Per fiets rondom Afrika
Toe ek My First African Adventure deurblaai, het ek onmiddellik geweet dat KragDag-lesers baie van hierdie besonderse publikasie sal hou. Baie van die waardes wat KragDag onderskryf – soos waagmoed en durf, uithou en aanhou, wéér probeer, flink en vernuwend dink en sélf planne maak – word hierin belig. Bekende avonturier Riaan Manser het die boek, wat beskryf word as kinders se eerste kennismaking met die magiese Afrikakontinent, in samewerking met Murray Williams en Chantal Tarling geskryf. Martinus van Tee het gesorg vir die kleurvolle, gedetailleerde en heerlik humoristiese illustrasies waarin kinders (jonk én oud!) hulle kan verlustig. Hy verdien eervolle vermelding vir sy prettige kuns.
Manser het op 25 November 2005 veilig in Kaapstad gearriveer nadat hy per fiets stoksielalleen en sonder hulp reg rondom die kontinent gery het. My First African Adventure is ’n geïllustreerde weergawe van sy ongelooflike reis wat twee jaar, twee maande en vyftien dae geduur het. Hy het in dié tyd 36 500 km deur 34 lande afgelê. Hierdie prestasie het aan hom die gesogte titel “Out There Adventurer of the Year 2006” besorg. Dit is reeds sy topverkoperboek, Around Africa on my Bicycle, wat verwerk is na ’n wonderlike weergawe wat kinders inspirerend sal vind.
My First African Adventure beslaan 120 bladsye en word gepubliseer deur Struik Children, ’n druknaam van Penguin Random House SA Kids. Die boekgrootte in mm is 210 (b) x 280 (l), dus ’n groot lekkerleesformaat. Daar is 34 hoofstukke, met ander woorde, elke land waardeur Manser sy fiets getrap het, word behandel. Hy beskryf sy ervaringe van elke land baie onderhoudend op ’n heerlike tong-in-die-kies trant waarop kinders dol sal wees. Wetenswaardige en leersame feite oor die lande maak van dié boek soveel meer as net ’n ongelooflike waar avontuurstorie. Kinders leer onder meer watter tale gebesig word, wat die geldeenhede en hoofstede is, wat die nasionale diere en plaaslike geregte is, wat die bevolkingsgetalle en besienwaardighede is en hoe elke land se vlag lyk. Hulle leer ook hoe om “Good morning, are you doing well?” in 34 verskillende tale te vra.
Natuurlik is só ’n epiese en byna ondenkbare reis nie sonder uitdagings en gevare nie. Manser vertel hoe hy uiterste weertoestande, wilde diere, vreemde kossoorte (bv. aap-, vlêrmuis- en rotvleis), beserings, siekte, ’n aktiewe vulkaan en selfs aanhouding getrotseer het. Hy maak nie die uitdagings en negatiewe ervaringe af of verromantiseer dit nie, maar balanseer dit eerder met positiewe ervaringe waarvan daar gelukkig baie was. Goeie nuus is dat die boek tans vertaal word en later vanjaar ook in Afrikaans beskikbaar sal wees.
My First Arican Adventure behoort as verpligte leesstof by skole oral op die kontinent beskikbaar te wees. Nelson Mandela het destyds, nadat hy Manser se storie op TV gesien het, daarop aangedring om hom in persoon te ontmoet. Hy het Manser se avontuur beskryf as ’n vertoning wat die kontinent se jeug sal inspireer. Gaan lees gerus hier meer oor Manser se avonture, ekspedisies en optrede. Jy kan hier ’n onderhoud kyk waar Manser oor sy boek gesels. Hy is voorwaar ’n voortreflike rolmodel wat vier wêreld eerstes op sy kerfstok het.
Uittreksel: “The fine desert sand had crept into every moving part of my bicycle, causing it to cruch apart with every pedal. My gears, my chain – all were invaded by sand, like ants going mad on a sticky sweet. Riding my bike was like trying to chew throught a sandwich that had fallen onto the beach. But my prayers for help were answered! I came across a group of French teenagers. They were naughty young men, who had been sent on a youth camp by the French gorvernment, to make them forget their naughty ways in the desert. In the end, they gave me a ride up to the city of Rabat. (It sounds like ‘rabbit’.) And there, the South African embassy gathered a team of all the best bike experts in the capital to give my bike a doctor’s visit – a fill hospital check-up, head to toe. It felt as if I had a new bike!” (p. 69, Morocco).
My First African Adventure is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. Jy kan dit ook hier bestel.
KOMPETISIE
Twee gelukkige lesers kan elk met ’n getekende kopie van My First African Adventure met die komplimente van Struik Children wegstap. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om 1) in te teken op KragDag se nuusbrief (as jy nie reeds ingeteken is nie) en 2) in die kommentaargedeelte hier onder aan te dui waarom jy graag wil wen. Die kompetisie sluit einde September 2022.
Hallo, hierdie is n toets
My kinders sal die boek vreeslik geniet. Hulle hou van avontuur en om nuwe dinge te leer.
My dogtertjie van 10 jaar oud is absoluut fietsry en advontuur mal, en met Riaan Manser se ‘My Fisrt African Adventure’ kan sy nie net haar passie vir die twee uitleef deur die besonderse illustrasies, staaltjies en beskrywings nie, maar kan dit ook haar derde passie aanvoer, naamlik boeklees. Dit sal die ideale geskenk maak vir haar en hopelik kan sy binnekort saam met Riaan op hierdie ongelooflike avontuur gaan.
Hierdie boek lyk na ‘n baie goeie toevoeging tot ons tuisskool Biblioteek. Dit voldoen aan’ n hele paar vakgebiede en is propvol lewenslesse.
My Man het een van Riaan se eerste boeke maar die kinders is nog jonk en sal hierdie weergawe baie geniet!
Baie geluk, Riaan. Jy wen ’n getekende kopie van Riaan Manser se My first African Adventure. Stuur asseblief so jou selfoonnommer en afleweringsadres na Deon by deon@kragdag.co.za en ons reël dat jou prys na jou gekoerier word.
Ongelooflik! Sulke mense verdien medaljes! Ek het n outjie van Nederland gevolg wat van Nederland oor Afrika Kaapstad toe gery het en weer terug. Ek het ook African Ttrek gelees van n Franse paar wat te voet deur Afrika gereis het. Fantastiese stories! Sal n kinder weergawe van so n avontuur waardeur om my kinders bloot te stel aan sulke dapper mense.
We homeschool, and this book would be an awesome addition to our Geography curriculum!
Congratulations, Belinda Van de Griendt! You win a signed copy of Riaan Manser’s My First African Adventure. Please e-mail your delivery address and mobile number to Deon at deon@kragdag so we can arrange delivery of your prize.
Ons is n tuisskoolgesin wat hou van avontuur en saam leer. Hierdie sal n wonderlike toevoeging tot ons klaskamer wees.
Dit klink perfek vir ons studie vir aardrykskunde volgende jaar! Die plan is om na al die kontinente te kyk maar spesifiek Afrika oor dit ons kontinent is. Ons wil ook begin kamp, so dit sal ons nog ‘n paar idees gee van waar en wat om te gaan kyk.
Beide my seuns het Riaan se dokumentetr programme op Discovery gevolg.
Ek glo hulle dal die boek veslind aangesien dit meer inligting sal gee rakende sy ervaringe en avonture. Dit gee kinders n ander perspektief oor hulle eie realiteit wanneer hulle in aanraking kom met ander realiteite buite hulle sfeer.
Indien ons nie die boek as prys wen nie gaan ons dit fefnitief aanskaf
Dit lyk fantasties!! Ons sal baie graag die belewenis wil ervaar deur die boek te lees!