Fokus op Elsabé Ebersohn, ’n ontwerper en illustreerder
Dit was vir my ’n voorreg om met Elsabé Ebersohn te gesels oor die dienste en produkte wat sy aanbied. Elsabé, ’n ingenieur van beroep, is ’n spontane, lewenslustige en kreatiewe persoon wat haar vryskut, maar heelhartig, toespits op ontwerp en illustrasie.
Sy glo daarin om ’n projek aan te pak met die kliënt se spesifieke behoeftes voorop in haar gedagtes. Daarom is dit vir haar belangrik om met haar kliënte te vergader, hetsy virtueel of in persoon sodat hulle “mekaar in die oë kan kyk”. Sy wil graag die rede of motivering agter die kliënt se opdrag goed verstaan, want dikwels is daar ’n baie spesiale storie daaragter en wil sy dit eer en in haar ontwerpe na vore bring. Die kliënt moet saam met haar eienaarskap neem van ’n projek; sy verwelkom dus ’n kliënt se voor- en afkeure en deel graag ook háár insette en voorstelle. Kommunikasie is hoog op haar lys. Sy beklemtoon altyd die waarde van kreatiwiteit en dat dit mens toelaat om in beeld te sê waar woorde dikwels ontbreek.
Elsabé is getroud met Gerhard, ook ’n ingenieur van beroep, en hulle het twee seuns, Gerhard en Christiaan. Hulle woon naby Pretoria op ’n lieflike kleinhoewe wat sy as ’n dieretuin in die kleine beskryf. Die Ebersohns glo aan selfdoen, Hulle is goed ingerig met ’n organiese groentetuin, boorgatwater en sonkragpanele en werk daartoe om geheel en al selfstandig van die Eskom-netwerk te funksioneer. Hulle is ’n aktiewe gesin wat baie lief is vir die buitelug en onderneem graag staptogte. Diere lê die gesin veral na aan die hart. Hulle hou graag vakansie in Nature’s Valley waar die natuurprag Elsabé inspireer om kreatief te wees. Haar liefde vir die skepping, veral die klein goggatjies en diertjies kan gesien word in haar fynkunsontwerpe. Sy stap graag in die berge en op veldpaadjies en het onlangs die Otter African Trail Run kafgedraf.
Elsabé is besonder lief vir ontwerp- en illustreerwerk. Haar grootste passie is om kinderboeke te illustreer. Sy het al kinderboeke vir plaaslike en internasionale skrywers geïllusteer. Die nuutste kinderboek waaraan sy gewerk het, is die spelterapeut, Jacolene du Plooy, se Karimpel en Kadot wat pas deur Naledi gepubliseer is. Nóg ’n onlangse boek, Truly Grateful deur Amanda Wilson, is op Amazon te koop. Sy het verskeie kursusse in die illustreer van kinderboeke gedoen en geniet die uitdaging om visueel lewe te gee aan ’n skrywer se woorde. Vir haar is die voorlees van kinderboeke ’n intieme ervaring wat ouers en kinders deel en broodnodige gesprekvoering stimuleer. Die teks vertel die storie en gryp kinders se verbeelding aan, maar dis die illustrasies wat hulle op ’n magiese wyse wegvoer na ’n fantasiewêreld. Sy glo dat kinders met die illustrasies moet identifiseer en let dus fyn op veral karakterontwikkeling. Elke faset van kinderboekontwerp fassineer haar, so sy doen nie nét die vooraf beplanning en uitleg om te sien waar en hoe die teks en illustrasies by mekaar inskakel nie, maar help graag ook met die finale boekuitleg sou die kliënt dit verkies.
Haar troeteldierportrette trek ook baie aandag. ’n Kalender met 13 portrette van honde wat sy onlangs geïllustreer het vir DogTown SA, ’n skuiling en rehabilitasiesentrum vir honde, het geweldig goed verkoop en die terugvoer was besonder positief. Sy het ook al illustrasies gedoen vir BirdLife SA van onder meer die sekretarisvoël asook vir ’n groep (INSAB – Indigenous Names for South African Birds) wat hulle toespits op die vertaling van inheemse voëlname. Verder het sy ook al Wollies Animal Shelter, ’n skuiling vir katte en honde, se sesde Sleepathon ondersteun met haar ontwerpe wat op koffiebekers aangebring is. Dan het sy ook al vir African Style House patrone ontwerp vir die materiaal vir die gewilde Styled in the Kalahari–reeks. Verder doen sy ontwerpe van karakters (mascots) wat op kepse, klerasie, sertifikate, plakkers, ens. aangebring kan word. Sy het goeie ondervinding in tekstielontwerp en ook produkontwerp. Haar patroonontwerpe kan bv. op materiaal, bokse of geskenkpapier gedruk word. Sy hou baie daarvan om die natuur uit te beeld in haar ontwerpe en illustrasies, veral plante, blomme en diere.
Elsabé werk graag met waterverf op die tradisionele manier, maar sy gebruik ook pen en pastelpotlode. Sy doen ook digitale illustrasies vir kliënte wat graag haar werk per e-pos oorsee wil stuur na vriende en familie. Haar eie produkreeks waarop haar ontwerpe pryk is gewild en kan op haar webtuiste gesien word, maar voornemende kopers is welkom om haar te kontak vir foto’s en beskrywings. Ek het van hierdie produkte wat haar ontwerpe op het onder oë gehad en is beïndruk met die detail en sorg wat in elke kwaliteit item ingaan. Daar is bv. ’n handige waterbottel wat met twee verskillende proppe, ’n sportbottelprop en ’n skroefprop, spog. Ook is daar onder meer notaboeke, drasakke, keramiekteëltjies en sleutelhouers waarop haar ontwerpe tog te spoggerig vertoon. Ek hou baie van die koffiebekers wat mikrogolf- en skottelgoedwasserbestand is en in twee style kom. Geskenkwinkels, stalletjiehouers, tuisnywerhede en entrepreneurs is welkom om haar produkreeks te verkoop of om haar te nader om ontwerpe en illustrasies vir hulle te doen.
Hierdie veelsydige en talentvolle ontwerper en illustreerder is beskikbaar sou voornemende kliënte haar wou kontak om hulle behoeftes met haar te bespreek. Sy kan help om ’n vae idee tot ’n spogontwerp te groei. Dit maak nie saak of u haar in u persoonlike hoedanigheid kontak om vir u ontwerpe en illustrasies te doen en of u haar namens ’n maatskappy kontak nie. Sy doen graag ontwerpe wat uniek tot haar kliënte se voorgestelde temas of behoeftes is en waarop hulle graag eksklusiewe verbruiksreg wil bekom. Kliënte is welkom om met haar te gesels oor die lisensiëring en gebruiksreg van haar ontwerpe en illustrasies.
Sy hou ook daarvan om handelsnaam- en embleemontwerpe te doen. Besighede kan haar gerus kontak oor korporatiewe geskenke wat uniek en anders is, maar tog bruikbaar en funksioneel. Sy is altyd bereid om haar kliënte van diens te wees en oorweeg graag uitdagings om kreatief te wees. Sy het kontakte met drukkers en kan dus ’n voltooide produk verskaf of net die ontwerpe en illustrasies lewer.
Ek het onlangs saam met Elsabé gewerk toe sy Karimpel en Kadot se illustrasies gedoen het. Ek kan haar met volle vertroue aanbeveel. Sy is vriendelik, professioneel en stiptelik. Haar insette is uiters waardevol en haar passie en ywer aansteeklik. Dis inspirerend om te sien hoe sy haar talent tot eer van God aanwend en ook daarmee woeker om ’n inkomste daaruit te verdien. Moenie huiwer om haar te kontak indien u ontwerpe of illustrasies gedoen wil hê nie.
Bestel Karimpel en Kadot by tertia@naledi.co.za of hier.
Bestel Truly Grateful hier.