’n Eetbare tuin in die dorp

Ek was vroeër vandag gou in een van die goedkoper kettingwinkels waar ek gewoonlik so een maal in ses weke ’n trollie vol kruideniersware aanskaf. As ek so na die prys van brood en toebroodjiesmere soos grondboontjiebotter en konfyt kyk, kan ek maar net my kop in verstomming skud. Dan praat ek nie eens van kaas en tamaties of skyfies kouevleis nie. Dit kos ’n mini-fortuin om net die heel basiese staatmakers in kinders se kosblikke te pak om pouses by die skool te eet. Hoe dóén gesinne dit?

Kospryse skiet die hoogte in. Noem maar enige kosproduk op en die kans is goed dat dit duurder geword het. Die koffie wat ek graag koop, was vandag ’n hele 10% duurder as wat dit net nou die dag nog was. In die ou dae kon jy nog in grootmaat koop en só spaar, maar deesdae werk dit nie meer so nie. Jy hoop maar dat van die items wat jy nodig kry op uitverkoping sal wees wanneer jy dit moet aankoop, en dan moet jy ook maar jou oë toeknyp wanneer jy besef die uitverkopingprys wat aan jou voorgehou word, is wraggies niks anders nie as die “gewone” bedrag wat jy net verlede maand nog betaal het.

Die oplossing is voor die hand liggend. Ons moet ons tuine omskep in areas waar ons ons eie kos kan produseer. My man is besig om vir ons ’n organiese eetbare tuin (of food forest soos hy dit noem) op ons dorpserf tot stand te bring. Daar is tans sowat vyftig verskillende eetbare dinge in ons tuin. Ek noem net ’n paar van die vrugtebome: moerbei, lukwart, suurlemoen, lemoen, appel, avokadopeer, mango, appelkoos, piesang, vy, papaja, kiwis, litchi, perske, pruim, koemkwat, koejawels, nektariens, koffie en moringa. Dan is daar ook aartappels, kool, bok choy, krulkool, yarrow, komkommers, pampoen, tamaties, ertjies, boerbone, preie, beet, spanspek, waatlemoen, spinasie, slaaiblare, pietersielie, basiliekruid, mint, sprietuie, uie, rissies, soetrissies, knoffel, ens. Daar is ook verskeie soorte druiwe en bessies soos rooi en swart frambose, blou en swart bessies, aarbeie, braambessies en appelliefies, ens. Ook granate, grenadellas, passievrugte, guavadillas, spekbome en nog meer. Natuurlik dra nie al die plante en bome op een slag nie. Van die bome is ook nog nie baie groot nie, maar hulle dra wel al of sal binne die volgende seisoen of twee begin dra.

Ons eet te lekker uit die tuin uit en kan selfs met die bure deel. Natuurlik verg dit werk om die eetbare tuin in stand te hou, maar dit noop mens om vars lug en oefening in te kry én dis ’n terapeutiese tydverdryf. Ons eet deesdae soveel meer gesonder as in die verlede, en die beste van alles is, ons weet ons vars produkte is nie met allerhande gifstowwe bespuit nie. As ’n bonus het ons ’n hele ekosisteem op sy eie in ons tuin – daar is byvoorbeeld verskillende soorte paddas, verkleurmannetjies, geitjies, akkedisse en skoenlappers.

Ek het onlangs baie bottels beetslaai gemaak, houers vol grenadellapulp gevries en liters heerlike pesto voorberei. Dan het ek emmertjies vol gesonde bessies gepluk wat ons sommer handevol van op ’n slag geniet het. Hierdie tipe leefstyl is letterlik almal beskore. Ons groei byvoorbeeld ons rissies, soetrissies, komkommers en kruie in houers op die stoep.

Ons hoef nie ten duurste vars produkte aan te koop by die winkels nie. Jy kan bloot uitstap in jou tuin en gaan pluk wat jy nodig het. Dit is tyd dat ons soos in die ou dae vrugteboorde en groentetuine aanplant. Niemand hoef honger te ly nie.

5.00 avg. rating (97% score) - 3 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui