
Mediese student se handgemaakte boeke
Ek bewonder mense wat die talent het om met hulle hande te skep – hulle wat uit niks uit iets moois kan optower. Lindi Burger, ’n mediese student in haar vierde jaar aan die Universiteit van Pretoria, is só iemand. Sy het begin navorsing doen oor die bind van boeke toe sy vir haar beste vriendin ’n unieke geskenk vir haar verjaardag wou maak. Daar geniet sy die kreatiewe proses toe so baie dat sy begin om al meer te eksperimenteer. Nou maak sy die mooiste handgemaakte boeke, soos bv. joernale en dagboeke. Sy neem ook bestellings wat volgens ’n kliënt se eie spesifieke voorkeure en spesifikasies gemaak moet word – so het sy bv. al ’n tesis met die hand gebind en ’n spesiale foto-dagboek en ’n persoonlike gewigsverliesdagboek gemaak. Die moontlikhede is legio!
Ek is die trotse eienaar van twee van Lindi se pragtige skeppings – ’n dagboek en ’n joernaal. Dit is in ’n pragtig opgemaakte pakkie by my afgelewer. Ek gebruik die joernaal as ’n persoonlike gebedsboek waarin ek met die hand gebede en gebedsversoeke pen. Die handgemaakte en handgeskrewe joernaal van 120 bladsye is kosbaar genoeg om ’n erfstuk te word wat vir my nageslag as baken en rigtingwyser kan dien oor waar ons hulp vandaan kom. Die dagboek wat met groen lyntjiesmateriaal oorgetrek is, help my om tred te hou met die daaglikse beplanning rondom my vryskutwerk en studies. Beide boeke lê binne reikafstand op my lessenaar en ek gebruik dit elke dag.
Die afwerking aan beide die boeke in my besit is baie netjies maar geensins perfek nie. Die bekoring van “met die hand gemaak” lê vir my juis in die enkele oorgesiende ragfyn rafeltjie aan die binnekant van die agterblad en die sagte kreukeltjie in die omvou van die materiaal of papier op ’n hoek. Daar is veral baie moeite gedoen met die hardeblad omslag van my joernaal. Nie net is dit met duursame plastiek oorgetrek om dit te beskerm nie, maar dit is bedek met oorkruisstroke papier wat eens paragrawe was in ’n ou boek. Verder is daar ’n langwerpige strook goiing aan die linkerkant van die voorblad wat met groot kruisvorminge steke in wit tou versier is. Die geparsde blommetjie in die middel sorg vir daardie ekstra spesiale effek wat my daaraan herinner dat die joernaal met liefde en sorg gemaak is. Die bondels papier is ook met tou netjies aanmekaar gewerk en aan die binnekant afgerond en verstewig met dun strokies papier wat moontlik uit ’n tydskrif kon kom. Hierdie boek is mooi genoeg om op ’n koffietafel te pryk. Of om dit as geskenk te gee vir die digter en skrywer in jou lewe wat geïnspireer word deur kuns en graag leë bladsye vul met hulle pennevrug.
Lindi noem dat sy nie net die kreatiewe skeppingsproses baie bevredigend en selfs terapeuties vind nie, maar die mate van struktuur en metode wat nodig is om die boeke so met die hand te bind, stimuleer ook haar linkerbrein. Sy geniet dit ook om mense gelukkig te maak, en dít is beslis wat haar handgemaakte boeke doen. Mense ervaar dit as ’n kosbare bederf en die skoon bladsye is die draers van drome, hoop en moontlikhede. Die ekstra inkomste wat sy uit haar stokperdjie verdien is ook nie te versmaai nie. Sy stel ’n voorbeeld vir ander jong mense deurdat sy nie net studeer nie, maar ook ’n inkomste op die kantlyn verdien deur haar talente en vernuf in te span.
Gaan loer gerus hier en hier na Lindi se unieke skeppings. Volg haar ook op Instagram by @journalsbylindi.