Laat ons boekevat

Van my mooiste jeugherinneringe is die huisgodsdiens aan huis van my oorlede grootouers. Daar is Bybel gelees, gebid en Halleluja-liedjies gesing. My enkelma – my pa is vroeg oorlede en Ouma en Oupa het help grootmaak aan my en my sibbe – het gesorg dat ons kerk en Sondagskool toe gaan en katkiseer. Ek onthou ook hoe my bejaarde grootoom en     -tante, wanneer ek soms by hulle aan huis moes oorbly tydens my studiejare, skemeroggende in hulle kamer met krakerige stemmetjies ’n loflied aangehef het. Ek het my enigste kind (nou al lankal groot en getroud) in die weë van die Here grootgemaak. Sy het aan ’n Christenskool skoolgegaan en het ook die kerk, Sondagskool en jeugaksie-ding gedoen. Elke oggend op pad skool toe was dit my en haar tyd om sommer so in die ry oop oë te bid en dankie te sê vir die mooi dag wat op ons wag en om Sy beskerming en genade te vra. Ek sien die seën op haar (én my) lewe – die direkte gevolg van innige gebede wat (steeds) verhoor word. Ek getuig hier in nederigheid en met groot dankbaarheid van God se hand van beskerming oor ons.

Dit bring my by die vraag: Hou gesinne deesdae nog saam huisgodsdiens? Ek weet maar té goed teen hoe ’n geweldige vinnige pas ons byna noodgedwonge lewe net om kop bo water te hou en te sorg vir kos, klere en ’n dak oor ons koppe. In dié harwar draf gesinslede by mekaar verby, want Ma is laat vir werk en Pa is op pad lughawe toe. Boetie skryf eksamen en daarná is sy hele middag uitgeboek met verskeie buitemuurse akitiwiteite. Sussie boer ná skool voor die rekenaar en het volgelinge op sosiale media wat sy konstant moet vermaak met slim anekdotes en video’s. Almal is onder enorme druk om te presteer. Vanaand gryp elkeen net wat ook al deur ’n kitskosplek afgelewer word vir aandete en verdwyn in hulle kamers, té poegaai om as gesin by ’n tafel aan te sit en saam te eet – wat nog te sê van boekevat! Naweke spat almal hulle eie rigtings in, te bly om bietjie te ontsnap van die strawwe pas wat weeksdae volgehou word.

As dit vir jou voel of ek jóú gesin hier bo beskryf, haal diep asem. Alles is nie verlore nie, al weet jy nie eens waar en hoe jy tyd gaan maak om sélf weer op ’n gereelde grondslag Bybel te lees en bid nie – wat nog te sê van jou gesinslede so ver kry om dit saam met jou te doen! Jy sien al hoe rol die tieners onder jou dak hulle oë by die blote gedagte daaraan dat hulle moet sit en luister hoe Pa of Ma deur Klaagliedere worstel. Of ons dit wil weet of nie, tye het verander. Min gesinne maak nog tyd om huisgodsdiens te hou. Tog, glo ek, is daar veral nóú, nadat ons wêreld op sy kop gedraai is en ons uit ons gemaksones geskud is deur die pandemie, by baie ouers die begeerte om hulle gesinslewe weer in lyn met God se wil te bring. Dis asof al hoe meer mense besef dat ons die tyd moet uitkoop. Dat ons moet terugkeer na dié dinge wat werklik waarde tot ons lewens byvoeg.

En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan (Deut. 6:6-7, AFR53).

Maar hóé doen ’n mens dit? Hoe kry jy jou gesinslede almal saam om ’n tafel om na die Woord te luister, verál as Pa of Ma nou nie juis tot op hede ’n navolgingswaardige voorbeeld gestel het nie? Jy wil tog nie opeindig met dikmond gesinslede wat met gevoude arms sit en wag dat die “marteling” moet verbygaan nie. Jy wil niemand dwing of laat voel hulle is onder ’n verpligting nie. Nee, jy wil hê jou gesinslede moet dié spesiale stilwordtyd rondom die Woord omarm, daarna uitsien en daaraan meedoen. Hê dus die wysheid om nie eensklaps rigiede reëls vas te lê betreffende huisgodsdiens nie, maar bring die gedagte dat daar ’n tyd en ’n plek vir God in jou huishouding is stelselmatig en subtiel in. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare” (Sag. 4:6b, Afr 53).

Stel eerstens ’n voorbeeld deur sélf tyd in te ruim vir Bybellees en bid. Deel jou ervaring spontaan met jou gesinslede sonder om dweperig of prekerig voor te kom. Noem dat jy iets interessants raakgelees het in die Bybel en graag wil hoor wat hulle daarvan dink – dit lei dalk tot ’n heerlike gesprek. Jy kan byvoorbeeld begin deur soggens of saans na ’n loflief te luister waar die res van jou gesin dit ook kan hoor. Of plak elke oggend ’n Bybelversie op die yskas waar almal dit kan lees. Bid en sê weer soos in die ou dae dankie vir die kos wanneer julle jul wel saam om die etenstafel bevind. Plaas ’n gebedsboek op ’n strategiese plek in jou huis en nooi jou gesinslede om gebedsversoeke daarin te skryf. Merk op hoe ’n lieflike dag dit buite is en hoe wonderlik God alles geskep het. En dan is daar die baie belangrike woorde wat begin met: “Ek is dankbaar vir …” Deur jou dankbaarheid teenoor God uit te spreek waar jou gesinslede kan hoor, leer hulle dat Hy bemoeienis maak met julle.

Geniet die heerlike reis om weer as gesin by God in te trek. Laat boekevattyd herleef!

Erkenning:

  • Fokus-illustrasie: W.H. Coetzer, “Voortrekker Monument, Pretoria tapisseries” deur http://chessaleeinlondon.wordpress.com/2007/06/22/voortrekker-monument-pretoria/, 1 Februarie 2011.
  • Bybelfoto: Stocksnap te Pixabay
0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Ek is ‘n enkelma met ‘n 21 jarige seun wat studeer en tuis woon. Ons probeer steeds elke aand Huisgodsdiens hou. Dis soms moeilik en die singery gaan moeiliker want hy is nie lief daarvoor nie. Maar ek mis die sang verskriklik. Ek “dwing” hom soms om sy kitaar uit te stof en dan sing ons sommer paar Halleluja’s of bekende liedere. Dis gewoonlik baie geseënd dan. Soms sing ons met YouTube se meer moderne musiek saam, maar dis nie dieselfde lekkerkry en lofprysing as Halleluja liedere nie. Die Woord is soms Amir Tsarfati se Bible Bites en meestal uit die Woord waar een van ons 2 die oggend ons stukkie uit gekry het.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui