Boererate vir wonde
Soveel ouers vra vir hulle kinders wat huil (sarkasties en/of om die situasie te bepaal): “Is daar bloed?”
Wat gemaak as daar bloed is? Soms is die noodhulpkassie by die huis ietwat leeg. Somtyds is jy in die werkswinkel, of miskien in die veld wanneer die bloed begin loop.
Water:
Gewoonlik is water darem naby. Spoel die wond af onder (so skoon as moontlike) water. As die water koud is, help dit ook so klein bietjie om die bloeding al klaar te laat bedaar.
Die water help ook om groter vuilighede uit die wond uit te was.
Suiker en Sout:
Om sout in die wonde in te vryf, is om iemand wat al klaar sleg voel oor iets, nog slegter te laat voel. Maar ons is nie nou besig met `n Afrikaanse les nie.
Sout is een van die beste, goedkoopste en maklik bekombare wond genesingsmiddels wat daar is. Dit stop die bloeding en ontsmet die wond gelyktydig.
Ongelukkig het die spreekwoord begin by die pynlike werklikheid. Dit brand nogal baie om sout op `n oop wond te gooi.
Suiker brand nie soveel as sout nie, maar dit ontsmet ook nie `n wond nie. Tog help dit om die bloed baie vinnig te laat stol.
Een Sondag oggend, toe die koster die kerk se vensters oopmaak, breek een van die ruite. Die glas stukke het van taamlik hoog af geval en sy voorarm oop gesny. Die dominee se vrou het dadelik `n handdoek en suiker gekry. Die suiker kon die bloeding so onder beheer hou, totdat oom Gawie by die hospitaal kon uitkom.
As jy self sout of suiker op `n oop wond gooi, hou dit daar totdat die bloeding behoorlik gestop het. Was dit dan af onder lopende water. As die wond weer begin bloei, gooi net weer die sout of suiker op. Hou so aan, totdat die wond ophou bloei.
Tabak:
My broer was `n klein karnallie van omtrent so 4 jaar oud. Die dag hardloop hy in die hoek van die venster raam, wat oopstaan, vas.
Die buurman het dit gesien en dadelik kom help. Hy het eenvoudig sy sigaret oop gebreek en die tabak op die word gesit.
Tans het ons twak en pleisters in ons noodhulp kassie. Dis ons wond behandeling voorraad. Niemand in ons huis rook nie, maar ons het `n sakkie goedkoop pyp tabak in die noodhulp kassie.
Wanneer ons diep wonde het, is tabak my eerste keuse. (Skuus as dit bietjie grusaam klink -) nadat ons die wond onder lopende water gehou het, druk ons die fyngemaakte tabak poeier so diep as moontlik in die wond in.
Waarskuwing – as jy gedink het dat sout in die wonde brand, is tabak se brand heelwat erger.
Ons het nog nooit `n wond gehad wat septies geword het, nadat ons tabak gebruik het nie. Verder is ons ervaring dat hierdie wonde nie sigbare merke los nie. (Hierdie twee opmerkings is nie wetenskaplik getoets of dit werklik so is nie, dis maar ons bolangse ervaring.)
Heuning:
Een van die mees gewilde antieke wond behandeling metodes, is heuning. Dit was eenvoudig as `n salf aan die wond gesmeer. Moderne navorsing het gewys watter waarde daar in heuning is. Dit het verskeie antibakteriese eienskappe wat help om ontsteekte wonde te genees.
Alkohol:
Voordat hierdie artikel eindig wil ek ietsie, wat `n bietjie meer waardevol is as tabak, noem. Daardie knertsie is dalk net die ding wat jy nodig het om die wond wat te veel knertsies veroorsaak het, reg te maak. Dit help darem vir ander wonde ook.
Alkohol help maar min of meer net soveel as water om die bloeding te stop. Alkohol was vir baie lank die mediese voorkeur as `n ontsmettingsmiddel. Die oudste rekord wat ons het dat alkohol gebruik is in die behandeling van wonde, is by die Sumeriërs.
Spinnerakke:
Dan is hier `n metode wat heelwat betwis word. Die Grieke en die Romeine het spinnerakke gebruik om wonde te behandel. Soms het hulle heuning, saam met die spinnerakke, gebruik vir dieper wonde.
Hulle het die spinnerakke gebruik as `n ‘gaas’ wat hulle in die wond in gedruk het. Dan het hulle ook die web gebruik as `n verband om die wond toe te draai. Dit het, volgens bewering, gehelp dat die wond vinniger droog word en dat die nie ontsteek nie.
Slim mense argumenteer oor die waarde van spinnerakke as `n wond behandeling. Hulle voel so sterk oor hulle saak, dat hulle kliniese studies aanpak oor hierdie onderwerp. `n Vinnig soektog op Google het twee wetenskaplike artikels uitgelig – die een dink dat spinnerakke fantasties is, die ander sê dat dit bog (nie twak nie, ons het reeds oor twak gesels) is.
Onlangs het my dogter in die veld gespeel, toe sy haar vinger oop gesny het. Daardie aand, het ons die spinnerak-verband om die vinger gesien. (En dit was die eerste keer dat ek gehoor het dat spinnerakke `n opsie is om wonde te behandel.) Nou ja, die wond is nou al weer heeltemal gesond, sonder enige komplikasies.
Super Gom:
Hierdie een het ek nog nie self vir wonde gebruik nie. Wel, laat ek so sê, dat ek al baie kere my vingers aan mekaar vas geplak het met Super Gom.
Volgens `n artikel wat in The New York Times verskyn het, is `n voorloper van vandag se Super Gom gebruik om wonde toe te maak gedurende Viëtnamese Oorlog. Kenners betwis ook tog die waarde van hierdie opsie. So as jy dit oorweeg, doen gerus self jou huiswerk hieroor.
Slotsom:
As jy `n ligte wond opdoen, is dit taamlik maklik om met goed wat jy in die huis of in die veld, selfs in die werkswinkel het, die wond te behandel.
Hou tog net die wond dop. As daar enige tekens van ontsteking kom, gaan maak asseblief `n draai by jou dokter.
Deur self wonde te kan behandel, is jy nie net meer selfstandig nie, jy spaar sommer ook `n hele klomp geld in die proses.
Wat van ‘n eiervelletjie? Plak dit oor die wond en dit krimp soos dit droog word en hou sodoende die wond toe.
Sowaar Jaco, dit klink na baie interesant. Dis beslis iets wat mense baie handig kan vind.