Die groot herskikking – geen herstel of terugstel nie

Ons het in ‘n vorige nuusbrief ‘n “moeite-werd-om-te-lees” -artikel geplaas waarin mnr Johann Rupert, voorsitter van die luukse-produkte besigheidsryk,  Richemond, aangehaal word, wat sê dat die huidige, na-Covid, ekonomiese situasie … is not a pause, it’s a reset”. Mnr Rupert waarsku teen die Koronavirus se somber ekonomiese gevolge wat tot drie jaar lank kan duur. Hierdie artikel het op 15 Mei 2020 verskyn. Hiermee het hy koue water gegooi op ‘n ander leier in die luukse goedere-bedryf, LVMH, se optimistiese vooruitsigte dat tekens van herstel (recovery) binne weke sal realiseer.

Baie van ons lesers sal sekerlik bekend wees met die berugte Sjinese verwensing: “Mag jy interessante tye beleef.”

Nuusgebeure word tans deur twee storielyne oorheers. Die eerste is natuurlik die Covid-19 pandemie met sy simptome, verspreiding, toetsing, sterftes, voorkoming en natúúrlik die grendelstaat. Die tweede, die gevolge wat die pandemie op die politieke, sosiale, ekonomiese, godsdienstige en finansiële strukture van die wêreld het. Veral die ekonomiese tsunami wat die wêreld tref is groot nuus. Volgens die wêreldbank is die pandemie verantwoordelik vir die ergste ekonomiese ineenstorting in 150 jaar! Besighede, veral klein en medium besighede gaan tot niet. Werkloosheid neem toe, verwagte groei stagneer en aansoeke vir finansiële hulp skiet die hoogte in.

Die groot herskikking

Gedurende die eerste week van Junie 2020 verskyn ‘n artikel deur Dr Klaus Schwab, uitvoerende voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), met die opskrif: ”Time for a Great Reset. Hierdie artikel kan in verskillende tale gelees word en die Nederlandse uitgawe praat van:  “Het is tijd voor een Grote Herschikking”. ‘n Soortgelyke artikel verskyn op dieselfde datum in die Mail & Guardian met die naam: “It’s time for a Great Reset of capitalism. Terselfdertyd het die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) ‘n video vrygestel waarin hulle komende 2021 Davos-beraad aangekondig word met die tema ‘The Great Reset.’ Dit stel ‘n inisiatief bekend met die oogmerk om die wêreldekonomie te herstruktureer. 

Die Groot Herskikking word gemotiveer in die konteks van die Covid-19-pandemie en die gevolglike politieke, ekonomiese en sosiale ontwrigtings wat dit meegebring het. ‘n Geleentheidsvenster het ontstaan waarbinne, volgens die WEF, gestalte gegee kan word aan die inisiatief wat … toekomstige wêreldverhoudinge, die prioriteite van samelewings, die aard van besigheidsmodelle asook die bestuur van die wêreld se gemeenskaplike hulpbronne (commons) sal bepaal. ‘n Groot Herskikking is dus nodig om ‘n nuwe sosiale ooreenkoms of skikking tot stand te bring wat die waardigheid van elke mens sal respekteer. Veral hierdie laaste gedagte van ‘n ‘sosiale ooreenkoms’ maak die begrip groot herskikking meer toepaslik as groot herstel.

Tydens die aankondiging van die komende Davos-tema het Dr Schwab ook die gedagte in die agenda herbevestig dat ons net een planeet het en dat klimaatverandering die volgende wêreldramp kan wees, met selfs gróter dramatiese gevolge vir die mensdom. Hy is van mening dat koolstofvermindering (decarbonizing) van die ekonomie nog steeds baie belangrik is. In aansluiting hiermee het Prins Charles van die Britse Koningshuis gesuggereer dat die Covid-pandemie se oorsaak ‘n onbalans is wat in die natuurlike wêreld bestaan. Hy vergelyk die aarde met ‘n pasiënt wat ‘n worstelstryd met ‘haar’ immuunstelsel het as gevolg van die toedoen van die mensdom. Nog ‘n spreker was die Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies,  mnr Antonio Guterres. Die Groot Herskikking is volgens mnr Guterres ‘n welkome erkenning dat die tragedie van die Covid-19-pandemie ‘n wekroep is. Die leiers van die verskillende lande is reeds besig om stewige fondamente vir volhoubare herstel te lê, wat op die VN se 2030 Agenda vir volhoubare ontwikkeling geskoei is. Sy mening is dat meer gelyke, inklusiewe en volhoubare ekonomieë en samelewings gebou moet word, wat meer veerkragtig (resilient) moet wees in pandemies, klimaatverandering en ook ander globale veranderings wat mag voorlê. Dr Kristalina Georgieva, voorsitter en besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ook die Groot Herskikking onderskryf. Dr Georgieva het ‘n PhD in Ekonomie en ‘n MA in Politieke Ekonomie en Sosiologie aan die Karl Marx Hoër Instituut vir Ekonomie in Sofia, Bulgarye verwerf. Sy het die opmerking gemaak dat ‘n massiewe inspuiting van ‘n fiskale stimulus onvermydelik is, ten einde lande te help om met hierdie Covid-19-krisis te handel, maar ook om daarná groei te bewerkstellig. Dit is egter van kardinale belang dat hierdie groei daartoe moet lei dat die toekomstige wêreld groener, slimmer en meer regverdig (greener, smarter and fairer) moet wees.

Dr Schwab meen egter die Covid-19-pandemiewolk het tog ‘n silwer randjie. Volgens hom het dit gedemonstreer hoe vinnig mense en lande radikale veranderings aan hulle lewensstyl kon maak wat lank as essensiële praktyke gesien is. Hier noem hy gereelde lugreise en om vanaf ‘n kantoor te werk. Hy stel voor dat hierdie radikale veranderings verder uitgebrei word en identifiseer drie hoofkomponente vir die Groot Herskikkingsagenda. Hierdie komponente sien ons reeds in Dr Georgieva se “groener, slimmer en meer regverdige” wêreld.

  • Die eerste komponent stel ten doel om die mark in die rigting te stuur waar meer regverdige uitkomste gebied word. Om dit te bereik moet regerings koördinasie (of is dit beheer?) opknap en omstandighede skep ten einde ‘n “belanghebbende (stakeholder) ekonomie” daar te stel. Hierdie veranderinge sal insluit veranderings aan welvaartbelasting, afskaffing van fossielbrandstofsubsidies asook nuwe reëls wat intellektuele eiendom, handel en mededinging sal reguleer.
  • As tweede komponent van die agenda moet verseker word dat beleggings, en dit sluit sekerlik lenings in, gedeelde doelwitte, soos gelykheid en volhoubaarheid, sal bevorder. Ekonomiese stimulusbegrotings sal ook hiervoor aangewend word.
  • Die derde komponent van die Groot Herskikking het ten doel om die innovasie wat deur die Vierde Industriële Revolusie te weeg gebring word, te benut ten einde openbare welsyn, veral sosiale en gesondheidsuitdagings aan te spreek. Die Covid-19-pandemie word dan as navolgenswaardige voorbeeld gebruik waar maatskappye, universiteite en andere gesamentlik diagnoses, terapieë en moontlike entstowwe ontwikkel het; toetssentra opgerig het; meganismes geskep het om infeksies op te spoor en ook telegeneeskunde verskaf het. As dit alles moontlik was, dink net hoe dit in ander krisissituasies aangewend sal kan word! Die Vierde Industriële Revolusie sluit in biotegnologie om genoomverandering te doen, 5G-telekommunikasie, Kunsmatige Intelligensie (AI), blokstringtegnologie, Internet van Dinge (IoT) en nog baie ander.

Ons moet egter nie dink dat die WEF in hulle oogmerke en invloed geïsoleer is tot ‘n ski-oord in Switserland nie.  Die WEF is ‘n nie-regeringsorganisasie met ‘n geskiedenis van meer as 50 jaar en  wat ‘n invloed op die ganse wêreld het. Hierdie invloed word bewerkstellig deur ‘n enorme netwerk met ‘n groot hoeveelheid lede, platvorms en vennote om gestalte aan ‘n “beter toekoms” te gee.  As ‘n lede-organisasie betrek die WEF besighede in projekte en inisiatiewe – aanlyn en aflyn – om nywerheids-, streeks- en sistemiese kwessies aan te spreek. Lede tree as agente op ten einde die denke en waardes van die organisasie wêreldwyd uit te dra. Verskeie Suid-Afrikaanse maatskappye en individue is ook op die lys te vinde. Dit is ook opmerklik hoe die Forum talentvolle jongmense as leiers betrek by sy werksaamhede.

Die Verenigde Nasies (VN) se SDGs

Maar die WEF oefen ook verder invloed uit deurdat hulle, saam met ander organisasies, strategiese vennote van die Verenigde Nasies (VN) is.

Op 3 Augustus 2015 het die toenmalige Sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon ‘n aantal Volhoubare Ontwikkelingsdoelstellings (SDGs – Sustainable Developments Goals) aangekondig wat die kern vorm van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling.  Na drie jaar se onderhandelinge en bespreking het 193 lande toegestem tot die 17 SDGs wat ‘n bloudruk is vir vrede en voorspoed vir die mense van die planeet – nou en in die toekoms – en wat ‘n dringende oproep is tot aksie deur alle lande, in ‘n globale vennootskap.  Die volgende 17 SDGs het só beslag gekry:

 

  1. Geen armoede
  2. Zero hongersnood
  3. Goeie gesondheid en welsyn
  4. Kwaliteit opvoeding
  5. Geslagsgelykheid
  6. Skoon water en sanitasie
  7. Bekostigbare en skoon energie
  8. Ordentlike werk en ekonomiese groei
  9. Nywerheid, innovasie en infrastruktuur
  10. Verminderde ongelykhede
  11. Volhoubare stede en gemeenskappe
  12. Verantwoordelike verbruik en produksie
  13. Klimaat-optrede
  14. Lewe onder die water
  15. Lewe op die land
  16. Vrede, geregtigheid en gedugte instellings
  17. Vennootskappe vir die doelstellings

Samewerking tussen die VN en ander organisasies vind plaas ter bereiking van SDGs en die WEF is betrokke is by ten minste 11 SDGs. Die WEF het reeds hulle verbintenis tot SDGs op 13 Januarie 2017 bevestig met die artikel: “We need to reset the global operating system to achieve the SDGs”. Klink die gebruik van die woorde “… reset the global operating system…” nie nou in 2020 vir ons bekend nie?

Meeste mense sal oor die algemeen ‘n simpatieke, neutrale of positiewe gevoel oor die genoemde SDGs hê – dit is werklik moeilik om dit ongekwalifiseerd af te wys. Ook by KragDag sal ons KragDag-gemeenskap waarskynlik saamstem dat ons armoede wil teenwerk met enterpreneurskap, ons wil graag landbou ondersteun om te sorg dat mense goed gevoed en geklee kan word. Ons moedig volhoubare skoon alternatiewe energie aan wat bekostigbaar is. Baie van ons artikels handel oor algemene welsyn en ‘n gesonde lewenstyl. Ons wil ook graag hê dat kinders ‘n kwaliteit opvoeding sal hê.  Ook is ek seker dat natuurbewaring vir die KragDaggemeenskap na aan die hart lê en dat hulle met verantwoordelikheid met die natuur en ander hulpbronne omgaan. Só geld dit ook vir die ander SDGs.

Die angel van die SDGs lê myns insiens by die inhoud, prioritisering en implementering daarvan. Genoemde SDGs is hoëvlak doelstellings (goals) wat afgebreek word in afgeleide doelwitte (sub-goals), wysers (indicators) en teikens (targets) wat elkeen uniek genommer word. Die meeste van hierdie doelwitte moet teen 2030 geïmplementeer word. Doelwitte word wêreldwyd met die goedkeuring van nasionale regerings geïmplementeer en ‘n opvolg- en hersieningsmeganisme bestaan met die doel om statistiese data te versamel, vordering te monitor beleid te kommunikeer en aanspreeklikheid van belanghebbendes te eis. Dit word dus duidelik dat ‘n de facto wêreldregering, ten spyte van demokraties aangewese de jure regerings, inderdaad besig is om sy stempel af te druk sonder dat daar “demokratiese” inspraak is.

Wêreldwye samehang tussen gebeure, aankondigings van die dag en SDGs.

Daar is die uitdrukking wat dikwels gebruik word wat stel – “As dit lyk soos ‘n eend, waggel soos ‘n eend en kwaak soos ‘n eend dan is dit waarskynlik ‘n eend” – al word dit wyd ontken dat dit ‘n eend is. Hieronder is twee nuus-aankondigings wat binne ‘n bestek van 2 dae verbande met die VN se SDGs toon.

  • Op die 17de Junie spreek mnr Ramaphosa die land toe oor verandering van sekere inperkingsregulasies. Verskeie beperkingsverligtings word aangekondig. Uit die bloute egter word die nasie ingelig oor ‘n ander “pandemie” wat die land tref – die moord en geweld teen vrouens en kinders deur die mans in die land…
    Niemand wil die erns ontken of die onaanvaarbaarheid van sulke gedrag goedpraat nie. Tog klink dit in die konteks van die aankondigings baie vreemd. Selfs radiokommentators krap kop om ‘n verklaring hiervoor te kry.
    Die aankondiging kry egter konteks as dit gesien word in die lig van SDG 16 Doelwit/Teiken 16.2:  ‘End abuse, exploitation, trafficking and all forms of violence against and torture of children’ en Doelwit/Teiken 5.2: ‘Eliminate all forms of violence against all women and girls in the public and private spheres, including trafficking and sexual and other types of exploitation’.  Dan moet daar ook onthou word dat die eerste pandemie in ‘n groot mate ‘n bydraende faktor tot die tweede pandemie is. Die vraag wat nou opkom is of daar dalk ‘n derde pandemie kom waartoe die tweede, en selfs die eerste pandemie bygedra het!  
  • Die 19de Junie berig News24 in ‘n artikel dat die Nelson Mandela Stigting aangekondig het dat die Verenigde Nasies se Sekretaris-generaal die agtiende jaarlikse Nelson Mandela gedenklesing op 18 Julie 2020 sal aanbied. Hierdie jaar word die lesing virtueel aangebied as gevolg van die Covid-19-pandemie. Die tema vir 2020 se gedenklesing is, “Tackling the Inequality Pandemic: A new Social Contract for a New Era”. Hierdie is dan ook ‘n “pandemie” wat met die Covid-pandemie asook SDG 5 en SDG 10 verbind kan word.

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

One Pingback

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui