
Heling te vind in die natuur
Die ander dag lees ek toe van ’n tendens waar dokters toenemend “nature therapy”, ook genoem “ecotherapy” en “forest bathing” as alternatiewe behandeling aan hulle pasiënte begin voorskryf. Natuurlik is daar siektetoestande waarvoor ’n paar uur in die buitelug nie sal help nie, en mens kan ook nie net jou medikasie wegsmyt in ruil vir vars lug en sonskyn nie. Dit sou onverantwoordelik wees en dalk ook lewensgevaarlik. Daar is egter wel kere dat ’n dokter vir pasiënt kan, sal en mag aanraai om meer tyd in die natuur deur te bring pleks daarvan om vir hulle net ’n voorskrif met ’n lys van pille en strope in die hand te stop.
“A change is as good as a holiday”, ja, maar ’n dag buitenshuis kan ook wonders vir jou gemoed en algemene welstand doen. Wanneer laas het jy die teerstrate van die betonoerwoud vir ’n staptog iewers in die veld of in die berge of ’n woud verruil? En as jy regtig nie kan wegbreek met vakansie nie, kan jy steeds sommer net daar in jou eie agterplaas helende sonstrale (dink vitamiene D) op jou vel voel en verfrissende en lewegewende suurstof in jou longe inasem.
Neem ’n bewustelike besluit om meer tyd in die buitelug deur te bring – sonder jou selfoon! Weier om skuldig te voel omdat jy noodsaaklike tyd neem vir jouself. Moenie dat die gevoel van “ek moet iets produktiefs dóén met my tyd” jou van kosbare ek-tyd ontneem nie. Gee jouself toestemming om te ontspan en ten volle en sonder skuldgevoelens in die oomblik te wees. Jy verdien dit en is dit aan jouself verskuldig.
Haal diep asem, luister na die voël- en insekgeluide, neem die plantegroei se skakerings van groen en bruin in, trek jou skoene uit en loop kaalvoet op die gras, raak aan boombas, voel die tekstuur van grond wat tussen jou vingers deurgly en raak aan die riffelpatrone van blaartjies se rande. Span al jou sintuie in, fokus op jou asemhaling en neem jou omgewing waar. Sit iewers en raak rustig. Is daar skoenlappers, bye, miere, sprinkane en ander insekte om jou doenig? Hou hulle dop en sien hoe ongestoord hulle hul gang gaan, al is die wêreld daar buite ’n dolle gejaag.
Ek lees die volgende in ’n aanlyn Getaway-artikel: “Spending 90 minutes outside every day decreases activity in the part of your brain associated with depression. As well as this, exploring nature reduces blood pressure, ADHD symptoms, anxiety, and aggression, and increases happiness. It even improves pain control and your immune system. Doctors can expect their patients to start feeling noticeably better after they reconnect with nature.” Dit is mos nou voorwaar goeie nuus!
Belê in jou eie gesondheid. Spandeer daagliks meer tyd in die natuur. Een manier om dit te doen, is om jou eie groentetuin en vrugteboord aan te plant. Nie net sal jy dan ’n verskoning hê om meer buite te kom nie, maar jy sal ook oefening inkry en die vreugde hê om jou gesonde, organiese voedsel vir eie gebruik te kweek. Dit is mos nou ’n wen-wensituasie hoe jy ook al daarna kyk. Skrop jou eie paradys in jou erf en gee jouself en jou geliefdes die geleentheid om feitlik kosteloos ekoterapie te ondergaan op eie bodem.