Jou besigheid as eenmansvertoning is ‘n vinnige baan na uitbranding!
As jy dink dat om die baas te wees is dieselfde as om in beheer te wees, is dit baie moontlik dat jy altyd die kers aan beide kante brand. In plaas daarvan om alles self te probeer doen, het jy nodig om die regte mense in beheer van die regte dinge te plaas. Vind eerstens uit watter foute jy met jou werknemers maak.
Uit ‘n bestuursperspektief
Toe jy met jou besigheid begin het, moes jy omtrent alles self doen. Maar noudat jy personeel het om alles vir jou te doen, lyk dit asof jy steeds nie die gewoonte kan afleer om die heeltyd op kantoor te wees nie. Jy is daar om na die eerste tekens van ‘n ramp te soek, of om los punte op te tel voordat daar selfs ‘n kans is dat dit op jou werknemers se lessenaars land. Hierdie versuim om te delegeer, kan deels wees as gevolg van die behoefte om altyd in beheer te wees, maar dit kan ook reflekteer op jou mening oor jou personeel se vermoëns. As jy hulle nie vertrou om die werk gedoen te kry nie, moet jy jouself afvra waarom nie? Kan dit wees dat jy nie voel dat hulle die nodige kennis of vaardighede het nie? Dit is iets wat reggestel kan word met opleiding.
Op ‘n opleidingsvlak
Dit is verbasend hoeveel maatskappye nie hul nuwe personeel met ‘n gedetailleerde posbeskrywing, maatskappy-organogram, stelsel- en proseshandleidings of met basiese opleiding toerus nie. Dit is die grondslag vir doeltreffendheid. Sonder dit, sal selfs goed bestuurde en gelukkige werknemers, nie al die regte take kan verrig nie. Hoe kan jy hoop om personeel te hê wat eendag jou verwagtinge sal oortref as hulle nie eens weet wat dit is nie?
Persoonlike lewe
Indien jou personeel al die nodige inligting, ondersteuning en onafhanklikheid het om hul werk na die beste van hul vermoë te doen, maar steeds nie presteer nie, kan daar ‘n probleem wees met die balans tussen hulle werk en persoonlike lewe. Werknemers is ook mense met ‘n eie lewe weg van hul lessenaars en soms kan persoonlike aspekte van hul lewens vir ‘n beperkte tydperk meer veeleisend wees.
Om ‘n siekte te hanteer, om te sorg vir ‘n rustelose pasgeborene, dood in die gesin, en selfs om te beplan vir iets opwindend soos ‘n troue, kan jou personeel se vermoë om te konsentreer beïnvloed. Die vinnigste manier om dit aan te spreek, is om te gaan sit en met hulle te praat. Dit gee hulle die geleentheid om enige probleme te bespreek en moontlike oplossings voor te stel, of dit nou ‘n flexi-tydrooster, ‘n laer werkslading of meer hulp is. As hulle nie probleme het om aan te roer nie, sal die bespreking hulle ten minste daarvan bewus maak dat jy die afname in hulle werk raakgesien het. Dit kan hulle motiveer om die probleem op hul eie te begin regstel.
Oor die algemeen, is werknemers wat nie hulle werk waardeer nie, of nie in hulle werk wil groei nie, skaars. Indien jý sukkel om te voldoen aan die eise van jou besigheid, het jy waarskynlik ‘n probleem met meer as een werknemer. Dit is jóu verantwoordelikheid om jou besigheid onder die mikroskoop te plaas en die probleme te vind wat produktiwiteit verlaag. Stel dit reg, los jou besigheid en werknemers om op hulle eie aan te gaan, en neem dan ‘n welverdiende vakansie.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Wat Fergus sê is baie waar en dis iets wat baie werkgewers op ag kan gee. Op die ou end kom dit neer op die mees basiese instruksie wat die Bybel vir ons gee… Liefde vir jou naaste.