Geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika

‘n Verhaal van sentralisasie en verval

Sedert die negentigerjare het die Suid-Afrikaanse regering stelselmatig ouers se beheer oor onderwys weggeneem en gesentraliseer in die hande van die staat, sonder veel weerstand. Dit lyk egter of voorgestelde wetswysigings aan die SA Skolewet in 2017 in kombinasie met ‘n pandemie veroorsaak het dat daar vir die eerste keer noemenswaardige weerstand opbou.

Geleidelike sentralisasie van mag weg van ouers

Een van die eerste dinge wat die regering na 1994 gedoen het, was om die beheer oor die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) weg te neem van ‘n statutêre liggaam onder beheer van die universiteite, en dit oor te dra aan die minister van Onderwys, deur Umalusi. Hierdie liggaam het gou nie slegs op die standaard van die NSS gefokus nie, maar ook begin om die inhoud voor te skryf. Sodoende het die NSS toenemend die doel van ideologiese indoktrinasie gedien.

Rondom 2002 het die destydse minister van onderwys, Kader Asmal, die nasionale kurrikulumversklaring (NKV) ingevoer. Hierdie verklaring skryf die kennis, vaardighede en waardes voor wat in Suid-Afrikaanse skole geleer moet word. Buiten die tuisonderwysbeweging wat ‘n veldtog geloods het teen die NKV, het weinig mense beswaar gemaak. Sommige Christene het bv. geargumenteer dat die NKV nie inbreuk maak op Godsdiensvryheid nie, aangesien dit breed genoeg is om die kurrikulum “Christelik in te vul.”

In 2008 word regulasies gepromulgeer oor die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS). Hierdie regulasies verander die matriek in ‘n 3-jaar kwalifikasie. In die verlede kon enigiemand teen ‘n koste van ongeveer R1000 ‘n eenmalige matriekeksamen gaan skryf en ‘n NSS  verwerf. Nou moet ‘n leerder deurlopende assessering doen en eksamens skryf vir 3 jaar om aan die einde daarvan ‘n NSS te verwerf. Hierdie regulasies het dit baie moeiliker gemaak vir iemand wat uit die skoolstelsel uitgeval het om ‘n NSS te verwerf. Dit forseer tuisskolers wat ‘n NSS will verwerf om ten minste vir 3 jaar die NKV te volg.

In 2011 voer minister Angie Motshekga die Kurrikulum- en Assessering-Beleidsverklaring (KABV) in. Dit skryf nie slegs voor wat geleer moet word nie, maar ook in die fynste besonderhede hoe dit gedoen moet word: hoeveel leerareas gevolg moet word, hoeveel tyd aan elke leerarea gespandeer word, hoe om te assesseer en hoe leerders bevorder word.

Publieke skole het darem nog die vryheid gehad het om te kies tussen uitgewers van skoolboeke wat voldoen aan die vereistes van KABV maar meer in lyn is met die etos van die skool. In 2012 is daardie vryheid ook weggeneem met die invoering van ‘n stelsel waardeur die aankope van skoolboeke in die nasionale departement van onderwys gesentraliseer is.

In 2014 aanvaar die DBO ‘n nuwe beleid waarvolgens privaatskole deur Umalusi gemonitor moet word. Hierdie beleid plaas ‘n addisionele administratiewe en finansiële las op privaatskole, en maak dit nog minder bekostigbaar vir ouers. Dit verseker ook dat privaatskole KABV noukeurig volg.

In hierdie tyd neem die Departement van Basiese Onderwys ‘n nuwe slagspreuk aan wat lui: “Every child is a national asset“. As kinders bates van die staat is, impliseer dit dat die staat die reg het om met kinders dieselfde te doen as wat hulle met ander bates doen soos PRASA, Eskom, SAA, SABC, munisipaliteite ens? Beteken dit dat die skoolstelsel in die eerste plek daar is om geleenthede vir kader-ontplooiing te skep, terwyl onderwys slegs ‘n bysaak is?

Bg. veranderinge is ingevoer sonder noemenswaardige weerstand deur die burgerlike samelewing. Soms was daar ‘n paar kritiese artikels in die media, maar verder was daar nie veel nie.

In 2017 publiseer die minister die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (“BELA Bill, of Basic Education Laws Amendment Bill) vir publieke kommentaar. Eerstens beoog hierdie wetsontwerp om die magte van skoolbeheerliggame in te perk, veral wat betref die aanstelling van personeel en toelatingsbeleid. Volgens Paul Colditz van FEDSAS gaan dit beheerliggame reduseer tot fondsinsamelingskomitees. Kaderkomitees sal die aanstelling van onderwysers bepaal. Tweedens beoog dit om tuisonderwys te transformeer tot ‘n onbekostigbare vorm van staatsonderwys tuis. Ouers word gereduseer tot onbetaalde werknemers van die staat wat bloot instruksies moet uitvoer.

Die draaipunt?

Met die publikasie van die wetsontwerp was daar vir die eerste keer noemenswaardige weerstand gebied. Die DBO is oorval met ‘n stortvloed van 5000 briewe. 1000 daarvan was van tuisskolers. Hierdie reaksie het ‘n onbeplande vertraging vir die promulgering van die wetsontwerp veroorsaak. Dit was nie moontlik om die wetsontwerp in te dien by die 5de parlement nie, en dit moes oorstaan na die 6de parlement.

Net toe die Minister weer op dreef kom om die wysigingswet voor te berei vir die parlement, word die land getref deur ‘n pandemie. Skole sluit vir maande en alle huisgesinne in Suid-Afrika ontvang ‘n voorsmakie van tuisonderwys. Daar word beraam dat die hoeveelheid tuisskolers verdubbel het oor daardie tyd.

Weens vrese vir die verspreiding van die virus, het die Minister gesukkel om die skole te heropen. As die Minister gesinne met gesondheidheidsrisikos nie kon aanbeveel het om tuisonderwys te doen nie, sou skole nie kon heropen het nie. Dit was dus die bestaan van ‘n gevestigde tuisonderwys-ekostelsel wat die skoolstelsel gered het. Lede in die parlement kon merk dat hierdie insident die houding van die Minister meer positief gemaak het oor tuisonderwys.

Skole het oor dekades toenemend die slagveld geword vir politieke struwelinge. Die insident in Nov. 2020, waar die EFF opgetrek het na die Hoërskool Brackenfell het geïllustreer dat skole die potensiaal het om ‘n kruitvat te wees vir die begin van ‘n burgeroorlog. Vir almal was dit duidelik dat skole nie slegs gevaarlik is om gesondheidsredes nie, maar ook weens die potensiaal vir politieke geweld. Dit is geartikuleer deur Adv Dali Mpofu van die EFF wat in die hof getuig het dat kinders nie beskerm behoort te word teen “cocooning them from stun grenades” nie. Terwyl die ANC kinders beskou as geleenthede tot kaderontplooiing, beskou die EFF kinders as kanonvoer vir ‘n politieke veldslag.

Hoe vorentoe?

Aangesien privaatskole oorwegend onbekostigbaar is, was model C-skole en tuisonderwys die belangrikste maniere om bekostigbare kwaliteit onderwys te kry. Dis juis hierdie twee vorme van onderwys wat in die visier is van die wysigingswetsontwerp.

Daar is tans geen formele verhouding tussen die groepe wat van hierdie onderwysvorme gebruik maak nie. Op sekere plekke is daar selfs antagonisme tussen ouers wat model C-skole gebruik en tuisskolers, aangesien die voortbestaan van sekere model C-skole bedreig word indien te veel ouers vir tuisonderwys kies.

Daar is egter goeie redes waarom dit belangrik is dat hierdie groepe saamwerk teen die wysigingswetsontwerp.

  1. As die twee groepe saamwerk, is daar ‘n groter kans dat die wetsontwerp gestop kan word. So iets sal in die belang van beide groepe wees.
  2. Ouers wat van skole gebruik maak, meen dat tuisonderwys ‘n plan B kan wees, soos wat dit was tydens die grendelstaat. As die wetsontwerp nie gestop word nie, gaan tuisskolers hulle plan A verloor, terwyl skoolouers hulle plan B verloor.
  3. As bekostigbare kwaliteitonderwys onmoontlik gemaak word deur die wetsontwerp, skep dit die fondament vir ‘n diktatoriale piesangrepubliek, wat in niemand se belang gaan wees nie, behalwe in dié van die heersende elite.
  4. In sommige opsigte is die doelwitte van die twee groepe dieselfde. Sommige ouers kies tuisonderwys omdat moedertaalonderrig vir hulle belangrik is, terwyl ander ‘n model C kies om dieselfde rede.

Sentralisasie het Suid-Afrika se onderwysstelsel getransformeer tot een van die slegstes ter wêreld. As verskillende groepe wat vryheid in die onderwys ondersteun, kan saamstaan, kan die tendens van toenemende sentralisasie omgekeer word. Die tyd is ryp vir ‘n onderwysbosberaad om ‘n nuwe regulatoriese raamwerk vir gedesentraliseerde onderwys te ontwikkel, waar besluitneming maksimaal na die laagste vlakke gedelegeer word.

 

5.00 avg. rating (93% score) - 1 vote
Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems en sy vrou Debbie het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys. Hy het ook ‘n aantal termyne gedien in die bestuur van die Vereniging vir Tuisonderwys en Cape Home Educators. In 2016 het hy voorsitter geword van die Pestalozzi Trust.
    In 2011 het hy en sy gesin die aanlyn platform SAHomeschoolers.Org gebou, met die doel om die beginpunt te wees vir almal wat belangstel in tuisonderwys en hulle deel te maak van die tuisonderwys ekostelsel. In 2013 het hulle in samewerking met KragDag begin om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
    Bouwe het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by the Universiteit van Stellenbosch verwerf en werk as ‘n stelsel argitek in die IT industrie. Hy speel ook die Franse Horing en is saam met sy kinders in die Bellville Hoër Simfoniese Blaasorkes. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslik inwonersverenigings.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui