Xperiland Eksperiment: Die ongelooflike lemoen

Ons gaan ‘n paar eienskappe van die lemoenskil ontdek en ondersoek

Benodighede: 2 Lemoene, mes, kers en vuurhoutjies, ballon, olyfolie en 2 bekers met water.

Metode: Skil die een lemoen, behou die binnekant asook die skille. Die ander lemoen moet nie geskil word nie.

Brandstof in ‘n sitrusskil?

Gebruik strokies van die lemoenskil om hierdie eksperiment mee te doen. Steek die kers aan die brand. Druk die lemoenskil sodat die olie uit die skil spuit terwyl jy dit oor die vlam hou. Die oliedruppels vat vlam!

Wat is die naam van die brandstof?

Die naam van die brandstof is limoneen. Hierdie koolwaterstof-verbinding is nie-polêr en is soortgelyk aan petrol wat in jou motor gebruik word. Tegnies behoort jou motor ook aangedryf word deur die limoneen, dis net baie duur!

Die limoneen los plastiek op. Ons kan dit sien as ons ‘n ballon opgeblaas het en dit met die lemoenskil spuit. Die ballon sal bars. Dit veroorsaak dat die ballon op daardie plek bros raak en dit veroorsaak dat die buitewand van die ballon verswak en daarom bars. Die ballon moet redelik styf opgeblaas wees.

Die lemoen dryf en sink?

Plaas die ongeskilde lemoen in een glas water en die geskilde lemoen in die ander glas. Die geskilde lemoen sal sink terwyl die lemoen met die skil sal dryf! Sou dit wees dat daar lug in die lemoenskil is?

Nee, daar is olie in die skil. Daar is ongeveer 10 ml olie in die skil van een lemoen. Olie dryf op water omdat dit minder dig is as water.

‘n Lemoenkers

Maak ‘n kersie van ‘n halwe lemoen. Eet die binnekant van die lemoen maar hou die skil as ‘n bakkie. Die pit van die lemoen is ook baie belangrik. Skink olyfolie oor die pit asook in die skil-bakkie. Die lemoen sal die olyfolie absorbeer. Steek die kersie aan. Dit behoort tussen 6 na 8 ure te brand.

 

Watter nut dink julle het die lemoenkers nog? (Wenk – muskiete haat die olie in ‘n lemoenskil) Laat weet ons in die kommentaarblok hieronder…

3.00 avg. rating (74% score) - 1 vote

One Comment

  • Baie interessant!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui