Kursusse help kinders stres hanteer
PROMOSIE-ARTIKEL
Ons sê dikwels dat ons “gestres” is wanneer ons eintlik bedoel dat ons oor iets bekommerd is. Bekommernis gebeur in ons koppe en ontstaan wanneer ons aanhoudend aan negatiewe dinge, onsekerhede en goed wat moontlik kan skeefloop, dink. Dié dinge maak ons bang en gee aanleiding tot stres. Bekommernis maak ons angstig en gaan gewoonlik hand-aan-hand met dieselfde fisiologiese reaksies wat ons ervaar wanneer ons werklike stres ervaar. Dit is dus maklik om stres en bekommernis met mekaar te verwar.
Stres kan omskryf word as ’n fisiologiese reaksie op iets in die omgewing wat die individu as oorweldigend en onhanteerbaar (en dus iets om te vrees) beskou. Die liggaam se reaksie op stres staan algemeen bekend as die veg- of vlugreaksie. Dié reaksie het in die mens ontwikkel as ’n manier om te oorleef tydens ’n angswekkende situasie, soos om deur ’n wilde dier aangeval te word of om op ’n slang af te kom.
‘n Werklike stresreaksie is dus goed en gesond wanneer dit plaasvind tydens ’n realistiese, vreesaanjaende gebeurtenis. Dit is die liggaam se desperate poging om tydens gevaar te oorleef. ’n Stresreaksie is positief wanneer dit ons in staat stel om gevaar te beveg deur byvoorbeeld die wilde dier dood te maak of om ver en vinnig genoeg weg te vlug. Wanneer die gevaar verby is en die situasie normaliseer, keer die liggaam na ’n kalm toestand van “rus-en-verwerk” terug. Rus-en-verwerk gee ons die geleentheid om te herstel, groei en rus. Wanneer ons egter ná ’n stresreaksie in ’n veg- of vlugreaksie bly, benadeel dit ons geweldig.
Die dinge waaroor ons as moderne mense bekommerd voel, het ongelukkig die plek ingeneem van die werklike bedreigings van die verlede waar ’n stresreaksie ons sou help veg of vlug. Die gevolg hiervan is dat ons omtrent heeltyd in ’n stresreaksie verkeer of sogenaamd “opgestres” is. Die liggaam ervaar ’n konstante versnelde hartklop, oormatige hoeveelhede kortisoon en adrenalien en ’n afgeslote prefrontale korteks (waar ons denke plaasvind) omdat dit voortdurend in ’n veg-of-vlugreaksie verkeer. Dit lei mettertyd tot ernstige gesondheidsprobleme.
Dit is noodsaaklik dat volwassenes, jongmense en kinders daaraan werk om bekommernis te hanteer sodat stres op die langtermyn vermy kan word.
Waaroor is ons bekommerd?
Ons bekommer ons oor dinge wat in die verlede skeefgeloop het, dinge wat in die toekoms kan skeefloop en enigiets waaroor ons onseker voel. Die mens se brein is só gemaak dat dit, om ons te beskerm teen enige bedreigings, dadelik op die negatiewe fokus. Ons kan dus omtrent oor enigiets bekommerd wees.
Dit is nuttig om die dinge waaroor kinders hulle bekommer in temas saam te groepeer wanneer ons hulle wil help. Die breë temas is: bekommernis verwant aan die self, skool- en gesinsake, portuurverhoudings asook sosiale en ekonomiese omstandighede.
Tekens van stres en bekommernis by kinders
Jonger kinders weet nie altyd hoe om te verwoord dat hulle bekommerd is of stres ervaar nie. Dit is dus belangrik om op die uitkyk te wees vir indirekte tekens van stres en bekommernis.
Stres by voorskoolse kinders sal dikwels manifesteer in hulle speletjies. Gee aandag aan die temas wat tydens speeltyd opduik, want daar kan tekens wees van dinge waaroor hulle bekommerd voel.
Tekens van stres by voorskoolse en ouer kinders kan gedragsveranderinge insluit, byvoorbeeld humeurigheid, aggressie en buierigheid. ’n Onvermoë om op take te konsentreer, senuweeagtige gewoontes wat skielik opduik en onttrekking van vriende en familie is alles tekens dat ’n kind stres ervaar. Hierdie gedragsveranderinge kan ook normale huis- en skoolroetines omverwerp.
Daar sal ook fisiologiese tekens van stres wees. Veranderinge in eetlus, slaappatrone en slaapprobleme (bv. bednatmaak of aanhoudende nagmerries) dui daarop dat ’n kind stres ervaar. ’n Gestresde kind sal moontlik ook oor hoof- en/of maagpyn kla.
Wat kan ons doen?
Dit is raadsaam om ’n kind se woordeskat rakende gevoelens van jongs af te ontwikkel. Dit stel hulle in staat om hulle gevoelens duideliker te identifiseer. As hulle kan sê hoe hulle voel, kan ons hulle meer effektief help en tydens stresvolle tye bystaan.
Ons kan sekere aktiwiteite saam met kinders doen om hulle te leer hoe om negatiewe denke en bekommernisse te hanteer. Help hulle byvoorbeeld om ’n “bekommernis-begroting” te skep. Dié begroting gee hulle dan ’n sekere (beperkte) tyd om oor iets bekommerd te wees, waarna hulle ferm gehelp moet word om hulle aandag op iets anders te vestig. Help hulle ook om negatiewe gedagtes te konfronteer. Vra vrae soos: “Wat is die kans dat dit regtig sal gebeur?” en “Wat kan ons doen om te help dat dit nie gebeur nie?”
Via Afrika het ’n reeks kursusse ontwikkel vir kinders van graad 10 en ouer wat daarop gerig is om hulle sosiale en emosionele welstand te ontwikkel sodat hulle gelukkige en gesonde lewens kan hê. Die inligting en aktiwiteite daarin leer hulle belangrike lewensvaardighede. Hierdie kursusse is aanlyn beskikbaar.
Kursus 1: ’n Ingesteldheid op sukses ontwikkel selfkennis, selfbestuur en besluitnemingsvaardighede. Kursus 2 bou dié vaardighede verder uit.
Kursus 2: Ek en stres ontwikkel selfkennis, selfbestuur, sosiale bewustheid en besluitnemingsvaardighede. Kursus 3 bou voort op die vaardighede wat in Kursusse 1 en 2 ontwikkel is.
Kursus 3: Ek, stres en ander ontwikkel selfkennis, selfbestuur, sosiale bewustheid, verhoudingsvaardighede en besluitnemingsvaardighede.
Kinders van so jonk as graad 7 kan hierdie kursusse met ouerleiding voltooi.
Vind meer uit by www.vastudent.online
Bostaande artikel is deur Via Afrika verskaf