde die kleure van die naelperde geerf het. Die sogenaamde “cowboy”wat sy perd op stywe teuls en albei hande vashou ry nie op n’ naelperd nie – net ‘n ” palomino” gekleurde perd wat ‘n bietjie “boerperd” in sy agtergrond het. Werklike boere en cowboys ry met een hand sodat hulle met beeste kan werk . Kyk hoe ‘n werklike “cowboy” op ‘n werklike naelperd ry en beeste werk die volgende Youtube video. GENIET! Dit is hoe ons naelperde werk as ons wil beeste werk.
https://www.youtube.com/watch?v=ycMS2taIl88
Jammer vir die verkeerde foto Cheryl. Ons het dit met ‘n ander foto vervang.
Baie dankie – die nuwe foto wys hoe die hele familie saam hulle naelperde kan geniet.
Dis nou ‘n oulike artikel – laat my regtig dit sterk oorweeg om een aan te skaf. Baie dankie!