Akwaponika: Laat die natuur jou goed groei
Lank voor die mensdom die eerste vurk in die grond gesteek, die eerste stukkie draad gespan en die eerste waterpomp ontwikkel het, het moeder-natuur al die kuns bemeester om goed te laat groei. Weens die mens se oorhaastige ywer om alles te beheer aan die een kant; en die noodsaak om risiko’s te bestuur ter wille van geldelike oorlewing aan die ander kant, het al hoe meer landbou-ontwikkeling plaasgevind om TEEN die natuur en nie SAAM met die natuur te boer nie.
Droogtes moet “oorwin” word, grond moet “gekondisioneer” word en plaagbestande kultivars moet “geneties gemanipuleer” word. Sonder al die ontwikkelings sou daar sekerlik nie genoeg kos vir al die biljoene mense gewees het nie – maar is dit die enigste manier? Kan ander maniere ook werk?
Met akwaponika word jy gedwing om ‘n tree terug te staan en die natuur kans te gee om goed te laat groei. Dit is die grootste vreugde en ook die grootste uitdaging van akwaponika.
Colin Bremner van Kleinskuur Aquaponics sê: “Ons mans is mos geneig om die geweer uit te pluk om ‘n probleem op te los en hoe groter die probleem, hoe groter moet die geweer wees!”
As jy in ‘n akwaponiese stelsel lostrek met ‘n masjiengeweer vol insekdoders, swambevegters, pH-beheerders en kitsgroei-chemikalieë gaan jy gou visbegrafnis hou en dan stelselbegrafnis. Akwaponika werk op sy beste as jy die natuur ‘n kans gee om sy balans te herstel en behou.
Natuurlik bly akwaponika ‘n mensgemaakte stelsel, maar die ideaal is om die natuurlike prosesse so ver as moontlik na te boots.
En die wonderlikste verskynsel is dat die stelsel op sy beurt jou sal beloon met die heerlikste, gesondste produkte met meer voedingswaarde as in enige ander verbouingsmetode.
Mense vra gereeld wat maak akwaponika dan anders as hidroponika of as jy na visboerdery kyk, wat is die verskil tussen akwaponika en tradisionele akwakultuur?
Die hoofverskil is dat daar meer natuurlike prosesse in akwaponika plaasvind.
Hier is ‘n opsomming van die verskille:
Die ander vraag is wat is dan die verskil tussen akwaponika en ‘n akwakultuurstelsel waarin net vis aangehou word. Die vernaamste verskil hier is ook die gebruik van meer natuurlike prosesse. In die natuur kom visse in riviere en damme voor wat voortdurend aangevul word met skoon reënwater of afvloeiwater en daar is ook baie ander vorme van lewe in die water. Tradisionele visboerdery in ‘n geslote stelsel moet hulle stelsels laat werk sonder die natuur se balans. In akwaponika gee ons die natuur ‘n kans.
Hier is ‘n opsomming van die verskille:
Opsomming van die voordele van akwaponika
Akwaponika gebruik 90% minder water om groente te verbou as in die grond en in tradisionele hidroponika.
Akwaponika gebruik ook 90% minder water om visse te laat groei as in tradionele akwakultuur in geslote stelsels.
Geen water word ooit weggegooi of vermors nie.
Akwaponiese stelsels is intensief met hoë produksie in ‘n klein area.
Dit is nie nodig om vrugbare grond te gebruik nie, dit kan op enige plek opgerig word, ook naby die markte.
Vis en groente word verkoop vir meer inkomste.
Minder insette word benodig, omdat die viskos nie net die vis laat groei nie, maar ook die plante.
Geen skadelike chemiese middels kan gebruik word nie, wat beteken die kos is beter as organies!
Bronne:
- https://hydrotower.org/2018/06/24/why-aquaponics
- http://pediaa.com/difference-between-hydroponcs-and-aquaponics/
- Kleinskuur Aquaponics Training Manual; Introduction to Aquaponics, 2017, CD Bremner & A Bremner.
Kleinskuur Aquaponics bied op 31 Julie by Galagos Country Estate net oos van Pretoria ‘n eendagkursus aan. Klik HIER vir meer besonderhede en om jou kaartjie aanlyn te koop.