Boekoorsig: Die Anglo-Boereoorlog in kleur Volume II

Die Anglo-Boereoorlog in kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902, Volume 2 deur Tinus le Roux word deur Protea Boekhuis uitgegee. Dit is die opvolg van Die Anglo-Boereoorlog in kleur: Konvensionele Oorlog, 1899-1902, Volume 1 wat deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee is.

Kommentaar deur Albert Blake pryk op die agterblad: “Die meesterlike inkleur van die swart-en-wit foto’s bied ‘n realistiese beeld van die traumatiese Anglo-Boereoorlog. Hierdie boek hoort op elke geskiedenisliefhebber se boekrak.”

Die bewoording op die agterblad lui: “Hierdie volume dek die guerrillaoorlogvoering vanaf 1900 tot 1902 en wys Boeremagte in die veld, Kaapse invalle, treinvernielers en teregstellings, terwyl Britse magte uitgebeeld word in treffende foto’s wat die kamplewe, artillerie, blokhuise en pantsertreine wys. Hartroerende foto’s beeld die tragedie van die verskroeideaardebeleid uit, veral in die konsentrasiekampe. Die doen en late van Boerekrygsgevangenes in oorsese kampe word insiggewend weergegee waarna die vredesproses en interessanthede oor die nasleep van die oorlog uitgelig word. Lesers sal talle ikoniese foto’s herken asook verskeie beelde sien wat nog nooit gepubliseer is nie. Hierdie boekreeks, die eerste in sy soort in Suid-Afrika, bring ‘n vars perspektief en omskep die oorlog in ‘n lewende geskiedenis.”

Ek het met die deurblaai van hierdie pragpublikasie diep onder die indruk gekom van die werklikheid en tragedie van die oorlog. Die gekleurde foto’s bring ‘n diepte en nuanse na vore wat die gebeure helder voor oë bring en die geskiedenis daaragter herroep.

Dr. Johan van Zÿl skryf: “Die kragtigheid en geloofwaardigheid van dié gebeure in kleur bevestig die deeglike navorsing wat Le Rouz gedoen het rondom klerasie, die kleure van uniforms, militêre toerusting, strukture en alledaagse gebruiksartikels. […] Wat hierdie publikasie nog meer besonders maak is die feit dat daar ook aandag geskenk word aan die nasleep van die Anglo-Boereoorlog. So byvoorbeeld het die republikeinse rolspelers in die oorlog opponente geword in die Rebellie van 1914. Die publikasie sluit ook die verhaal in van die Ossewabrandwag wat die heroïese van die Anglo-Boereoorlog gepropageer het en weer nasionalisme in die oorlogsjare van 1939 tot 1945 laat opvlam het.” (6)

Tinus le Roux skryf: “Ek hoop dié boek sal help om hierdie fassinerende en ryke geskiedenis ook aan ons jeug bekend te stel en sodoende ‘n leemte in die huidige skoolkurrikulum te vul. Mag dit hulle en en ook ander belanghebbendes aanmoedig om meer oor die oorlog te wete te kom en betrokke museums, slagvelde en gedenkplekke te besoek.” (7)

Volume II van Die Anglo-Boereoorlog in kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902 beslaan 264 bladsye. Daar is ‘n voorwoord, ‘n inleiding en ‘n oorsig van die guerrillaoorlog en ses albums, naamlik: Boeremagte: Veg en beweeg, Britse magte: Soek die vyand, Die aarde word verskroei, Boerekrygsgevangenes: Ver oor die diep blou see, Vrede en Nasleep. Die boek is in groot formaat: 260 mm x 230 mm.

Le Roux besit sy eie koringmeule en Kaapstad. Hy is ‘n geskiedenis-entoesias en kleur al sedert 2014 historiese swart-en-wit foto’s oor die oorlog in. Besoek gerus sy Facebook-blad Boer War Colourised Photographs, wat 44 000 vriende het.

Lees ook my oorsig oor Die Anglo-Boereoorlog in kleur hier.

Skaf jou kopie hier aan.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van Die Anglo-Boereoorlog in kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902, Volume 2 wen met die komplimente van Protea Boekhuis. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel hoekom jy graag ‘n kopie sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Mei 2026.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

16 Comments

  • Ek het so ruk terug van hierdie boek te hore gekom en glo om die oorlog in kleur te sien sal dit ‘n intieme en noodsaaklike ervaring maak. Dit is ‘n moet-hê

  • Met die geskiedenis kurrikulum in skole wat al meer gebrekkig en ongebalanseerd raak het boeke oor die Afrikaner geskiedenis en dan veral ook die Boereoorlog noodsaaklik geword vir kinders om die volledige prentjie te kry.

  • Saamstaan Boere, hier kom die Engelse!!!

  • Ek wil met jou praat oor n BOEK wat JY moet skryf.

  • ek wil met jou praat om te hoor of jy nie n boek sal skryf nie .

    PvdWatt

  • Die kleurfotos laat jou besef hoe werklik en waar geskiedenis is. Nie net iets uit due verre verlede nie. Dit maak geskiedenis leef

  • Ons lees nou onlangs in die nuus dat ons Afrikaner Geskiedenis nou heeltemal uit die skool sillabusse gaan verdwyn. My kinders, veral my oudste stel gelukkig baie belang in ons erfenis en Geskiedenis en het op jong ouderdom al gevra dat hy Anglo-Boereoorlog Volume 1 wil hê toe daar vir die kinders gesê is om elkeen’n boek te kies in die boekwinkel. Hy sal Jopie Fourie en Genl.de la Rey vir jou in dié boek kan uitwys. Ek dink hy sal Volume 2 ook baie waardeer.
    Dan hou ook natuurlik baie van die Geskiedenis van Napoleon….

  • Die Anglo Boereoorlog lê my na aan die hart met my oupa wat self krygsgevangene was.
    Ek het ook in laasjaar ‘n Engelse boek aangekoop genaamd The Anglo-Boer War in 100 objects.
    Hoerdie boek sal my versameling daaroor sterk aanvul.

  • As stoere Afrikaner verslind ek absoluut alle leesstof wat betrekking het op die ontstaan van die Boerevolk, en sal bv ‘n boek soos dìè meer as eenkeer lees om al die inligting my eie te maak.
    Gee vir my een asseblief!!!

  • Goeie dag!
    Ons sal baie graag in aanmerking wil kom vir die boek Die Anglo-Boereoorlog in kleur. Ek tuisskool my 3 seuns, (14,13 en 10) en dis vir ons belangrik dat ons hul Afrikaanse geskiedenis leer. Ons was onlangs by die Militêre Museum in Johannesburg wat ons almal se belangstelling in ons Afrikaner geskiedenis geprikkel het. Ons het besef hoe ryk dit is en dat ons nog soveel gate het in ons prentjie. Ons was ook daarna by Paul Kruger se huis in Pretoria, en by Hartenbos Museum in Hartenbos. Ek sou nog n keer by die Voortrekker Monument wou uitkom, maar ons verhuis nou Hartenbos toe oor 2 weke.
    Hierdie boek is op ons wenslysie om ons kurrikulum aan te vul en n erfstuk te wees vir ons seuns.
    Dankie vir jul goeie artikels!
    Groete
    Henk en Liza

  • Met die nuutste verwikkelinge in die Onderwys om Afrikaner Geskiedenis heeltemal mee weg te maak en te ver-Afrikaniseer, is dit belangriker as ooit om jou kinders self die Geskiedenis te leer. My kinders, veral my oudste geniet ons eie Geskiedenis baie. Soveel so, dat toe daar eendag gesê word dat elkeen maar ‘n boek in die boekwinkel mag kies, hy volume 1 van die Anglo-Boereoorlog in kleur gekies het. Hy kan Jopie Fourie en Genl. de la Rey op die fotos uitwys. Ek dink hy sal baie graag Volume 2 ook baie waardeer.

  • My Oupa het in die Boere Oorlog bekly vir vrede in die unie van Suid Afrika. Hy vas soos ek verneem n gevange wat op die Kanarie eiland geplaas was. Ek wil sograag weet hoekom is hy daar en wat het gebeur
    toe hy terug van die eilande gekom. J.Booysen booysenjan319#gmail.com

  • Gratis Boek Geskenk:
    Die Anglo-Boereoorlog in kleur: Guerrillaoorlog, 1900-1902, Volume 2 deur Tinus le Roux
    Ek sal die Boek graag vir my 2 kleinseuns in Grootfontein, Namibie as geskenk wil gee, sodat hulle volks-Geskiedenis nooit verlore sal gaan vir hulle nie.
    Janet vRensburg

  • Goeiedag
    Van jongs af is “ons geskiedenis” vir my man en myself bitter belangrik!
    Geskiedenis en Bybel was van die eerste belange waaraan ons kinders van kleins af heel eerste blootgestel is!!
    Dit is vir ons SO belangrik dat die jeug van vandag MOET weet waar hul vandaan kom en die “regte waarheid” daaromtrent!
    Ek kan werklik en eerbaar sê “ons geskiedenis” lê ons hele gesin na aan die hart.

    Baie dankie xxx

  • Ek sal grrag die boek wil ontvang om meer van die stories agter die storie te lees.

  • Hallo, ek sal graag die boek wil wen, want ek is mal oor geskiedenis en fotografie. Ek stel veral belang in fotografietegnieke.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui