Handige veldgidse vir natuurentoesiaste

Daar het die afgelope ruk baie interessante Engelse veldgidse op my lessenaar beland. Ek het dit goed gedink om hierdie pragpublikasies onder u aandag te bring. Elkeen is voorwaar ’n aanwins tot enige huisbiblioteek. Penguin Random House gee al drie die boeke uit. Nie net is hierdie gidse uiters leersaam en maklik om te gebruik nie, maar die kennis daarin vervat is absoluut verbysterend. Dit is ’n voorreg om hierdie gesaghebbende skrywes en foto’s deur kenners so geredelik beskikbaar te hê.

Field Guide to the Frogs & other Amphibians of Africa

Hierdie fantastiese veldgids oor die paddas en ander amfibieë wat ons in Afrika aantref sal beslis menige natuurentoesias se hart steel. Dié omvattende en betroubare gids beslaan ’n allemintige 408 bladsye tjokkenblok vol asemrowende volkleurfoto’s, deeglik nagevorste feite en verspreidingskaarte. Die inligting word op ’n gebruikersvriendelike en maklik naslaanbare formaat aangebied. Ek het dit insiggewend gevind om op bladsy 6 te lees dat daar huidig sowat 7 700 spesies amfibieë is wat wêreldwyd erken word en dat daar gereeld nuwe spesies ontdek word. Tot 200 nuwe spesies word jaarliks benoem. Die outeurs van hierdie boek, Alan Channing en Mark-Oliver Rödel, erken 815 Afrikaspesies waaronder 788 paddas, 23 wurmsalamanders en 4 salamanders.

Skaf die gids hier aan.

Wildlife of Namibia: A Photographic Guide

Hierdie is ’n kompakte alles-in-een gids vir die natuurliefhebber wat graag kennis wil opdoen oor Namibië se meer as 540 soogdiere, voëls, reptiele, ongewerwelde diere en plante. Ek het die inleiding tot dié besondere mooi land van kontraste en ryke biodiversiteit se geografie, klimaat en plantegroei baie interessant gevind. Die pragtige volkleurfoto’s en gepaardgaande inligting soos die voorkoms en grootte van elke spesie en waar dit aangetref word, het my beïndruk. Nikos Petros, ’n wildlewe-fotograaf en skrywer, en Neil Macleod, die stigter van SafariWise en ook ’n skrywer, het saamgespan om hierdie boek van 160 bladsye die lig te laat sien. Hoewel nie ’n omvattende gids nie, is dit steeds goud werd in die gewone toeris se hand wat graag die diere en plante van die streek wil eien.

Skaf die gids hier aan. (Dit is ook in Duits beskikbaar.)

Field Guide to Renosterveld of the Overberg

Hierdie indrukwekkende veldgids besing die deugde van sekerlik die mees belangrike tipe plantegroei waarvan jy tien teen een nog nooit gehoor het nie. Bykans 1 000 plante en 150 diere wat in Renosterveld-gebied voorkom word in detail in die boek beskryf. Die uitgebreide inleiding gee ’n kort geskiedenis van Renosterveld en plaas dit in ’n hedendaagse konteks. Ek het die beskrywing van Renosterveld ekologie asook die menslike impak daarop besonder leersaam gevind. Die gedeeltes oor die bewaringstatus van Renosterveld flora en spesies op die Rooi Lys is ook insiggewend. Ek het ook die woordelys met gepaardgaande illustrasies baie handig gevind. Dit was vir my nuus dat tot 40 spesies bolplante in ’n enkele 1 000 vierkante meter gebied in die Overberg gevind is. Die outeurs, Odette Curtis-Scott, Mike Goulding, Nick Helme, Rhoda McMaster, Sean Privett en Charles Stirton, werp ook lig op ’n groot deel van die Overberg Renosterveld se fauna. Die gids sal baie handig te pas kom vir enigiemand wat belangstel om meer te leer van Renosterveld en ook die Overberg Renosterveld Bewaringstrust se werksaamhede wil ondersteun.

Skaf die gids hier aan.

Koop gerus die veldgidse aan en gee só erkenning aan diegene wat hulle kennis en passie vir die natuur op so ’n tasbare wyse deel. Die gidse is ook as e-boeke beskikbaar.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui