Boekresensie: Die VLV-Kookboek

Titel: Die VLV-Kookboek

Uitgewer: Human en Rousseau

ISBN: 978-0-7981-7736-8

Met Die VLV-Kookboek gedenk die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland hulle 90ste bestaansjaar. Die VLVK is ‘n nie-regeringsorganisasie wat op 15 Oktober 1929 te Franschhoek gestig is met die oogmerk om persoonlike groei te bevorder en gemeenskapsdiens te verrig. Die VLVK streef vandag nog daarna om hulle lede “toe te rus vir hul rol as tuisteskeppers en meelewende landsburgers; om hul kennis en vaardighede te ontwikkel en oor te dra tot voordeel van hul gesin, die gemeenskap en ons land” (p. 5).

VLVK-lede van regoor die land se gunstelingresepte is by hierdie wonderlike kookboek ingesluit. Die beste van alles is daar is ’n heerlike nostalgiese Toe-afdeling vol smullekker onthou-resepte en ook ’n interessante Nou-afdeling met meer eietydse resepte. Of jy nou hou van tradisionele staatmakers of moeitelose disse wat jy sommer in ’n japtrap kan voorberei, hierdie hardebandkookboek van 240 bladsye hoort vir seker in elke smulpaap se kombuis.

Die VLV-Kookboek is tjokkenblok vol eg Suid-Afrikaanse kookkuns – voorwaar iets besonders om aan die nageslag agter te laat. In die Voorwoord som mev. Jossie Ackermann (1929-1946), die VLV se stigterpresident, dit só op: “Laat ons volhard op die weg wat ons ingeslaan het met onvermoeide ywer en moed, want die waarde van wat ons vandag doen, besef ons miskien self nie, maar die vrug sal bly vir die nageslag wat dit sal geniet en waardeer en ons ook seën daarvoor.” VLVK-President Karien van Schalkwyk skryf op bladsy 7: “VLV-vroue is al vir 90 jaar aanpasbaar en staan vandag bekend as van die voorste kosmakers. Die werkswyse van VLV het ’n handelsmerk geword: dís hoe almal wil kook en bak en dís wat ons eindproduk so baie besonders maak! Mag hierdie uitgesoekte versameling resepte in jou smaak val en die voorbereiding en eet en deel van die geregte vir jou VLV-vreugde verskaf.”

Die uitgewersbrief stel Die VLV-Kookboek trots bekend bekend as “’n Onontbeerlike resepteboek deur ma’s en vroue vir vroue van alle ouderdomme.” Op die agterplat staan die volgende teks as lusmaker geskryf: “Trakteer jou gesin op familiegunstelinge soos bobotie, lewerkoekies of skaapboud en die outydse lekkerte van melktert, gemmerkoekies en sagopoeding. Of vat kortpad met die beproefde 7 minuut-sjokoladekoek of gesonder geregte soos spinasiegebak, pampoenmuffins, bobotie met ’n appellaag en eiervrugslaai. Kies tussen tradisionele skaaptjops en blomkool met kaassous, of berei tjops met roosmarynbotter en die blomkool met uie en heuning.”

Die VLV-Kookboek is opgedeel in vyf hoofstukke. Ek noem ook drie van die talle resepte wat onder elke hofie verskyn: Ontbyt (Botterbroodjies, Vinnige hoenderlewers en My ma se lewerkoekies); Ligte Maaltye (Viskoekies, Vetkoekies wat self omwip en Souttert); Hoof- & Bygeregte (Niertjiepastei, My ma se waterblommetjiebredie en Ouma se Bistosous-aartappels); Gebak & Nageregte (Ma Mimi se vrugtekoek, Tradisionele melktert en Gebakte bruinpoeding) en Preservering & Souse (Tamatiekonfyt, Kei-appeljellie en Ouma Anna se mosterd). Die talentvolle Myburgh du Plessis het gesorg vir die aptytwekkende kosfoto’s. Daar is ook addisionele foto’s deur Frank Ellis.

Ek kon nie wag om Annelize Marx (Sirkelpresident 2009-2013, Kalahari) se tunaroulade op bladsy 150 te probeer nie. Dit smaak voortreflik en lyk ook pragtig op ’n opdienbord. Ek beplan om binnekort Morene Meintjies (Griekwastad, Griekwaland-Wes) se buin saadbeskuit op bladsy 186 te bak. Ag, en dan praat ek nie eens van Lidia van Aswegen (De Aar, Noord-Karoo) se skaaptjops op bladsy 37 wat met tamatiesous, Bisto-sous en Worcestershiresous gaargemaak word nie! Hier waar ek deur die kookboek sit en blaai, grom my maag en kwyl my mond sommer van lus vir al die heerlike resepte wat my skaamteloos verlei.

Hierdie kookboek verdien sonder twyfel ’n ereplek tussen my groeiende versameling resepteboeke. Bestel jou kopie gerus hier.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui