Die Coetzees bly lekker in Nigerië
Dis ’n jaar sedert Bianca Coetzee (33) en haar seuntjies, Christiaan (9) en Eben (8), Nigerië toe verhuis het om by haar man en die seuns se pa, Jaques (39), te wees. Jaques het in 2017 vir ’n Belgiese maatskappy begin werk. Eers in Gaboen maar toe word hy in November 2017 na Nigerië verplaas. Hy kon slegs elke ses maande vir vier weke lank op ’n keer huis toe kom.
Die besturende direkteur van die maatskappy het voorgestel dat Bianca en die kinders op ’n goed bewaakte behuisingslandgoed in Nigerië kom woon. Bianca het summier vasgeskop. “Soos baie ander het ek wanpersepsies gekoester van dié Afrikaland. Ek kon nie dink dat ek ons kinders soontoe sou neem nie. Ons het egter in Desember 2018 vir ses weke by Jaques gaan kuier en terstond verlief geraak op die land en sy mense. Dit was op die einde ’n maklike keuse om te maak – óf ons bly saam as ’n gesin, óf ons sien mekaar slegs twee keer per jaar.” Hulle het Maart 2019 na Nigerië verhuis. “Vir die eerste keer het ons ’n normale gesinslewe. Vir nou is dit vir ons huis en kan ons nie aan ’n beter plek dink om te bly nie.”
Jaques het nog altyd in die buiteland gewerk in beide die eksplorasie boorbedryf en as dieselwerktuigkundige, maar kon darem elke drie maande huis toe kom. Dit was egter steeds rof op sy gesin om vir lang rukke op hulle eie klaar te kom. “Baie vrouens wie se mans wegwerk, sal weet dat dit nie maklik is nie. Jou kinders moet leer dat Pappa nie altyd daar kan wees nie. Mamma moet instaan vir albei ouers.” Bianca vertel dat sy dinge moes leer doen wat Jaques gewoonlik sou doen. “Dit tap ’n mens geestelik, emosioneel en fisies. Ek moes krisisse alleen hanteer. Soos toe Christiaan in 2017 sy arm breek en ek hom in die nag na die Rooikruis Kinderhospitaal moes neem vir ’n operasie.”
Tegnologie het dit wel moontlik gemaak om gereeld met Jaques te kommunikeer, maar soms was die netwerkopvangs aan sy kant swak en moes hulle tevrede wees om net ’n boodskap aan mekaar te stuur. “Jy kom nie agter watter invloed afstand op jou huwelik het voor julle nie mekaar eers ná ’n ruk weer sien nie. Ons het aparte roetines en vriende gehad. Dit was elke keer van voor af ’n aanpassing wanneer Jaques ná maande se afwesigheid skielik weer by die huis was,” verduidelik Bianca. “Dit het egter ons verhouding sterker gemaak. Ek spot altyd dat as ’n huwelik ’n roterende werkskedule kan oorleef, sal dit enduit hou. Ek het gelukkig ’n baie goeie ondersteuningsnetwerk gehad – vriende en familie wat altyd bereid was om te help.”
Die Coetzees woon nou op ’n 8 000 ha palmplantasie met ’n eie meule en raffinadery waar palmolie vervaardig word. Die maatskappy is baie betrokke by natuurbewaring en het selfs bewaringsgebiede waar geen plante uitgehaal mag word nie. Vir elke ou boom wat hulle uithaal wat nie meer vrugte dra nie, word ’n nuwe een geplant.
Hulle is sowat 25 km van Benin City en vyf ure se ry van Lagos af. Daar is 20 huise op die plantasie se behuisingslandgoed wat deur expats en hulle gesinne bewoon word. “Hier is mense van onder meer Engeland, België, Sirië, Ghana, en Ierland. Hier kom ook dikwels besoekers van ander lande. Dit is vir my een van die voordele van hier wees. My kinders word blootgestel aan soveel kulture. Die meeste van hulle speelmaats is plaaslike kinders. Hulle verstaan Pidgin (’n mengsel van Engels en die streekstaal) beter as wat ons doen.”
Die landgoed spog met ’n lieflike ontspanningsarea en swembad. Die kinders baljaar in goed versorgde tuine en mag vrylik aan die vrugte smul – pynappels, piesangs, koejawels, veselperskes, lemoene en avokado’s. Daar is hoë mure rondom die landgoed en alle in- en uitgange word streng bewaak. Die maatskappy betaal die Nigeriese polisie ’n fooi om van hulle mobiele polisie gebruik te maak. Die polisiemanne bly in afsonderlike behuising op die plantasie. Wanneer Bianca dorp toe gaan, is daar ’n drywer wat haar rondneem én sy word deur twee gewapende polisiemanne vergesel. “Ons is al gewoond dat hulle orals saampiekel. Hulle behandel ons met respek en is baie taktvol en vriendelik. Eben het onlangs verjaar en ons het vir hom ’n koek in die dorp gaan koop. Op pad terug kon ek die perfekte foto neem van hom met die koek op sy skoot en die polisieman met sy geweer langs hom. Gelukkig was die kinders nog nooit bang nie en het hulle die polisieteenwoordigheid aanvaar as deel van die avontuur.”
Daar is bekende winkels en restaurante in Lagos – ook Suid-Afrikaanse kettingwinkels en restaurante. “Ons doen elke twee maande groot inkopies by Shoprite waar ons ook ons vleisprodukte aankoop. In Benin City is daar twee groot winkels wat al hulle produkte vanaf die VSA en Engeland invoer. Ons kry meestal alles wat ons soek daar. Hulle hou nie vars produkte aan nie, maar ons koop dit sommer by die mark.” Bianca en een van die tuiniers het saam ’n groentetuin aangelê en hulle oes tamaties, komkommers, mielies, okra en uie. “Ons kry dalk nie altyd alles wat ons soek nie, maar ons kom reg met wat ons het. Ons koop ook aanlyn.”
Daar is ’n goed toegeruste kliniek op die plantasie waar opgeleide verpleegpersoneel en ’n dokter gratis mediese sorg verleen en basiese medisyne verskaf. In Benin City is daar ook baie goeie dokters en ander mediese dienste beskikbaar. Sou iets dalk met een van die Coetzees gebeur en hulle beter mediese sorg in Suid-Afrika kan kry, sal die maatskappy hulle terugvlieg huis toe sodat hulle hier kan aansterk.
Die gesin eet graag uit in Benin City of besoek die dieretuin. Hulle gaan gereeld naweke na ’n plaaslike rivieroord waar die kinders swem en speel op ’n mensgemaakte strand. Verder ontspan hulle tuis of kuier saam met van die ander expats om die swembad op die landgoed. Hoewel ’n groot deel van die bevolking Moslems is, word die Christengeloof sterk uitgeleef. “Daar is kerke om elke hoek en draai en die mense is werklik baie gelowig.”
Bianca onderrig die seuns tuis, al is daar uitstekende internasionale skole. “Christiaan is in 2017 gediagnoseer met ADHD en angs. Hy het medikasie daarvoor gebruik, maar dis nie hier verkrygbaar nie. Hy neem nou net goeie aanvullings en raak al spelende in die reuse buite areas ontslae van sy oortollige energie. Sy angsvlakke het verbeter omdat sy omgewing konstant bly en hy homself kan wees. Hy en Eben floreer albei.” Sodra die skoolwerk afgehandel is, bou die seuns boomhuise en speel wegkruipertjie in die tuin.
Jaques en Bianca het net lof vir die plaaslike inwoners. “Hierdie nasie is so vol liefde en omgee. Die dame wat ons in die huis help se kinders en myne is beste maats. Haar man is in beheer van die swembad en ontspanningsarea. Hy kom haal ons seuntjies elke middag om te gaan swem. Hy het hulle geleer hoe. Niks is ooit te veel gevra nie. Hierdie mense het die mooiste maniere en daar word altyd gevra hoe dit met jou familie gaan. Selfs die kinders word met die hand gegroet.”
Hoewel die Coetzees daaraan gewoond moes raak dat dit nege maande per jaar reën en dat die stof gedurende die Harmattan seisoen van die Sahara woestyn af oorwaai en soos mis oor die land inbeweeg, het hulle Nigerië en sy mense liefgekry. “Ons is hier met ope arms ontvang. Hoe lank ons in hier gaan bly, weet ons nie. Of ons hierna teruggaan Suid-Afrika toe, weet ons ook nie. Al wat ons weet is dat ons gelukkig is in hierdie mooi, groen land.” Die belangrikste is dat die Coetzees sáám is.
Sjoe dit is fantasties en motiverend vir ander mammas wat in soortgelyke situasies sit.
So belangrik dat die pa nog steeds deel is van die gesin.