“Tree Bags” se geweefde Polypropylene Plantsakke

Baie mense is teen verandering gekant. Wanneer jy tot veranderinge gedwing word, skop mense gewoonlik vas omdat, soos die ou garde sê: “Ek het vir jare sonder die goed gewerk, waarom nou skielik na iets nuuts op die mark oorskakel?”

In ons geval het ek my werk verloor en ek was verplig om ‘n verandering te maak. Ons het van gewone materiaal met Afrikaanse temas, tafeldoeke en inkopiesakke begin maak. Later, soos ons groter geword  het, het ons ook kampsakke en ander groot sakke gemaak, wat ons onder andere op die KragDag-ekspo verkoop het. Hier het ons dan ook vier jaar gelede ons eerste navrae vir boomsakke gekry.

Vir die boomsakke het ons verskeie materiale getoets. Uiteindelik het ons geweefde polipropileen-materiaal ontdek. Aanvanklik het ons erg gesukkel om dit te sny, omdat dit baie maklik uitrafel. Gelukkig, wanneer ‘n Boer vriende het, kan ‘n plan gemaak word en só het dinge begin verbeter .

Carel Breytenbach, ‘n mede inwoner in Kleinfontein en ‘n man met byna 50 jaar landbou-ondervinding, het van die kleiner sakkies na Agrilibrium se twee top-manne geneem, Gerhard Reyneke in die Kaap en Dr. Christo Malan in Pretoria.

Boontjies

Ons het verskillende eksperimente gedoen om gewone swart PVC-sakke en die geweefde polipropileen-sakke met mekaar te vergelyk. Hierdie eksperimente het ook die belang van opbrengs-op-belegging (ROI) in die gebruik van plantsakke onderstreep.

Ons eksperimente:

Die eerste eksperiment wat ons gedoen het was met Star 2000 boontjies. Carel het ‘n groeimedium gebruik wat ideaal was vir ons doel – gebreekte makadamiadoppe, goeie kompos met vermikuliet. Gelyke volumes is in die gewone swart PVC-sakkies gegooi en herhaal vir die geweefde polipropileen-sakke. Die twee tipes is langs mekaar in ‘n tonnel geplaas en is deur dieselfde drupper bedien. Alle toestande en voeding was dus identies – dit is net die sakke wat verskil het. Verskeie foto’s is geneem om die groeitempo- en ander verskille tussen die plante aan te toon. Carel het verder besluit om die plante te weeg ook.

Pekaneutsakkies

Groot was ons verbasing toe ons die resultate van ons eksperiment ten opsigte van die boontjieplante se wortelvorming gesien het. Omdat die geweefde material die water orals egalig deurlaat was die wortels by die geweefde materiaal die hele sak vol. Die mooi wit wortels het ons laat glo dit is as gevolg van beter gaswisseling by die geweefde polipropileen-materiaal.

Die uitslae was puik. Die boontjieplante in die PVC-sak se wortels het 11 g geweeg, die bogroei 22 g terwyl dit slegs 4 blomtrosse gehad het. Daarteenoor het geweefde sak se boontjieplante se wortels 400 g geweeg, die bogroei was 450 g terwyl daar 16 blomtrosse was waarvan 6 verder ontwikkel het as die blomtrosse in die swart sak.

Die sakke word met some aan die buitekant gemaak om skoonmaak vir hergebruik te vergemaklik. Die materiaal se lewensverwagting is ongeveer agt jaar. Die geweefde sakke kan sommer vir 10 minute met swembad-chloor gespoel word voordat ‘n nuwe plantgewas weer daarin geplant word.

Carel het toe tamaties in dieselfde sakke geplant, wat ook onder identiese toestande gegroei het. Weereens was die uitslae van die groen geweefde sakke baie beter. Die stamdeursneë van die plante in die geweefde sakke was groter (19 mm teenoor 9 mm) en die vrugte wat geset het (albastergrootte en groter) was ook meer – 26 by PVC-sak teenoor 55 by die geweefde sak. Die blaargrootte was ook aansienlik groter by die plante wat in die geweefde sakke geplant is.

Trogsakkies

Hierna het ons soetrissies (peppers) getoets. Ons wou graag die eksperiment wetenskaplik uitvoer deur vrugmassa en wanddiktes te meet, maar het dit weens omstandighede nie kon doen nie. Ons het egter wel ‘n nuwe tipe lang-trogsak, wat goedkoper uitwerk, ook op die proef gestel. Hierdie keer het ons die vrugte van voorafgemerkte soetrissieplante getel wat verspreid in die tonnels geplaas is. Elke tiende dag is soetrissies geoes. Die eindresultaat was 1,8 geel vrugte vir elke een wat in ‘n swartsak geproduseer is. In die lang-trogsakke is 2,4 rooi vrugte geproduseer vir elke een 1 wat in die PVC-sakke gegroei is.

Nog ‘n eksperiment wat gedoen is, was om die temperatuur binne-in die groeimedium te meet met behulp van ‘n peilstif-termometer (probe thermometer). Dit is interessant dat die temperatuur in die groeimedium in swart PVC-sakke, in die somer met 6° tot 7°C gevarieer het. Daarteenoor was daar in die geweefde sakke ‘n egalige temperatuur van 22°C (wat ideaal is) met ‘n variasie van nie meer as 1°C nie.

Verskillende aanwendings:

Vergelyking van vyewortels
  • Met Agrilibrium se SeedSpeed en ‘n goeie groeimedium kan die sakke plante se groeityd in tonnels verminder en produksie verbeter. Bloubessies , met ‘n vyf jaar lewensverwagting, kan opbrengste lewer sonder intensiewe arbeid om te herplant na twee jaar.
  • Die Lichen Groep met hulle eie groeimediums doen goed in die Cannabis-mark en ook in die Bloubessie-mark.
  • Die aanvanklike idee om die groot boomsakke vir inheemse bome te gebruik, het tot dusver heelwat tevrede kliente opgelewer. Andries Botes van 3Bushketeers het al sowat agt-duisend bome in die geweefde sakke geplant.
  • Ek self het vyesteggies in geweefde sakke gekweek en binne een seisoen wortels van meer as ‘n meter gekry.
  • Vir pekanneute het ons ‘n lang dun sakkie wat soos ‘n meelsak teen die kant kan lostorring. Dit gee ‘n jong boom kort na enting ‘n lang reguit penwortel wat lekker in diep grond geplant kan word.
  • Broodbome (Cycads) is my gunsteling-plant. As gevolg van hul materiële en ook sentimentele waarde wil mense graag hulle plante saamtrek as hulle verhuis. Hiervoor kan ons sterk sakke met drahandvatsels baie goed aangewend word. Wanneer die broodboom in die sak geplant is vertoon die plant dikwels groter as wanneer dit in die grond geplant is. Die plant kan dan in die plantsak vir tyd en wyl gehuisves word, totdat bewys is dat broodboom in daardie spesifieke plek klimaatsgewys mooi sal aard. Hierna kan dit in die grond uitgeplant word.
Groot Cannabis-plante
  • Komkommers en kruie groei baie mooi, maar is nog nie wetenskaplik vergelyk teenoor swart sakke nie . Verskillende groeimediums sal ook verskillende resultate oplewer.
  • Ons verskaf sakke met mates wat volumegewys groter is as ander sakke wat in die handel beskikbaar is. As meer groeimedium gebruik word beteken dit ook dat daar groter verliese is as die sak sou breek. Ons groot swaardiens-sakke is egter baie sterk en groot bome word in die 800 liter sakke geplant, wat deur landskapsargitekte vir tuinuitlegte gebruik word. Ons het ook ander hulpmiddels wat dinge kan vergemaklik vir tuiniers en boomkwekers.

Ter opsomming:

Ons kan sê geweefde polipropileen-plantsakke se dreinering is baie beter, beter gaswisseling vind plaas , temperatuur in die groeimedium is optimaal en minder besoedeling word veroorsaak. Kortom, vir die gebruiker van die sakke beteken dit ‘n groter opbrengs op jou belegging. Ons voer tans heelwat sakke uit na Mosambiek en my tuisland,  Namibië. Die meerderheid word egter plaaslik versprei.

As julle nie kan wag vir Kragdag in Desember nie, kontak ons solank by my e-posadres, stoffies@treebags.co.za of besoek ons webtuiste by TREE BAGS.

1.00 avg. rating (54% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui