Boeke wat ‘KLANKLESER®-GEREED’ is

Boeke bly steeds in ons moderne samelewing een van die mees waardevolle en goedkoopste hulpmiddels in onderwys. In vandag se tyd, waar almal ook meer bewus word van die negatiewe effek wat te veel skermtyd op ons kinders het, maak die gebruik van boeke in onderrig net meer sin. Tog is tegnologie ‘n werklikheid en moet kinders daaraan blootgestel word.

Die Klankleser® is ‘n elektroniese pen wat reeds ‘n paar jaar op die mark is. Briza Publikasies het hierdie tegnologie reeds in 2009, op die die grootste jaarlikse boekeskou, die Frankfurt Boekeskou, in Duitsland gesien. Die tegnologie is toe deur Briza na Suid-Afrika gebring en ‘n baie suksesvolle voëlboek is deur hulle ontwikkel. SAPPI VOëLS VAN SUID-AFRIKA (ook in Engels beskikbaar) het in Desember 2013 verskyn en het reeds verskeie herdrukke beleef. Met behulp van die Klankleser®, kan ‘n mens na die geluide van die voëls luister deur op die fotos in die boek te raak. Die Klankleser® wat die geluide wat die voëls maak weergee, doen die identifikasie van ‘n voël net soveel makliker en meer akkuraat. Dit kan enige tyd en op enige plek gebruik word – geen internet- of selfoonontvangs word benodig nie.

Hoe werk die tegnologie van die Klankleser®?

Sodra die Klankleser® aangeskakel word en daar aan die betrokke foto of teksgedeelte met die punt van die pen geraak word , tel die Klankleser® se sensor die unieke kode op wat op die foto of teks ingedruk is, maar wat nie met die blote oog waargeneem kan word nie. Dit gee dan die betrokke voëlgeluid weer wat op die Klankleser® se klankbaan gelaai is en kan harder of sagter gestel word soos nodig. Die Klankleser® beskik ook oor ‘n opneemfunksie. ‘n Geheuekapasiteit van 4GB stel jou in staat om meer as een klankbaan op die Klankleser® te laai. ‘n Oorfoonsok is voorsien, sou ‘n mens van oorfone of ‘n eksterne luidspreker gebruik wou maak. Opdaterings van die klankbane kan deur ‘n USB-poort vanaf ‘n webtuiste gedoen word.

Tans is daar nog twee verskillende natuurboeke wat Klankleser®-gereed is. Jy kan met dieselfde Klankleser® verskillende boeke gebruik. Behalwe vir die voëlboek, is die volgende natuurboeke ook beskikbaar:

  • SOOGDIERGIDS VAN SUIDER-AFRIKA (ook in Engels beskikbaar)
  • JOU NATUURGIDS (ook in Engels beskikbaar)

In die SOOGDIERGIDS VAN SUIDER-AFRIKA kan jy na die geluide van ongeveer 60% van die mees algemene soogdiere luister.

Die boek bevat die verskillende soogdierspesies van Suider-Afrika en dit sluit ook agt van die meer volop seesoogdiere in. In JOU NATUURGIDS kan jy na die geluide van sommige soogdiere, voëls, paddas en ook ander diere luister. Die wetenskaplike name van diere en plante van Suider-Afrika verskyn ook in die boek.

BLINKTAND VAN BOSVELDPARADYS is ‘n kinderleesboek wat ‘n unieke lees- en leerervaring bied.

Alhoewel jy die boek soos ’n gewone storieboek kan lees, bied die Klankleser® ook die geleentheid om na die volledige verhaal in die boek luister. Dit is ’n storieboek, leesboek, luisterboek, leerboek, natuurboek asook ’n boek met sterk onderliggende opvoedkundige temas soos respek, eerlikheid, naasteliefde, nederigheid, leierskap, vasberadenheid, deursettingsvermoë, vergewensgesindheid en dankbaarheid. Die boek is ideaal vir selflees of voorlees – tuis en in die klaskamer. Aan die einde van elke hoofstuk is ’n lys van moeilike woorde en uitdrukkings wat woordeskatuitbreiding aanmoedig, asook ’n stel vrae wat die jong leser se kennis en begrip van dít wat gelees is toets. Aan die einde van die boek is ’n leersame afdeling met kleurfoto’s en beskrywings van die diersoorte en plante wat in die storie voorkom. Met die Klankleser® kan jy ook na die geluide van die diere luister.

Die nuutste publikasie is ‘n oudiovisuele woordeboek.

Wil jy graag ‘n ander amptelike taal leer? Die TALKING DICTIONARY is die eerste taalhulpmiddel van sy soort wat ontwerp is deur Briza Publikasies vir taalleerders in Suid-Afrika. Met die Klankleser® kies jy ‘n taal, en maak dan die boek se woorde, beelde en frases met klank lewendig. Met die TALKING DICTIONARY kan jy in SEWE Suid-Afrikaanse amptelike tale sien, hoor, en leer. Die volgende Suid-Afrikaanse tale is tans beskikbaar: Afrikaans, Engels, Sesotho, Sesotho sa Leboa, Setswana, isiXhosa en isiZulu. Die woordeboek het meer as 5000 woorde, meer as 2000 volkleur illustrasies wat oor 19 temas handel en meer as 200 van die mees algemene frases wat ons elke dag gebruik. Elke taal het sy eie woordelys, sodat jy nie net na die uitspraak van die taal kan luister nie, maar ook die spelling van die woord of frase kan sien. Die woordeboek maak vele deure oop vir tweede taalgebruikers en is ‘n groot hulpmiddel om woordeskat in ‘n nuwe taal uit te brei.

Die Klankleser® neem kinders op ‘n wonderlike ontdekkingstog. Kinders leer speel-speel, sonder dat dit vir hulle soos “leer” voel. Ouers en onderwysers kan met die Klankleser® die leerervaring vir die kind lekker en opwindend maak. Vir meer inligting kan jy Briza Publikasies se webblad besoek by www.briza.co.za

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Christo Reitz
  • Christo Reitz

3 Comments

  • Christo
    Ons klankleser van ons Sappi voëlboek het foutief geraak.
    Kan ek die klankleser apart te koop kry of iewers laat diens ??

    Dankie
    Elsa

  • Soos Christo hier bo verwys, het ons klankleser ook ophou funksioneer, dis seker die herlaaibare battery wat vervang moet word? Waar kan ek dit doen/laat doen?

  • Ons klankleser pen werk in die natuurgids boek maar nie in die soogdier gids nie wat doen ons verkeerd?

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui