’n Eetbare tuin in die dorp (2)

KragDag-lesers sal onthou dat ek in Februarie vanjaar ’n artikel geskryf het oor ons eetbare tuin in die dorp. Lees gerus die artikel hier om jou geheue te verfris. Dit is nou ses maande later, en ten spyte van baie streng waterbeperkings (slegs 25 liter water per persoon per huishouding per dag) floreer ons tuin hier in die droogtegeteisterde Jeffreysbaai.

Ek stap daagliks reg rondom die huis en pluk en eet sommer so direk van die bome of plante af. Net vandag het ek tydens my wandeling gesmul aan super gesonde spekboomblaartjies, moringablare, kropslaai, mosterdblare, pietersielie, spinasie, tamaties, appelliefies, aarbeie, moerbeie, swart frambose, koejawels, Sjinese kool en kappertjies. Ek het ook aartappels gaargemaak, uie, rissies en soetrissies gebraai en dit met knoffel, borrie en kerrieblare gegeur – alles uit die tuin uit.

Piesangboom

Hierdie bederf en gerief kan enigeen beskore wees, mits jy jou lyf tuinier hou en begin kos groei – al is dit net vir jou eie huishouding se gebruik. Jy sal egter gou besef dat jy genoeg kan produseer om met jou bure te deel, te ruil of te verkoop. Met inflasie en kospryse wat net aanhou styg, kan min gesinne dit nog bekostig om nie ernstig te begin dink daaraan om groente, vrugte en kruie self te kweek nie.

Pleks daarvan om vanaand weer wegneemetes te bestel, koop vir jou ’n vrugteboom of twee wat in jou area sal aard. Of as jy raadop is met die prys van vars vrugte en groente wat in elk geval na niks proe nie of met wie-weet-wat gespuit is, skaf groentesaad of –saailinge aan. Jy hoef nie eens ’n groot area te hê om te plant nie. Mens kan selfs op ’n woonstelbalkon of op ’n vensterbank iets eetbaars groei. Doen gerus jou eie navorsing hieroor. Hopelik byt die “ek-groei-my-eie-kos-gogga” jou behóórlik! Besoek ’n boekwinkel om jouself te vergewis van die jongste tuinboeke op die mark. Neem gerus ook jou gesin vir ’n uitstappie na ’n kwekery. Daar is ook hordes video’s van tuiniers wat goue raad en wenke deel oor hoe om eetbare tuine tot stand te bring.

My man reël met ’n plaaslike tuindienste om gras wat hulle gesny het gratis by ons af te gee. Hy gooi dan die sakke gesnyde gras uit rondom die bome en plante om as isolerende deklaag te dien. Dit hou die grond langer klam, voed die bome en plante, maak dat onkruid nie sommer opkom nie en stabiliseer dag en nag temperatuur fluktuasies. Hy benut elke moontlike stukkie van ons redelike klein erf, horisontaal en vertikaal. Dan pas hy hoëdightheidplantmetodes toe waar hy in lae plant. Ons vang reënwater in dromme op en gooi die tuin met gieters nat. Skille en ander kombuisafval gaan komposhoop toe. Die gevolg is ’n baie welige groen oerwoud van organiese eetbare en nie-eetbare plante sowel as ’n selfonderhoudende ekosisteem. Saans luister ons na ’n paddakoor sonder gelyke, wat natuurlik daarop dui dat selfs die kleinste diertjies in die tuin sielsgelukkig is.

Ek heg ’n paar foto’s van ons tuin aan. Só ’n lushof kan jou gesin ook beskore wees.

 

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui