Net sestig oeste oor?
Ek het onlangs Philip Lymbery se opspraakwekkende boek getiteld Sixty Harvests Left gelees wat na die gevolge van industriële boedery kyk. Hier is die gedeelte wat rillings by my ruggraat laat afhardloop het en waarvan elke mens op die planeet notisie van behoort te neem, want dit affekteer elkeen van ons:
For millennia, the soil provided the food that allowed civilisation to flourish. But a single human lifetime ago, we started to break the bond, to tear up the contract with the soil, when we lost sight of food and soil as part of nature. We started to remove farm animals from the land and place them in confinement, regarding animals as machines and the soil as little more than a growing medium. Instead of returning organic matter to the soil, we applied chemical fertilisers, which fed the plant but undermined the soil as a living ecosystem, with far-reaching consequences. This new approach to farming led to a huge leap in food production, but it could well be the undoing of us. As the UN Food and Agriculture Organizations puts it, “this intensive crop production has depleted the soil, jeopardizing our ability to maintain production … in the future’. Soils are ebbing away so fast that they could be useless or gone in a lifetime. And then what? No soil, no food, game over. According to the UN, if we carry on as we are, there could be just sixty harvests left in the world’s soils. Time is running out.
Die outeur wys daarop dat ons die wyse waarop ons voedsel produseer, sal moet heroorweeg indien ons die dreigende katastrofe wil afweer. Gou ook! Maar gelukkig het die globale reaksie op die Covid-19-pandemie gewys dat die wêreld wel in staat is om saam te werk om groot veranderinge te implementeer as dit moet. Hy reken dat, om so vinnig moontlik op te tree, ons die probleem op verskeie maniere moet benader. Ons sal byvoorbeeld regeneratiewe boerdery moet toepas en minder moet staatmaak op voedsel van dierlike oorsprong sodat die grond kans kan kry om te herstel. Daar is dus hoop dat ons nog die skade kan omkeer. Dankie ook aan verantwoordelike boere wat die natuur eerste stel en daarop ingestel is om volhoubaar te boer.
Lymbery wys in hierdie lewensbelangrike boek op die geleenthede wat bestaan om tradisionele wysheid met nuwe perspektiewe te kombineer en ook tegnologie in te span om die platteland te omskep in florerende ekosisteme … en dit alles begin by grond. Hy stel die leser bekend aan die pioniers, rebelle en revolusionêre wat reeds besig is om die veranderinge te skep wat ons nuwe voedselera moet inlui. Daar is boere wat regeneratief boer, weer gesonde, vrugbare grond opbou en die natuur toelaat om te floreer. Dan is daar voedselinnoveerders wat byvoorbeeld uit selkulture vleis skep, en ook die boere wat vertikaal boer op ’n fraksie van die grond wat tradisioneel benodig is om dieselfde hoeveelheid voedsel te verbou. Fermenteerders produseer brood en wyn deur middel van tradisionele metodes met ’n moderne kinkel wat spesifieke proteïne skep. Al hierdie metodes kan help om voedselsekuriteit vir die planeet te verseker.
Wat kan ek en jy doen?
Maar hoe raak dit vir jou en my? Hoe kan ons betrokke raak en ons deel doen sodat ons nageslag ’n hoopvolle toekoms het en nie voedselskaarste sal hoef te trotseer nie? Ons kan in ons eie tuine begin deur ons eie organiese groente, vrugte, kruie en speserye te kweek. Plant plante wat bye en insekte lok. Weier om giftige plaagdoders in jou tuin te gebruik. Begin jou eie komposhoop en gee sodoende terug aan die natuur. As elkeen van ons die waarde van vrugbare, onbesmette grond besef en dit verantwoordelik bewerk en beskerm, dra ons daartoe by om bewusmaking te kweek dat ons vir ons kleinkinders ’n hoopvolle toekoms wil gee.
Gaan kyk gerus hier en hier hoe ek en my man, Jaco, ons deel doen as dorpenaars deur ons eie eetbare tuin in stand te hou.
Philip Lymbery is onder meer die uitvoerende hoof van die plaasdierwelsynsorganisasie Compassion in World Farming. Hy ondersteun die wêreldwye “Stop Financing Factory Farming”-veldtog. Skaf gerus sy Sixty Harvests Left (Bloomsbury Publishing PLC, 2022) hier aan en lees self hoe ons ’n natuurvriendelike toekoms tegemoet kan gaan.
Jou aanname is foutief en ook die van die skrywer. Die grond is oor uitgeput agv oor boardroom van plante. Derhalwe kan slegs die diere deur regenratiewe boerdery dit herstel.So diere produkte is die antwoord!