Low Carb is Lekker Drie
Penguin Books publiseer Low Carb is Lekker Drie geskryf deur Iné Reynierse.
Low Carb is Lekker Drie beslaan 208 bladsye. Die resepte is ingedeel in vier hoofstukke, naamlik “Lae-koolhidraat-noodsaaklikhede”, “Ligte maaltye, bygeregte & souse”, “Hoofmaaltye” en “Brode, gebak & lekkernye”. Die uitgewer is Beverley Dodd. Brita du Plessis was verantwoordelik vir die netjiese stilering en Sean Calitz vir die treffende fotografie. Reynierse dra die boek op aan haar oorlede vriendin Heidi en skryf: “Jy het my die ware betekenis geleer van wat dit beteken om dapper, onwrikbaar en dankbaar te wees en in geloof te volhard. … Ek vier jou nalatenskap.”
Annelie Smith, ’n geregistreerde dieetkundige en gesertifiseerde praktisyn in nutrigenomiese en integratiewe funksionele voeding, skryf in die voorwoord oor Reynierse: “Haar passie vir voedsel en die bydrae daarvan tot die genesing van sowel die liggaam as die gees kan duidelik op hierdie bladsye raakgesien word. … Haar resepte is gerig op heelvoedsel wat ryk is aan fitochemikalieë (plantvoedingstowwe) en ’n verskeidenheid gesondheidsvoordele inhou.” Sy beveel aan dat die boek gebruik word om die terapeutiese ervaring van die gaarmaak van pragtige disse te verken wat jou liggaam en siel voed terwyl dit ’n verskeidenheid voedingstowwe, geure en smake verskaf.
Ek het dit baie insiggewend en interessant gevind om deur Low Carb is Lekker Drie te blaai. Die inleiding beslaan verskeie bladsye propvol uitstekende raad en wenke oor lae-koolhidraat-voeding en watter kossoorte mens liefs behoort te vermy. Diagramme help om die beginsels te illustreer. Deur skoon-keto-, lae-koolhidraat-, en slim-koolhidraat-ikone by die resepte te gebruik, kan lesers maklik hulle eie aanpasbare maaltydplan skep. Ek het veral die gedeelte oor funksionele kosse – aktiveerders, versterkers, balanseerders en immuunversterkers – wat die voedingswaarde van maaltye versterk, van waarde gevind.
Reynierse skryf: “Die doel met my resepte is dat dit bekostigbaar, volhoubaar en heerlik is en verskeidenheid bied. Met beter voeding om goeie gesondheid te ondersteun, sal jou liggaam die voordele verkry en jy sal floreer (25).
Hier onder noem ek weer die hoofstuktitels en gee ook drie voorbeelde van resepte daarby:
Lae-koolhidraat-noodsaaklikhede: sjoechi-beetblatjang, chia-wortelkoeknagereg en borrie-en-kerrie-mayonnaise
Ligte maaltye, bygeregte en slaaisouse: spinasie-en-tunaballetjies, shawarma-gegeurde groente en Mexikaanse bedruipsous en marinade
Hoofmaaltye: outydse beesvleispasteie, rolletjies met prutpot-rafeltjievark en hoenderkebabs
Brode, gebak & lekkernye: glutenvrye brood, maklike pizza- en pasteibasis vir elke dag en beet-en-kakao-kolwyntjies
Hierdie resepte is goeie keuses, gesond en lyk smullekker. Dis laag in koolhidrate, suikervry en bekostigbaar sonder om geur of verskeidenheid in te boet.
Meer oor die skrywer: Iné Reynierse is ’n funksionele diagnostiese voedingspraktisyn, voedingsgenomika-resepontwikkelaar en topverkoper-kookboekskrywer. Haar vorige twee boeke in die Low Carb is Lekker-reeks is albei topverkopers.
Skaf gerus jou kopie van Low Carb is Lekker hier aan. Dit is ook in Engels en as ’n e-boek beskikbaar.
Twee resepte vir Kragdag-lesers, met die komplimente van die uitgewers, kan afgelaai word deur op die foto’s van die geregte te klik.