Reënwater opgaarstelsel
Hoe om jou eie reënwater opgaar stelsel op te stel
Of jy nou in ‘n stedelike gebied woon of in `n plattelandse dorpie, weet jy waarskynlik dat water probleme ‘n groot kopseer kan wees. Daar is so baie redes hoekom die owerhede sukkel om by te bly om water te voorsien: van vinnige bevolkingsgroei, wispelturige klimaatstoestande, munisipale wanbestuur, en infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie.
Om uitsluitlik op munisipale water staat te maak, kan ‘n bietjie senutergend wees. Maar gelukkig weet ons mos lankal dat ek en jy `n spreekwoord het wat in ons guns tel – `n boer maak `n plan. Die maklike oplossing, wat jou nie net help om geld te spaar nie, maar ook die las op jou stad se watervoorraad verminder, is om reënwater op te gaar.
In hierdie artikel gaan ons praat oor die voordele, wat jy nodig het vir jou stelsel en die eenvoudige stappe om jou eie reënwater-opstelling in ‘n beton oerwoud te skep.
Voordele om reënwater op te vang
Bespaar water: Die opgaar van reënwater help jou om jou waterrekeninge te verminder en kosbare waterbronne te bespaar.
Omgewingsvriendelik: Reënwater is redelik suiwer en vry van die chemikalieë wat gebruik word om munisipale water te behandel, wat dit perfek maak vir ‘n verskeidenheid nie-drink doeleindes. As dit nie vir lugbesoedeling was nie, was reënwater `n fantastiese waterbron.
Minder oorstromings: Deur reënwater te oes, help jy ook om stedelike oorstromings te verminder deur stormwater meer effektief te bestuur.
Onafhanklikheid: Dit maak jou minder afhanklik van eksterne waterbronne, wat jou water sekuriteit verhoog.
Oorbrug munisipale ellende: Met gebrekkige infrastruktuur en munisipale wanbestuur wat waterkwessies veroorsaak, kan jou rugsteun stelsel ‘n ware lewensredder wees.
Wat het jy nodig?
Om jou reënwater opgaar avontuur te begin, sal jy ‘n paar sleutel dinge nodig hê:
Die dak oor jou kop: Ja, dit is jou versameling oppervlak. Reënwater sal daaruit in jou versamelpunt vloei. Jy het al klaar `n klomp geld betaal om net `n dak oor jou kop te hê, nou kan jy nog `n klein bietjie ekstra waarde uit jou belegging kry.
Geute en afvoerpype: Dit is soos die snelweg vir reënwater, wat dit van jou dak na jou opgaartenk of vat lei.
Blaarskerms: Dis die filters by die ingang van jou afloop pype om groter onsuiwerhede, soos blare en takkies, uit te hou.
Opgaartenk: Waar jou reënwater opgevang word. Plaas dit gerieflik naby die sentrale aflooppyp. Sommige mense sit selfs verskeie tenks op. Op daardie manier vermy hulle om vreeslike lang geute rondom die huis te bou.
Eerste spoel afleier (first flush diverter): Hierdie handige toestelletjie hou die eerste klompie vuil reënwater weg van jou opgaartenk af. Dit skei die kleiner onsuiwerhede van die skoon water, sodat goed soos stof, stuifmeel, voël mis en so aan, nie in die tenk beland nie.
Oorloopbeplanning: Wanneer jou tenk in swaar reën oorloop, lei hierdie pype die oortollige water veilig weg van jou huis af.
Filter en pomp (opsioneel): As jy nog skoner water vir meer doeleindes wil hê, kan ‘n filter en pomp die ding doen.
Tyd om te begin!
Kom ons spring nou in met die opwindende deel: die beplanning van jou eie reënwater opgaar stelsel:
Ken jou behoeftes: Bepaal hoeveel reënwater jy wil opvang en waarvoor jy dit sal gebruik – tuinmaak, was, of ander nie-drink gebruike.
Meet jou dak: Bereken die area wat jy het of wil hê vir reënwaterversameling om te skat hoeveel jy kan oes.
Kies jou tenk: Vind ‘n geskikte opgaartenk. Jy kan een koop of kreatief wees om voedselgraad dromme te gebruik.
Geute en afvoerpype: Installeer of verander dit sodat reënwater van jou dak na die tenk vloei.
Blaarskerms: Installeer dit om te keer dat blare en ander onsuiwerhede jou stelsel verstop of in jou tenk beland.
Eerstespoelafleier: Maak seker dat jy dit installeer sodat die eerste klompie vuil water weg gelei kan word.
Oorloop stelsel: Stel ‘n manier op om die oortollige water veilig van jou huis af weg te lei.
Gereelde onderhoud: Hou jou geute en tenk skoon seker te maak dat jou stelsel soos vir baie lank reg werk. (Leer uit die munisipaliteite se foute.)
Filter en pomp (opsioneel): As jy dinge nog `n bietjie wil verbeter, sit ‘n afsaksel- of chemiese filter en ‘n pomp by. Die afsaksel filter, is vir wanneer jy die water buite gebruik. Die chemiese filter is om die water te ontsmet, voordat jy dit in die huis gebruik.
En onthou, speel volgens die reëls
Voordat jy te meegevoer raak met jou nuwe reënwater opgaar stelsel, onthou asseblief om by plaaslike en nasionale regulasies te hou. Dit hou jou stelsel veilig en doeltreffend, en help om enige omgewings- of gesondheidskwessies te vermy.
Wanneer jy water vir nie-drink doeleindes gebruik, is daar eintlik maar min regulasies wat geld.
Die regulasies is:
Bouregulasies – om `n water tenk veilig op te sit. Onthou dat elke 1000l water, 1 ton weeg. As daardie vol watertenk begin rol of van `n staander af val, kan dit groot skade veroorsaak.
Water kwaliteit regulasies: Vir nie-drink gebruike, geld die South African Water
Quality Guidelines (SAWQGs). Vir drinkwater, geld SANS 241, addisioneel bo-op die SAWQGs.
Water vloei: Dit is onwettig om reënwater te laat terugvloei in die munisipale waternetwerk in. Indien jou reënwater stelsel aan die munisipale netwerk gekoppel is, moet `n teenvloei meganisme deel van die stelsel vorm.
Vir kennisname, is die wette wat van toepassing is, die volgende:
Nasionale Waterwet, 1998. (Wet 36 van 1998)
Wet op Waterdienste (Wet 108 van 1997)
Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000)
Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde (Wet 103 van 1977)
Natuurlik kan daar soms ook sekere munisipale bywette wees wat geld.
Om saam te vat:
Om jou eie reënwater opgaarstelsel te bou, is ‘n fantastiese manier om geld te spaar, jou afhanklikheid van munisipale water te verminder en jou deel te doen om hierdie kosbare hulpbron te bewaar. Begin dus vandag met jou reënwater reis en word deel van die oplossing vir stedelike water uitdagings.
So spreek jy in stille protes, kwessies aan soos die verval van infrastruktuur en munisipale wanbestuur. Dis hoe ons kritiseer deur te skep.
(As jy die tipiese navorser is wat al die antwoorde moet weet, is hier `n lekker lywige dokument om voor bedtyd te lees. RESOURCE GUIDELINES FOR RAINWATER HARVESTING)