
In ‘n tyd soos hierdie – gedagtes en planne rondom ‘n skuurmasjien
Mens staan werklik verstom oor hoe ‘n mens se uitkyk en siening van sake binne die bestek van enkele maande verander het.
Ná die aankondiging van ‘n staat van inperking was dit in baie mense se gemoed slegs ‘n inperking wat enkele weke sou duur. Daarna sou ons terugkeer na die “normaal” en voortgaan met ons lewe en ons besigheid soos ons daaraan gewoond was. Soos wat maatreëls egter verslap, verander … en dan weer strenger gemaak is, het die aaklige gedagte tot meeste mense begin deurdring dat ons ons moet staal vir ‘n “nuwe normaal”. Behalwe vir die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie geskep het, het hardnekkige gerugte die rondte begin doen dat ‘n tweede fase van die pandemie ons later die jaar sou tref. Nog erger was die moontlikheid wat genoem is van ‘n Covid-20- en selfs ‘n Covid-21-pandemie. Behalwe vir die vrees vir die virus, en die moontlike gevolge, wat onder mense pos gevat het, het die ekonomiese katastrofe van werkverliese, werkloosheid en armoede ‘n selfs nog groter bedreigingsrisiko geword. Veral klein- en mediumgrootte besighede is besig om tot niet te gaan weens die voortgesette inperkingsmaatreëls. Gesiene besigheidsmanne het reeds die opmerking gemaak dat ons nie net met ‘n onderbreking te doen het nie, maar dat ‘n herskikking ‘n werklikheid is. Die aaklige realiteit van ‘n wêreldwye depressie, selfs groter as die groot depressie van die jare ’30 word nou ‘n al groter waarskynlikheid.
Ons kan hieroor tob en onsself verknies – en… ek weet dit is vir baie mense dalk ‘n ligsinnige of selfs ‘n aanmatigende opmerking – maar ek dink die KragDagfilosofie van “doen-jou-eie-ding” gaan ‘n al belangriker faset word vir ‘n instelling om te oorleef. Baie lesers van ons KragDag-nuusbrief het waarskynlik ‘n ingesteldheid dat hulle hul eie motor instandhou, hul eie voedsel verbou, ‘n eie sonkragstelsel installeer, hulle kinders self onderrig, … Wat miskien nog kortkom, terwyl ‘n groot herskikking op pad is, is dat ons bewus gemaak word van die eie dinge wat gedoen word en dat beskikbaar tasbare produkte, maar ook idees, aan die groter gemeenskap beskikbaar gemaak word. Die ‘ontdekking’ van ‘n klein ratjie in ‘n groter besigheidsidee kan dalk net dien as daardie katalisator of impetus wat ‘n suksesvolle besigheid tot stand bring. Die KragDagnuusbrief is ‘n medium wat vir hierdie doel aangewend kan word. ‘n Voorbeeld wat my opgewonde maak is die manier hoe boere se produkte direk by gebruikers uitkom by wyse van Whatsapp-kommunikasie. Die groot inhibeerder is egter die gebrek aan vertroue wat tussen mense bestaan. Kan die verkoper die koper vertrou om te betaal en kan die koper seker wees dat die produk en diens wat aangekoop word inderdaad afgelewer word en dan verder voldoen aan die kwaliteit en kwantiteitsvereistes soos wat ooreengekom is.
Die huidige inperkingsmaatreëls het veral op die inkomste- en verkopekant van elke huishouding en besigheid ‘n impak gehad. Alhoewel mens nie moet berus in die agteruitgang van inkomste en verkope nie, sal dit noodwendig nodig wees om in hierdie tyd intensief op die uitgawe-kant van die inkomstestaat te konsentreer. Geldbesparing, doeltreffende onderhoud van toerusting en effektiewe aankope vorm die ruggraat van hierdie fokus. ‘n Hele aantal uiteenlopende besparingswenke word in die volgende webwerwe aangespreek:
- How to save money: 11 Super simple money saving tips
- 40 Massive Money Saving Tips
- How to Save Money Fast
Wyses om ons toerusting en toestelle instand te hou en sodoende die vervanging daarvan uit te stel, is ‘n belangrike faset van finansiële besparings. Besighede wat hulle hiermee besig hou sal hulleself op die wyse waarskynlik in groot mate tydens ‘n resessie kan verskans. Dit skep ook verder geleenthede vir entrepreneurs en besighede.
Tans is die skrywer met ‘n selfdoenprojek besig om ‘n plafon van laaghout vir ‘n sitkamer in te sit. Ons lesers sal weet dat ‘n elektriese skuurmasjien vir so ‘n projek onontbeerlik is. In die handel is daar breedweg twee soorte elektriese skuurders beskikbaar. Die eerste soort kan ons enkel-direksionele skuurders noem waar die skuurmateriaal in een rigting oor die werkstuk beweeg. Dit kan óf linieêr (bv. bandskuurders en rol- of dromskuurders) óf met ‘n sirkelbeweging in een rigting (bv. skyfskuurders) uitvoer word. Bandskuurders en rolskuurders skuur linieêr in een rigting terwyl ‘n skyfskuurders sirkulêr in een rotasierigting skuur. Gewoonlik word die soort skuurders vir swaar en growwe skuurwerk aangewend.
Die tweede kategorie van skuurmasjiene sou ek graag vibrasieskuurders wou noem en dit word oorwegend gebruik om ‘n werkstuk af te werk. By vibrasieskuurders vibreer die skuurvlak in baie klein bewegings terwyl die skuurvlak oor die werkstuk beweeg word. Daar is twee soorte vibrasieskuurders naamlik, die meer algemene vaste orbitale skuurders asook die wisselende orbitale skuurders. ‘n Vaste orbitale skuurder voer klein sirkelbewegings rondom ‘n vaste middelpunt uit en het die nadeel dat ‘n sirkelvormige skuurpatroon op die werkstuk kan verskyn as daar te lank op een plek geskuur word. As teenvoeter vir dié probleem word wisselende orbitale skuurders gebruik wat ewekansige bewegings in verskillende rigtings in die skuurvlak uitvoer.
Ek val myself nou in die rede, maar woorde en die betekenis van woorde vind ek baie fassinerend. Min mense besef dat, alhoewel Leonadro da Vinci sy idees met sketse geïllustreer het, begin groot projekte en ondernemings vandag met woorde eerder as met sketse. Behoeftespesifikasies, stelselspesifikasies en produkspesifikasies vorm die basis waarop idees tasbaar gemaak word. Toe ek met die artikel begin het, het ek die verskillende benaminge vir ‘n orbitale skuurmasjien in verskillende tale opgesoek. In Engels is word dit ‘n orbital sander genoem. ‘n Ponceuse vibrante is die Franse benaming en hierin kan mens dan ook duidelik hoor dat die werking van die gereedskapstuk met vibrasie te doen het. In Duits word dit ‘n Schwingschleifer genoem en in Nederlands ‘n vlakschuurmaschine. Behalwe vir die benaming ‘orbitale skuurder’ in Afrikaans kan mens dalk ook sinvol praat van ‘n wentelskuurder. Ek het egter ook ‘n ander vertaling in Duits raakgeloop wat myns insiens baie beskrywend is naamlik ‘n Exzenterschleifer. Die beskrywing exzenter is afgelei van die Latynse woord ex centro wat “weg vanaf die middel” beteken. ‘n Eksentriese beweging is dus ‘n beweging wat nie rondom die middelpunt is nie maar om ‘n punt wat weg van die middel of die normaal gesetel is. Nou verstaan ons ook die woord ‘eksentriek’ beter wanneer ons van ‘n sonderlinge of eienaardige persoon praat, wat anders as gewone mense is! Miskien kan ons lesers vir ons laat weet watter benaming hulle sou verkies en waarom.
Die orbitale skuurder wat ek gebruik is al betreklik bejaard – die skuurder is nog in Switserland vervaardig! Soos wat ek met die masjien gewerk het, het ek agtergekom dat die skuurpapier wat deur twee klemme in posisie gehou word, tydens my werkery van die skuuroppervlak afskuif. Aanvanklik het ek gedink dat dit moontlik ‘n ontwerpsprobleem op die skuurder was. Mens weet mos hoe dit gaan… Jy doen ‘n klein werkie en is dikwels haastig. Jy kry gedoen wat jy wil doen maar kyk nooit werklik dieper na die probleem nie. Toe ek die groot laaghoutplate begin skuur, het die probleem my so begin pla dat ek in fyner besonderhede daarna begin kyk het. Ek merk toe op dat beide klemme veronderstel is om ‘n rubberskoentjie op die kontak-oppervlakte te hê waarmee die skuurpapier vasgedruk word. Een klem se rubberskoentjie was nie meer daar nie en moes een of ander tyd verloor het. Omdat die skuurmasjien so oud is, was ‘n nuwe onderdeel buite die kwessie.
Die eerste plan wat ek gemaak het was om ‘n oorskietstukkie skuurpapier dubbel te vou, wat ek tussen die klem en die skuurpapier ingesit het, sodat die dubbelgevoude skuurpapier se growwe gedeelte op die growwe skuurgedeelte van die skuurpapier gerus het. Sodoende het ek gehoop dat die dubbelgevoude skuurpapier sou verhoed dat die skuurpapier uit sy plek skuif. Die skuurder het beter gewerk, maar die papier het tog mettertyd weer begin uitskuif.
My volgende plan was om die plastiese omhulsel van ‘n elektriese koord as skoentjie te gebruik. Ek het ‘n ongeveer 95mm gedeelte van die koord tussen die klem en die skuurpapier ingeskuif wat dan as ‘n skoentjie moes dien. Hierdie plan het aansienlik beter gewerk, en die papier het minder uitgeskuif. Op ‘n stadium toe ek die skuurpapier vervang het, het ek gemerk dat die plastiese skoentjie in flarde was. Die plastiese skoentjie kon nie die geweldige wrywingskragte hanteer nie. Ek wou net nog ‘n ander plastiese skoentjie sny toe ek tussen my “goeters” in ‘n glasbottel, op ‘n rubberpyp met ‘n buitedeursnee van 7mm en ‘n binnedeursnee van 3mm afkom. Met ‘n nutsmes (Stanley knife, box cutter of utility knife) het ek ‘n 95mm lengte van die rubberpyp afgesny. Oor die lengte van die rubberpyp het ek ‘n 80mm lengtesnit deur net een wand gemaak. Aan beide kante van die pyp was daar dus ongeveer 8mm pyp wat nie ‘n snit in gehad het nie. Die 80mm gleuf het soos ‘n skoen in die klem ingepas en die 8mm kante het verhoed dat die “rubberskoen” heen-en-weer sou kon skuif. Hierdie plan het uitstekend gewerk en ek kon sonder onderbrekings die skuurwerk op die laaghout voltooi.
Met hierdie modifikasie is my frustrasie beëindig en kon ek die aankoop van ‘n ander vibrasieskuurmasjien tot later uitstel.